Pamela Anderson gee wéér die jawoord

Pamela Anderson tydens die “Diner de la Mode” mode-ete by die Pavillon d’Armenonville in Parys, Frankryk in 2019. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Pamela Anderson, die smeulende aktrise wat sedert haar Baywatch-dae die wêreld aan die gons het met haar onstuimige liefdeslewe, is in Desember vir die vyfde keer getroud.

Volgens berigte is sy en haar lyfwag, Dan Hayhurst, op Oukersaand by haar huis op die Vancouver-eiland in Kanada in die eg verbind. Die egpaar het glo verlief geraak terwyl hulle saam in isolasie was weens die Covid-19-pandemie.

Hayhurst was ʼn bouer voordat hy aan die begin van 2020 as haar lyfwag begin werk het en die twee is sedertdien onafskeidbaar.

The Daily Mail berig Anderson het in ʼn onderhoud met DailyMailTV gesê sy is “presies waar ek behoort te wees – in die arms van ʼn man wat lief is vir my”.

Sy het ook troufoto’s met die nuuskanaal gedeel, waarin sy stralend in ʼn goudkleurige rok in ʼn Middeleeuse styl, ʼn lang, wit sluier en Hunter-reënstewels in Hayhurst se arms poseer. Hy het ʼn gemaklike kraaghemp, langbroek en tekkies gedra.

Pamela Anderson op ‘n Vivienne Westwood-modeskou in 2019. (Foto: Vianney Le Caer/Invision/AP)

Daar was geen familie en vriende teenwoordig by die seremonie nie en die plaaslike pastoor het die huweliksbevestiging gelei. Die paartjie het glo tradisionele troubeloftes voorgelees.

“Ek is getroud op die eiendom wat ek 25 jaar gelede by my grootouers gekoop het; dit is waar my ouers ook getroud is en hulle is steeds saam. Ek voel asof ek die sirkel voltooi,” het Anderson aan The Daily Mail gesê.

Anderson (53) was voorheen getroud met die Mötley Crüe-rocker Tommy Lee en hulle het twee seuns, Brandon en Dylan. Sy was ook met die sanger Kid Rock getroud en het twee keer met die pokerspeler Rick Salomon afgehaak.

In Februarie verlede jaar het verskeie nuusbronne berig dat Anderson en die rolprentvervaardiger Jon Peters op 20 Januarie tydens ʼn privaat seremonie in Malibu, Kalifornië, in die VSA getroud is en dat hulle huweliksbootjie ná net 12 dae gesink het.

“Ek is geraak deur die hartlike ontvangs van my en Jon se eenheid,” het sy destyds in ʼn verklaring aan CNN gesê.

Volgens People het sy egter in September verlede jaar haar deuntjie verander en gesê sy en Peters was “nooit wettig getroud nie”.

“Pamela Anderson was nooit wettig getroud met Jon Peters nie,” het ʼn verklaring op die aktrise se Twitter-profiel gelui en bygevoeg dat Peters ʼn “lewenslange familievriend” is.

“Geen kwade gevoelens nie – geen troue, geen egskeiding nie … net ʼn bisarre, teatrale middagete,” het die verklaring verder gelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snowball ·

Hollywood maak ‘n bespotting van alles wat ‘n huwelik veronderstel is om te wees. Moet mens nou dié karikatuur gelukwens met slagoffer nr 5?

ES ·

Hollywood, waar jou verhoudings elke paar jaar moet roteer, net sodat jy soos ‘n gewone mens kan voel…

Terloops, ou Pamela lyk BAIE goed vir 53.

Sonneblomkind ·

Ai tog. N huwelik is n hollywood soos wanneer jy shokolade eet en die papiertjies wegooi. Plastiek mensies

Andréas ·

Ai tog, ‘n Bekende SA prediker het voorheen dié raad gegee… “Sir, Madam before blaming your ‘ex’ after you have been married numerous times, stop a moment to think, maybe the ‘real problem’ is me”

Helizna ·

Pam het Facebook en Twitter vaarwel geroep oor hulle “control issues” en dis vir my meer relevante nuus as haar liefdeslewe. Sy het beginsels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.