Die Afrikaanse komediant Rikus de Beer, beter bekend as Jonathan van Radio Raps, moes Vrydag teen die trane baklei toe hy vertel het hoe hy ses weke lank in die hospitaal vir sy lewe moes veg.
De Beer is vandeesweek uit die hospitaal ontslaan nadat hy weke lank in ʼn Pretoriase hospitaal deurgebring het waar hy in en uit die waakeenheid was. Maroela Media het vroeër berig De Beer is op 27 Mei in die hospitaal opgeneem ná afloop van sy optrede by Silverstar Casino naby Krugersdorp. ʼn Beplande operasie om galstene en sy galblaas te verwyder moes later uitgestel word weens ʼn hoë infeksietelling.
De Beer is in die hospitaal met hart-, nier- en longversaking gediagnoseer en sy toestand is in hierdie tyd as kritiek beskryf. In ʼn video wat hy Vrydag op sy amptelike Facebook-blad geplaas het, vertel De Beer in sy kenmerkende Radio Raps-styl dat hy dokter toe is omdat hy ʼn pyn in sy buik gekry het. “Dit was nie jou average chicken pie- en brandewyn-pyn nie. Dit was nogal ʼn serious buikpyntjie,” skerts hy.
Hy vertel grappenderwys dat hy nie alles kan onthou wat in die hospitaal gebeur het nie omdat hy baie morfien toegedien is, maar hy verneem hy het tydens ʼn rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Frankryk die Franse volkslied uit volle bors saamgesing. “Ek is nog ʼn rukkie uit, boys. Ek is darem by die huis, maar ek is vir ʼn paar weke nog bedlêend en bietjie siek.”
De Beer sluk ooglopend aan die knop in sy keel wanneer hy dankie sê vir al die boodskappe van ondersteuning wat hy ontvang het. “Baie dankie vir almal se ondersteuning. Ons kap aan.”
Enkele ure nadat De Beer die video gedeel het, het honderde mense kommentaar gelewer om hom tuis te verwelkom en sterkte toe te wens.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Eks bly jy is nou by die huis. Pas jouself nou mooi op.
Sterkte, ou maat!
Sterkte Ricus! Mens kan sien dit vat aan jou. Ek hoop jy word gou gesond!
Ricus is werklik van nature ‘n snaakse mens. VIRSEKER verdien ‘n pluimpie.
hy se hy het amper die koets geklim wonder waar sou hy afgeklim het met daardie gevloek wonder ne glo nie daar word in die hemel so gepraat nie .Pleks hy hom bekeer .