Prins Harry en Meghan dalk na Afrika vir wittebrood

(Foto: Twitter/Alexi Lubomirski/Kensington-paleis)

Die internet is aan die gons oor waar prins Harry en Meghan Markle se wittebrood gaan plaasvind ná die huweliksbevestiging in Mei vanjaar.

Prins Harry (33) en Markle (36), veral bekend vir haar rol in die televisiedrama Suits, het einde November verlede jaar hul verlowing amptelik bekend gemaak en gaan op 19 Mei in Windsor, wes van Londen, trou.

Volgens Express UK gaan die koninklike paartjie glo hul wittebrood by ’n luukse Natural Selection-lodge in Namibië deurbring, wat hulle sowat £500 (R8 000) per nag uit die sak sal jaag.

Dit kom te midde van bespiegeling dat prins Harry en Meghan direk ná die troue na Ierland sal gaan vir ’n “mini-wittebrood” waar hulle ’n rits verpligtinge oor twee dae moet uitvoer. Daarna word daar verwag dat hulle na Namibië sal reis.

“’n Bron na aan die paartjie het gesê hulle word aangeraai om by verskeie lodges tuis te gaan, sodat mense nie kan vasstel waar presies hulle is of wat hulle doen nie,” het Express UK geskryf.

Een van die lodge-groep, Natural Selection, se nuutste trekpleisters is die Hoanib Valley Camp. Dié lodge is ’n vier uur lange motorrit van die naaste dorp af. Dié lodge is nog in aanbou, maar sal na verwagting in Mei voltooi wees.

Daar word berig dat die paartjie juis na dié Afrikaland wil gaan vir hul wittebrood om die kameras en mense wat hulle wil afneem te ontsnap.

Verdere bespiegeling sluit in dat prins Harry en Markle ook Botswana sal besoek omdat dié land ʼn spesiale betekenis vir hulle het weens die tyd wat hulle daar saam deurgebring het toe hulle mekaar pas ontmoet het.

Prins Harry en Meghan Markle se trou-uitnodiging (Foto: Twitter via Kensington Paleis)

African News Agency het intussen berig sowat 600 gaste is na die koninklike troue genooi, en 200 gaste sal die onthaal bywoon.

Barnard & Westwood, ’n drukkersmaatskappy wat al sedert 1985 met die koninklike familie werk, het die uitnodigings gemaak.

Die uitnodigings is gestempel met ’n goue seël en toe blink gepoets. In ’n foto wat deur die Kensington-paleis op Twitter geplaas is, is oop spasies sigbaar waar gaste se name ingevul moet word. Die uitnodiging lui: “Sy koninklike hoogheid die Prins van Wallis … versoek die plesier van die geselskap van _____ by die troue van sy koninklike hoogheid Prins Henry van Wallis met me. Meghan Markle by St. George’s Chapel, Windsor-kasteel, op Saterdag 19 Mei 2018 teen 12:00 die middag gevolg deur ’n onthaal by Windsor-kasteel.”

Die uitnodiging spesifiseer die kleredrag as “uniform, oggendjas of dagpak” en vir die vroue “’n dagrok met ’n hoed”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

honourable member ·

Ag nee rerig. Daar is net soveel beter plekke vir n wittebrood en julle het mos die geld of hoe?

Koos1 ·

honourable member, elke ou kan mos maar gaan waar hy wil. Ek is baie verbaas dat hulle nie, soos in Afrika tradisie, miljoene wil spandeer nie.
Daar is niks fout met Namibie en Botswana nie.

Alicia ·

Tipies! Die arme mense soek ‘n plekkie waar hulle privaat kan wees en wat die die “bronne”…………..blaker alles uit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.