Ouerskap ‘heilige ervaring, grootste voorreg’, vertel Melinda

Melinda Bam en Adriaan Bergh is die trotse ouers van klein Ruach Michel Bergh. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

“Dit was by verre een van die heiligste ervarings wat ons in ons lewens gehad het en is getuienis van God se heerlikheid en genade in ‘n ongekende oorweldigende golf.”

Só beskryf die glanspaartjie Melinda Bam en Adriaan Bergh, albei voormalige Mnr. en Mej. Suid-Afrika, die geboorte van hul klein ‘wonderwerkie’, Ruach Michal Bergh, wat op 10 Maart vanjaar sy opwagting gemaak het.

“Ons het so lank gedroom oor hierdie tyd. Ek en Adriaan vang onsself gereeld na sy blou ogies staar, waar ons eie oë sommer opswel van emosies en die diep liefde, bewondering en voorreg wat ons ervaar,” vertel sy aan Maroela Media.

Die egpaar het Oktober verlede jaar die nuus dat hulle ouers gaan word op sosiale media gedeel met ʼn reeks pragfoto’s waarin hulle met hul kleinding se sonarfoto’s spog.

Hulle het in 2019 reeds besluit om hul gesin uit te brei, maar vertel dat hulle verskeie struikelblokke op hul swangerskapreis gehad het voordat ʼn fertiliteitspesialis se sorgsame benadering dinge vir hulle omgekeer het.

Daarom het hulle besluit om die nuus oor baba Ruach se geboorte vir eers net met nabye familie en vriende te deel.

“Die lewe se pas is so vinnig en tegnologie en sosiale media kan soveel in ʼn mens se lewe in besit neem. Dit was vir ons belangrik om hom deur ons eie oë en nie deur ʼn skerm te beleef nie. Die tyd het gevoel of dit stil staan sonder enige onderbrekings en afleidings want ons was in ʼn kokonnetjie en niks anders het saak gemaak nie,” sê Melinda.

Haar ma, Wanda, wat ook ʼn omroeper by 729 Kaapse Kansel is, het ook in die begin ʼn helpende hand bygesit.

Melinda en baba Ruach. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

“My ma het vir ʼn week by ons kom bly, wat vir my so kosbaar was omdat mamma-wees net bietjie minder intimiderend voel as jou eie ma vir jou die klein goedjies wys en ʼn drukkie gee om jou te verseker dat jy goed doen.”

Volgens Melinda was die twee families se viering van klein Ruach se koms gelykstaande aan die vreugde wat die egpaar op hul troudag ervaar het.

“Ons families het so saam met ons gebid vir die lyfie, so, om die vervulling van God se belofte en die antwoord op ons almal se gebede met hulle te gedeel het, was die grootste viering en bron van vreugde in ons familie. Ons kan nie wag dat Ruach kan begryp hoeveel liefde hy van al sy familie het nie.”

Volgens Melinda is Ruach sy pa se ewebeeld. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

Gegewe hul swangerskapreis kies dié nuwe ouerpaar om die mooi in elke ervaring te sien. “Alles is lekker, elke staar, sus, klein suggie, voedtyd. Selfs doekeruil,” skerts Melinda.

Dié glanspaartjie sê ouerskap is ‘n voorreg. (Foto: Mandy Stander/Verskaf)

Klein Ruach is ook volgens haar ʼn spieëlbeeld van sy “pappabeer”.

“Hy is uit en uit ʼn klein baba Bergh. My ma spot skoon en vra of ek ooit deel van die hele proses was. Hy het darem my oortjies gekry, maar verder kan hy nie vir my meer handsome wees nie,” vertel dié nuwe mamma breëbors.

Die verantwoordelikhede wat ouerskap inhou is ook nie iets wat sy en Adrian ligtelik opneem nie.

“Om ten volle vir die welstand, ontwikkeling, geluk en sekuriteit van so klein, brose lyfie verantwoordelik te wees, is soms oorweldigend. Die wete dat die Here ons toegerus en vertrou het om Ruach volgens sy wil groot te kan maak, is seker die grootste voorreg wat ons al ooit gegun is.”

Tog erken Melinda dat dit met tye steeds vir haar en Adriaan onwerklik is dat hulle uiteindelik hierdie nuwe reis begin het.

“Ons het ‘n wonderwerk ervaar en beskou onsself as die geseëndste mense om Ruach ons seuntjie te kan noem. Ons lewens gaan nooit weer dieselfde wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Althes ·

Baie geluk! Julle is ñ pragtige egpaar wat baie geseën is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.