Proe’toria-verhoog wink vir Demi Lee ná blaaskans

Demi Lee Moore. (Foto: Demi Lee Moore/Facebook)

Die blondekop sangsensasie, Demi Lee Moore, het onlangs nuushoofopskrifte gehaal nadat sy in Februarie aangekondig het dat sy noodgedwonge haar vertonings vir die maand moes kanselleer.

Demi Lee, wat verlede jaar onder meer in Nieu-Seeland en Nederland opgetree het, het in Januarie ʼn blaaskans geneem ná haar troue op 7 Januarie met Barthlo Visagie.

Sy moes in Februarie die slegte nuus met aanhangers deel dat sy, op ʼn dokter se aanbeveling, haar stem die hele maand lank moet laat rus.

“Verlede jaar was seker een van die beste jare in my musiekloopbaan, dit was so lekker om te kon reis en julle elkeen te leer ken en almal se stories te hoor. Ongelukkig het die intensiewe toerskedule my stem begin beïnvloed. Ek kon een optrede doen, maar teen die einde van die vertoning was my stem weg,” het Demi Lee vroeg in Februarie op Facebook geskryf.

Sy het aan Maroela Media gesê dit was moeilik om nie te kon sing nie, selfs by die huis. “Iets wat my soveel vreugde bring, was net eweskielik weg. Die rus was egter natuurlik nodig en glo my, ek het al my slaap wat ek verlede jaar verloor het, opgevang. Om nie op die verhoog te wees nie, was baie vreemd. Dit was net so moeilik om nie te sing nie. Ek kon nie eens by die huis sing nie.”

Demi Lee Moore. (Foto: Willem Botha)

Sy is opgewonde om Sondag op die Proe’toria-verhoog in die Jakarandastad weer die stem wat haar in 2018 die wenner van Die Kontrak gemaak het, ten toon te stel.

“Dit was so lekker om net by die huis te wees, maar ek mis die mense, ek mis my vriende in my orkes, en ek mis die lang ure op die pad saam. So, ek kan met soveel opwinding sê dat ek nie kan wag om die naweek weer te begin nie. Senuwees en al.”

Demi Lee sal Sondag saam met onder meer Joe Niemand, Alba V, Dodo Nyoka, Samantha Leonard en Ricus Nel by die Botaniese Tuin te sien wees.

Die fees skop al Saterdag af, met kunstenaars soos Bobby en Karlien van Jaarsveld, Martin Bester, Sunset Sweatshop, Irene-Louise van Wyk en Die Heuwels Fantasties wat die vermaak gaan verskaf.

Feesgangers kan weer uitsien na stalletjies met uitsoekkos, lekkernye, kuns, jenewer, kunsbier en wyn, en die grootste name in die musiekbedryf op een verhoog. ʼn Handjievol wynplase gaan hulle uitsoekwyne in die wyntuin beskikbaar stel.

Volgens Demi Lee is die Proe-toria-fees een van haar gunstelingfeeste. “Die mense en die kunstenaars is ongelooflik. Die fees strek oor twee dae en begin elke dag lekker vroeg, so jy kan heeldag elke dag vir ʼn naweek lank vermaak word deur van die land se beste musikante.”

Proe’toria vind op Saterdag 4 Maart en Sondag 5 Maart by die Botaniese Tuin in Pretoria plaas. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa.

Demi Lee

Moenie uitmis nie – jou hart mag dalk net gebreek word as jy nie hierdie fenominale kunstenaar in lewende lywe gaan sien nie. ​????​Maak seker jou kaartjie is gekoop en jou sitplek is geneem om op 5 Maart, om 15:00, vir Demi Lee Moore op die gesogte Proe'toria-verhoog by die Pretoria Botaniese Tuine te sien. ​Hier volg die res van die program: ​​4 Maart ​10:30 Hugh-Lynn ​11:00 CheraLee ​11:30 Renaldo ​12:00 Neil Somers ​12:30 Irene-Louise van Wyk ​13:30 Martin Bester ​14:30 Bobby van Jaarsveld ​(DJ SET) ​16:00 Jemma Catherine ​17:00 Sunset Sweatshop ​18:00 Karlien van Jaarsveld ​19:00 Die Heuwels Fantasties ​5 Maart ​10:00 Opening met gebed & bediening (Nadia Vorster) ​10:45 Praise & Worship (Nadia Vorster & AGS Lofoord Band) ​11:30 Joe Niemand ​12:30 Alba V ​13:00 Dodo ​14:00 Samantha Leonard ​15:00 Demi Lee Moore ​16:00 Ricus Nel ​. ​.​. ​#proetoria #musiekfees #Afrikaans #konsert #event #pretoria #proetoriafees #musicfestival #pretoriaentertainment #trotsafrikaans #English #musicfestival ​Belgravia Gin South Africa | Maroela Media | kykNET | Ontbytsake | Pretoria FM | LIFT Airline | Mit-Mak Motors | EPH Group | Insight Outdoor | The Marketing Zoo | Caring Daisies

Posted by Proe'toria Fees on Wednesday, February 22, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.