Prins Harry kies sy strooijonker

Prins William en prins Harry (AP Photo/Pool)

Prins Harry het sy broer, prins William, gekies om sy strooijonker te wees wanneer hy op 19 Mei saam met die Hollywood-aktrise Meghan Markle voor die kansel staan.

Die Kensington-paleis het dié nuus Donderdag bekendgemaak.

Harry was die strooijonker op William, die hertog van Cambridge, en sy vrou, Kate Middleton, se troue in 2011. Dié egpaar het Maandag nog ʼn babaseun ryker geword. Die naam van dié boetie vir prins George en prinses Charlotte is nog nie bekendgemaak nie.

Die paleis het ook aangekondig dat Harry (33) en Markle (36) die musiek vir die geleentheid met sorg uitsoek. Die musiek is in die hande van James Vivian, direkteur van musiek by die St. George-kapel.

Volgens berigte is sowat 600 mense na dié koninklike troue genooi en ongeveer 200 gaste sal die onthaal bywoon. Die troue sal in Windsor, wes van Londen, plaasvind.

Elle.com het vroeër berig dat bekendes soos die voormalige Mej. Wêreld, Priyanka Chopra, ook by die troue te sien sal wees, asook die tennisster Serena Williams. Chopra en Williams is glo goeie vriendinne van Markle.

Prinse William en Harry (Foto: Twitter)

Nog bekendes wat Elle meen moontlik op die koninklike paartjie se gastelys kan wees, sluit in die sangeres Mel B, die glansegpaar David en Victoria Beckham, die swanger Pippa Middleton en haar man, James Matthews, prinses Beatrice, prins Harry se eksmeisie, Chelsy Davy, en prinses Victoria van Swede.

Kensington-paleis het ook bevestig die Britse gewapende magte, met wie prins Harry ʼn noue verbintenis het, sal deel van die seremonie tydens die troue wees.

Die paleis het ook bevestig Philippa Craddock, ʼn bekende bloemis, is gekies om die span te lei wat die blommerangskikkings in die kerk sal doen. Volgens die paleis sal die blommerangskikkings onder meer gemaak word uit loof uit die tuine van die Crown-landgoed en Windsor Great Park. Wit tuinrose, pinksterblomme en vingerhoedjies sal ook deel van die rangskikkings wees.

Ná afloop van die troue sal die rangskikkings aan verskillende liefdadigheidsorganisasies geskenk word.

Maroela Media het vroeër berig daar word bespiegel dat Harry en Markle na verwagting in ʼn luukse lodge in Namibië wittebrood sal hou. Geen amptelike inligting is egter bekend gemaak oor die paartjie se planne ná hul troue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.