People’s Choice-pryse: Publiek kies weer hul gunstelingsterre

Dwayne ‘The Rock’ Johnson neem foto’s saam met aanhangers met sy aankoms by die 47ste jaarlikse People’s Choice-toekennings by die Barker Hangar in Santa Monica, Kalifornië. (Foto: Lisa O’Connor/AFP)

Die Barker Hangar in Santa Monica, Kalifornië, was Dinsdagaand weer die bymekaarkomplek vir die wêreld se gewildste sterre tydens die 47ste jaarlikse People’s Choice-toekennings.

Die seremonie is aangebied deur die komediant en akteur Kenan Thompson, bekend vir sy rol in die Nickelodeon-reeks Kenan and Kel.

Rolprent-, televisie-, en musieksterre asook atlete, sosialemediasterre en komediante is in 40 verskillende kategorieë by dié glansgeleentheid vereer.

Die People’s Choice-toekennings is die enigste toekenningsgeleentheid waar die publiek die wenners bepaal. Aanhangers kon op die toekennings se webwerf vir hulle gunstelinge van 2021 stem.

Die toppryse vir die aand is toegeken aan die aktrise Halle Berry, wat as die Icon of 2021 aangewys is, terwyl Dwayne “The Rock” Johnson die People’s Champion-toekenning gewen het. Kim Kardashian is met die Fashion Icon-toekenning vereer en Christina Aguilera is met die prys vir Music Icon huis toe.

Black Widow is aangewys as fliek van die jaar en Scarlett Johansson, wat die hoofrol in dié Marvel-fliek vertolk, is aangewys as vrouerolprentster van die jaar.

Dwayne “The Rock” Johnson is as mansrolprentster van die jaar en komediester van die jaar vir die fliek Jungle Cruise aangewys.

Free Guy, met Ryan Reynolds, Jodie Comer en Taika Waititi, is aangewys as komedierolprent van die jaar.

Halle Berry tydens die People’s Choice-toekennings in Santa Monica, Kalifornië. Sy het die Icon of 2021-prys gewen. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Shang-Chi and the Legend of the Ten Rings is as aksierolprent van die jaar gekies en Cruella, met Emma Stone in die hoofrol as Cruella de Ville, is as dramarolprent van die jaar aangewys. Die animasiefliek Luca is as die gesinsrolprent van die jaar gekies.

Grey’s Anatomy is as dramareeks van die jaar gekies en Ellen Pompeo, wat die rol van Meredith Grey in dié reeks vertolk, is aangewys as vrouetelevisiester van die jaar.

Keeping up with the Kardashians is as werklikheidsreeks van die jaar aangewys. Khloé Kardashian is as werklikheidster van die jaar gekies.

Die omstrede Suid-Koreaanse reeks Squid Game is as die vraatkykreeks van die jaar gekies.

Op die musiekfront is Lil Nas X as mansmusiekster van die jaar gekies, terwyl Adele as vrouemusiekster van die jaar aangewys is.

Die Koreaanse musiekgroep BTS se liedjie “Butter” is as liedjie van die jaar aangewys en die jong ster Olivia Rodrigo se debuutalbum Sour is as album van die jaar gekies. Rodrigo is ook as nuweling van die jaar verkies.

Die popster Britney Spears, wat vanjaar gereeld die nuusopskrifte gehaal het, is as sosiale ster van die jaar gekies.

Die gewilde televisiereeks Friends se reünieprogram, wat in Mei vanjaar uitgesaai is, is as Pop Special van die jaar aangewys.

Simone Biles, die Olimpiese gimnas wat vanjaar opslae gemaak het toe sy haar aan die finale rondes van die Spele onttrek het, het die Game Changer-toekenning gekry.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

Bron: E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Windhond ·

Ai toggie, wat kan mens se………………..as jy nie goeie ding kan se nie bly maar eerder stil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.