Prins Harry en Meghan se pad na kansel vol duwweltjies

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Nathan Denette/The Canadian Press via AP)

Die paadjie na die kansel vir prins Harry en die Amerikaanse aktrise Meghan Markle is volgens die Britse poniepers reeds vol duwweltjies – dít ten spyte van die feit dat die paartjie nog geen aankondiging oor ʼn verlowing gedoen het nie.

Volgens mediaberigte staar talle kwessies Markle, bekend vir haar rol in die TV-reeks Suits, en Harry, sesde aanspraakmaker op die Britse troon, in die gesig. Sy was onder meer voorheen getroud en het nie “koninklike bloed” nie.

Hoewel die Kensington-paleis nog geen woord gerep het ná gerugte van ʼn “geheime verlowing” nie, berig die webwerf Express dat dié paartjie moontlik reeds verloof is, maar uit “respek vir die koningin en prins Phillip” dié aankondiging eers aan die einde van November gaan maak.

Richard Fitzwilliams, ʼn bekende koninklike kommentator, het aan dié webwerf gesê dat die twee óf hul verlowing geheim hou óf dat Harry eers ná 20 November die jawoord gaan vra nadat koningin Elizabeth en prins Phillip op 20 November hul 70ste huweliksherdenking gevier het.

Dit is egter nie seker of daar enige waarheid in dié gerugte steek nie.

ʼn Woordvoerder van die Westminster-abdy het aan dié webwerf gesê die kerk volg die algemene sinode se uitspraak in 2002 dat geskeide persone ook nou in die Anglikaanse Kerk mag trou. Die woordvoerder het ook gesê dat Markle nié verhinder sou kon word om met Harry te trou omdat sy die Joodse geloof beoefen nie.

Indien die paartjie egter reeds verloof is óf beplan om verloof te raak, sal dit met die toestemming van die koningin moet wees. Volgens die wet op koninklike huwelike van 1772 moet die monarg toestemming gee vir die huwelike van die eerste ses aanspraakmakers op die troon.

Indien die koningin wel toestemming tot dié huwelik sou gee, sou dit steeds nie beteken dat sy die paartjie se huweliksdag kan bywoon nie. Express berig dat die koningin nié die paartjie se troue sou kon bywoon nie as gevolg van koninklike protokol en omdat sy die hoof van die Anglikaanse Kerk is. Dit sou egter nie ongewoon wees indien sy nié haar kleinseun se troue bywoon nie. Koningin Elizabeth was ook nie op prins Charles en Camilla Parker Bowles se troue nie.

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Nathan Denette/The Canadian Press via AP)

Die koninklike troue tussen Harry en Markle sal volgens berigte ook waarskynlik nié in die Westminster-abdy plaasvind nie, maar eerder in ʼn kleiner kerk wat ook bande met die koningshuis het.

Volgens Richard Kay, ʼn joernalis van die Daily Mail, het prins Harry sy vriendin vroeër verlede maand aan die koningin voorgestel. Kay sê die paartjie en die koningin het glo ʼn uur lank gekuier en dat só ʼn ontmoeting waarskynlik ʼn aanduiding van die “erns van hul verhouding” is. Prins Charles, wat Markle vroeër vanjaar ontmoet het, was glo “in sy skik” met haar en het glo aan Harry genoem dat sy ʼn “baie vriendelike en oulike meisie” is.

Buckingham-paleis wou op navraag van Daily Mail geen kommentaar oor die ontmoeting lewer nie.

Prins Harry het in November verlede jaar ʼn pleidooi tot die media gerig om sy verhouding met Markle te respekteer en op te hou met die “mishandeling en teistering” met stories oor hul verhouding in die media. Hy het ook gevra dat die media Markle se familie se privaatheid sal respekteer. “Prins Harry is bekommerd oor Markle se veiligheid en is diep teleurgesteld dat hy nie in staat is om haar heeltyd [teen die media se aanslae] te beskerm nie. Dit is nie reg dat sy in só ʼn storm gedompel moet word net ʼn paar maande ná die aankondiging van haar verhouding met prins Harry nie,” het ʼn verklaring van die Kensington-paleis gelui.

Markle is in Augustus 2013 geskei van die rolprentvervaardiger Trevor Engelson nadat hulle in 2011 getroud is. Indien sy en prins Harry sou trou, sou hul huwelik die eerste veelrassige Britse koninklike huwelik in die geskiedenis wees. Markle se pa is wit en haar ma is swart.

“Mense vra altyd vir my: ‘Wat is jy nou eintlik? Waar kom jou ouers vandaan’? Dit duik altyd in die gesprek op – ek weet dit kom. Hoewel ek kan sê hulle kom van Pennsilvanië en Ohio, gee ek vir hulle waarvoor hulle vra: ‘My pa is wit en my ma is swart. Ek is halfswart en halfwit,” het sy in 2015 in ʼn onderhoud met Elle gesê.

Die paartjie se verhouding word vergelyk met dié van Edward VII wat van die troon moes afstand doen om met Wallis Simpson, ʼn geskeide Amerikaanse vrou, te kon trou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gwen ·

So ’n lang berig oor iets wat geen mens in Suid-Afrika raak nie? Kan Maroela ons nie liewer besig hou met werklike wêreldgebeure nie?

Susara ·

Hi Gwen, ek geniet nou weer die inligting oor die koningklikes en koningshuis. Dit neem die fokus bietjie weg van die neerslagtigheid met dit wat alles besig is om in ons geliefde SA te gebeur. Dankie MaroelaMedia.

Larissa ·

Ek stem nie saam jou nie.
Die atrikel was baie lekker om te lees.
Jy kan die opskrif sien, as jy nie van dit hou nie, hou dan verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.