Oud Mev. SA se ‘vegtertjie’ steeds kankervry

Klein Mark (Foto: Facebook)

Die bekende radio-omroeper Darren Scott en sy eks-vrou, die oud Mev. SA Sarah-Kate Seaward, se seuntjie vier vandeesweek vyf jaar sedert hy sy laaste chemoterapie-behandeling ontvang het.

In Maart 2012 is nierkanker by Mark gediagnoseer toe hy net 16 maande oud was. Seaward het in ʼn Facebook-inskrywing gesê sy onthou steeds die oomblik vyf jaar gelede toe hy skoon van kanker verklaar is.

“Markie, ek is liewer vir jou as enigiets in die hele wye wêreld. Daar gaan nie ʼn dag verby dat ek nie onthou watter pad ons saam gestap het nie. Jy is die sterkste, braafste en oulikste seuntjie wat ek ken. Daar is niks wat ek nié vir jou sal doen nie.

“Jou naam beteken ‘vegtertjie’ en jy het werklik baklei [teen die kanker] daardie jaar, my dierbare seun. Ek kon nie meer trots op jou gewees het nie, selfs al het ek probeer. Jy besef nie watter inspirasie jy vir só baie mense is nie. My held noem my ma,” het Seaward op Facebook geskryf.

Scott het ook ʼn slegte geskiedenis met kanker. Die radio-omroeper het in 2015 ʼn tweede stryd teen kanker geveg. Enkele maande voor hy dié aankondiging gemaak het, het die egpaar se jongste seuntjie, Matthew, byna verdrink.

Scott en Seaward is in 2015 geskei ná ʼn verhouding van 12 jaar waarvan hulle ses jaar getroud was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gesiggie ·

Mag Jesus die pad saam jul stap elke dag… en aan jul en klein Mark net die mooiste en beste in die lewe gee… n Ware vegtertjie…so bly om te verneem dat jy so mooi herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.