Pamela en nuwe man skei ná 12 dae

Die Hollywood-vervaardiger Jon Peters en die 52-jarige aktrise, Pamela Anderson, is 12 dae ná hul troue uitmekaar. (Foto: AP Photo)

Pamela Anderson en haar nuwe man, die rolprentvervaardiger Jon Peters, se huweliksbootjie het ná 12 dae gesink.

Volgens berigte het die paartjie, wat op 20 Januarie tydens ʼn privaat seremonie in Malibu, Kalifornië in die VSA getroud is, nog nie die dokumente ingedien om hul huweliksertifikaat te laat uitreik nie.

“Ek is geraak deur die hartlike ontvangs van my en Jon se eenheid,” het Anderson in ʼn verklaring aan CNN gesê.

Die 52-jarige Baywatch-aktrise en Peters (74) het mekaar glo reeds in die tagtigerjare by die Playboy Mansion ontmoet, maar het eers onlangs begin uitgaan. Albei is voorheen vier keer getroud.

“Ons sal dankbaar wees vir jul ondersteuning terwyl ons tyd apart spandeer om te herevalueer wat ons van die lewe en mekaar wil hê,” het Anderson bygevoeg.

Pamela Anderson verlede jaar by die bekendstelling van ontwerper Vivienne Westwood se ‘Ready To Wear’ Lente-Somer 2020-klerereeks by die Modeweek in Parys. (Foto: Vianney Le Caer/Invision/AP)

“Die lewe is ʼn reis en die liefde is ʼn proses. Met daardie universele waarheid in gedagte, het ons gesamentlik besluit om die formalisering van ons huweliksertifikaat uit te stel en ons geloof in die proses te plaas.”

Anderson was voorheen getroud met die rocker Tommy Lee en hulle het twee seuns, Brandon en Dylan. Sy was ook met die sanger Kid Rock getroud en het twee keer met die pokerspeler Rick Salomon afgehaak.

Peters is die vervaardiger van verskeie bekende rolprente, soos die 1976-weergawe van A Star is Born met Barbra Streisand in die hoofrol. Peters en Streisand was ook in ʼn langtermynverhouding. Peters het ook die 2018-weergawe van dié fliek, met Lady Gaga en Bradley Cooper, vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Porseleintjie ·

Nog n mockery van n heilige instelling. Waarom is dit nuuswaardig?

Niné ·

Dankie Maroela! Ek geniet nogal die skinder brokkies van die sterre. Maak weer so, asseblief.

Niklaas ·

Die jare stap aan , sien ek. Almal van ons begin na 50 maar oes lyk , maar sy is nog heel gangbaar , eintlik. Daar in hul kringe is bitter min ontsag vir die huwelik as instelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.