Quinton de Kock word pa

Quinton en Sasha de Kock saam met klein Kiara. (Foto: Instagram)

Quinton de Kock, die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter wat vroeër vandeesmaand sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het, het Donderdag ʼn babadogtertjie ryker geword.

Die 29-jarige Protea-speler en sy vrou, Sasha, se eersteling heet Kiara. Volgens Sasha se jongste Instagram-inskrywing het die kleinding 2,9 kg met haar geboorte geweeg.

How’s it my name is Kiara [sic]!” het De Kock by ʼn foto van homself, sy vrou en hulle splinternuwe pienkvoet op Instagram geskryf.

De Kock se toetsloopbaan is iets van die verlede sedert hy op 2 Januarie – nadat die Proteas sleg teen Indië in Centurion verloor het – sy rooibalkrieket-uittrede aangekondig het.

Volgens die krieketspeler is dié besluit juis geneem omdat hy meer tyd saam met sy jong gesin wil deurbring.

“Dit was glad nie ’n maklike besluit nie. My gesin is vir my baie belangrik en ek wil graag die tyd en geleentheid kry om saam met hulle in hierdie nuwe opwindende hoofstuk van ons lewens te deel,” het hy gister in ’n verklaring gesê.

Volgens De Kock is hy mal oor toetskrieket en om sy land te verteenwoordig.

“Ek is lief vir alles wat daarmee gepaard gaan: Die hoogtepunte, sowel as die laagtepunte. Maar nou het ek iets gevind waarvoor ek selfs liewer is.”

“Ek is lief vir alles wat daarmee gepaard gaan: Die hoogtepunte, sowel as die laagtepunte. Maar nou het ek iets gevind waarvoor ek selfs liewer is.”

Quinton de Kock het sy toetskrieketuittrede aangekondig. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Dit is egter nie die einde van sy Protea-pad nie en hy sal vir die afsienbare toekoms steeds vir eendag- en T20-wedstryde beskikbaar wees.

’n Storm het in Oktober oor De Kock se kop losgebars nadat hy hom weens “persoonlike redes” aan die Proteas se tweede groepwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande onttrek het.

Dit het kort op die hakke gevolg van Krieket Suid-Afrika (KSA) se eis dat elke speler vóór die oorblywende Wêreldbeker-wedstryde die knie moet buig. De Kock het voorheen staande gebly.

Krieketspelers soos Dale Steyn, Vernon Philander, JP Duminy en Wiaan Mulder, het die egpaar op sosiale media met die geboorte van klein Kiara gelukgewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Kinders maak die lewe beter.

casper

Trotse pa !!

Annatjie

Wie is hy nou weer?

Lakemalawi

Pragtige ou dingetjie, mag sy vir julle baie vreugde bring.