Oscar-benoemde akteur (83) sterf

Ned Beatty en sy vrou, Sandra Johnson, in 2007. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images North America/AFP)

Ned Beatty, die Oscar-benoemde akteur bekend vir sy rolle in flieks soos Network, Superman en Toy Story 3, het Sondag in die ouderdom van 83 gesterf.

“Ned het Sondagoggend aan natuurlike oorsake gesterf, omring deur familie en geliefdes,” het Deborah Miller, talentbestuurder by Shelter Entertainment Group, gesê.

“Ned was ʼn ikoniese, legendariese talent en ʼn liewe vriend. Hy sal deur ons almal gemis word.”

Die Kentucky-boorling het in 1972 sy grootskermdebuut gemaak in die fliek Deliverance. Dié fliek, waarin hy aandag getrek het met ʼn vernederende verkragtingstoneel, het sy loopbaan begin. Hy het tot in 2013 toneel gespeel.

Ander produksies op sy lang kredietlys sluit in Superman, All the president’s men en die bekroonde televisiereeks Homicide: Life on the street.

Jonger fliekaanhangers sal hom onthou vir sy rol as die dreigende teddiebeer Lotso in Toy Story 3, wat as beste rolprent benoem is by die Oscar-toekenningsgeleentheid.

Lee Unkrich, regisseur van die rolprent, het in ʼn inskrywing op Twitter gesê dit “was ʼn vreugde en ʼn ongelooflike eer om saam met hom [Beatty] te werk”.

“Dankie, Ned, dat jy Lotso lewe gegee het – sy goeie kant én sy nie-so-goeie kant. Ons sal jou mis,” het hy bygevoeg.

Dit was Beatty se rol in Network wat hom sy eerste Oscar-benoeming besorg het vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol.

Alex Winter, wat in die Bill & Ted-rolprente gespeel het, het Beatty “een van die grotes” genoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.