“As daar ooit ʼn superster in Suid-Afrika was, dan is dit Gé Korsten!”
So sê Frans Swart, die regisseur van Gé Sing: Hoor my Lied. Die huldeblyk-produksie, wat op 3 November by die Sun Arena in Pretoria te siene gaan wees, vier die sanger se lewe, loopbaan en talent 20 jaar na sy stem stil geword het.
In die produksie word oudiovisuele argiefmateriaal teen ʼn reuseskerm geprojekteer om die gehoor ʼn oorsig oor sy werk te gee, asook insigte oor Korsten as kunstenaar, mens en vader te bied. Sy musikale nalatenskap word op ʼn vars manier geïnterpreteer deur van die land se voorste kunstenaars, waaronder André Schwartz, Louis Loock, Arina de Witt, Jannie Moolman, Scott Engelbrecht, die PJ Twins en Taschè van TV se The Voice-faam, en ʼn volle orkes.
Korsten is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland, gebore. Hy was die jongste van agt kinders en het in 1936 as negejarige seun saam met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het sy loopbaan as operasanger begin en was reeds op 20-jarige ouderdom lid van die SAUK se kore.
Hy het in 1952 stemopleiding ontvang aan die South African College of Music in Kaapstad onder leiding van Adelheid Armhold. In 1955 het hy na Pretoria verhuis waar hy verdere opleiding onder leiding van Albrecht Lewald ontvang het. Hy was in dieselfde jaar ook een van die stigterslede van die Pretoria-operagroep.
Sy operadebuut maak hy in 1956 as Canio in Pagliacci. In 1962 word ’n oorsese studiebeurs aan hom toegeken waarna hy in 1963 in Europa onder Judith Hellwig verdere opleiding ontvang en ook die geleentheid kry om in operas in Europese stede soos Wene en München op te tree. In 1976 het hy die Nederburg-prys vir Opera ontvang vir sy hoofrol in Andrea Chénier.
Korsten het nege goue plate agter sy naam gehad. Hy het tydens sy loopbaan, wat oor 40 jaar gestrek het, 58 albums opgeneem. Hy het ses Sarie-toekennings ontvang en in 1979 ’n Artes-toekenning vir sy TV-program Gé Sing. Hy het ook die rol van Walt Vorster in die sepie Egoli gespeel. In 1985 is hy as hoofdirekteur van Kruik in Kaapstad aangestel en het die pos tot in 1989 beklee. Korsten is in 2008 tydens die 14de Suid-Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir ’n leeftyd se bydrae tot plaaslike musiek.
“Die produksie is geskik vir die hele gesin, wat enersyds werk as vermaak, maar andersyds ook die nalatenskap van ons baanbrekers weer in fokus bring,” het Swart gesê.
Besprekings kan by Computicket gedoen word deur 0861 915 8000 te skakel, of op die webwerf www.computicket.com.
Aaaah een van my ou goues!
Ek luister jou musiek solank ek lewe en jou “lied van die lewe” is naby my hart.
Rus in vrede ou grote!