Pienkvoet vir ‘Getroud met rugby’-paar

Christel van den Bergh en David Louw het op 27 Maart ‘n babaseuntjie ryker geword. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

Die akteurspaar Christel van den Bergh en David Louw, onderskeidelik bekend vir hulle rolle as die paartjie Simon en Renate Greeff in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het einde Maart ʼn pienkvoet ryker geword.

Die babaseuntjie, wie se naam nog nie bekend is nie, is op 27 Maart gebore. Van den Bergh het dié nuus Maandag op haar Instagram-profiel bevestig.

“So aan die einde van hierdie goeie Paasnaweek, wil ek en @louwdavid graag baie goeie nuus deel [sic]. Ons mooiste babatjie is op 27 Maart 2021 gebore. Die afgelope paar maande was baie spesiaal en ons wou dit graag privaat hou, maar noudat ons klein wonderwerkie hier is, kan ons nie anders as om dit te wil uitbasuin aan die wêreld nie,” het sy geskryf.

“Ek voel soos ʼn ander mens. Asof ek uiteindelik tuis is, kalm, rustig en voorwaar gelukkig.”

Van den Bergh en Louw speel al ʼn geruime tyd ʼn egpaar, wat geskei en weer bymekaargekom het, in die sepie. Die swangerskap is deel van die storielyn gemaak.

Van den Bergh en Louw het vroeër vanjaar bevestig dat hulle ook ʼn paartjie in die werklikheid is.

Die span van die sepie het ook die paartjie op sosiale media gelukgewens met hulle nuwe bondeltjie.

“Baie geluk, David Louw en Christel van den Bergh, met die geboorte van julle babaseuntjie! Mag hy julle lewens met baie vreugde en liefde vul. Ons weet julle gaan wonderlike ouers wees!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Racheltjie Debeer ·

Baie geluk! Mag jul seun jul net vreugde besorg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.