‘People’ se inspirerendste bekende aangewys

Jennifer Garner op People se voorblad (Foto: People Magazine)

People Magazine wys jaarliks ʼn inspirerende bekende aan wat op die voorblad van sy “Beautiful”-uitgawe pronk.

Vanjaar spog die aktrise Jennifer Garner met dié titel.

Garner (47) is ʼn bekende Amerikaanse aktrise wat al in films soos 13 going on 30, Elektra en Alias te sien was. Sy het ook haar eie organiese babakos-onderneming genaamd Once Upon a Farm en sy is ʼn ambassadeur vir die liefdadigheidsorganisasie Save the Children.

Buiten dat sy boonop beeldskoon is, is sy ook ʼn ma van drie kinders, Violet (13), Seraphina (10) en Samuel (7), wat sy saam met haar eksman en akteur Ben Affleck gehad het.

Garner en Affleck het in Junie 2015 aangekondig dat hulle gaan skei. Hul egskeiding is in Oktober verlede jaar afgehandel nadat hulle vir 13 jaar getroud was.

“Ek begin op ʼn punt kom waar ek agterkom dat hierdie werk [as ma] nie vir altyd gaan hou nie,” het Garner aan People Magazine gesê.

Jennifer Garner (Foto: Instagram via @jennifer.garner)

“Nie in die alomvattende wyse van elke maaltyd, elke oomblik en elke dag wat ek vir die laaste 13 jaar geniet het nie. Dit gaan verander. Maar daar is skoonheid in hoe die episodes verander,” het sy gesê.

Op die voorblad van die “Beautiful”-uitgawe sit Garner gemaklik in die buitelug op ʼn enjinkap van ʼn motor. Sy dra ʼn vloeiende rok en hoë stewels terwyl sy vriendelik vir die kamera kyk met haar kenmerkende dubbel-kuiltjie glimlag.

Garner het aan People vertel dat sy nie een van die “mooi meisies” was in haar grootwordjare nie.

“Ek het myself nie as mooi gesien nie. Dit was net nie ʼn deel van my lewe nie,” het sy gesê.

Sy het gesê sy het steeds goed oor haarself gevoel, al was sy nie een van die mooi meisies nie, omdat haar familie haar voete plat op die aarde gehou het.

“Om mooi te wees was nooit ʼn groot ding in my familie nie. Ek dink nie my ouers het ooit vir my gesê: ‘Jy is mooi’ nie. So ons het net nooit aandag daaraan gegee nie.”

Garner het gesê sy voel die gemaklikste wanneer sy ʼn jean, trui en tekkies aan het, of anders wanneer sy die hele dag lank in haar geliefkoosde oefenklere kan bly.

Garner vertel wanneer sy terugkom van ʼn groot glansryke fotosessie voel sy baie goed oor haarself omdat haar grimering en hare perfek gedoen is. Maar dat haar kinders haar dan weer gemaklik in haar eie vel laat voel.

“Hulle sal op kyk na my en sê: ‘Kan jy asseblief jou gesig was?’, ‘Kan jy jou hare in ʼn poniestert sit?’, ‘Kan jy jou bril opsit en jou sweetpak aantrek?’.

“En ek sien dit as ʼn groot kompliment. Hulle wil net hê ek moet soos hul ma lyk,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Valerie ·

En om te dink “People” is een van die swakste pseudo-tydskrifte ooit. Huisgenoot gehalte.

Anoniem ·

Ha ha! Stem saam. Dis nie ‘n pseudo tydskrif nie, maar sensasie soekende tydskryf met walglike artikels in. Huisgenoot ook vreeslik liberaal geraak die afgelope paar jare – koop dit glad nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.