Radio Raps se entrepreneurshart klop sterk

Rikus de Beer, oftewel Jonathan van Radio Raps (Foto: Verskaf)

Alhoewel Suid-Afrikaners hom ken en liefhet as die pittige Jonathan van Radio Raps, is Rikus de Beer ’n sakeman met ’n avontuurlustige entrepreneurshart wat alte graag nuwe uitdagings aandurf.

Oor Hennie’s

Hy het nog altyd belang gestel in die konsep van ’n plaaslike, spreekwoordelike watergat.

“Nie net ’n doodgewone kuierplek nie, ’n plek met karakter,” is hoe hy die soort plekke beskryf wat hy deur die jare heen interessant gevind het.

De Beer se loopbaan is van só ’n aard dat hy die land en sekere dele van die wêreld al platgetoer het. Tydens dié toere gaan loer hy dikwels by die plaaslike kuierplekke in, juis om hul karakter te beleef.

“Dis nie altyd die plek wat die naaste of goedkoopste is nie, dis ’n tasbare energie wat mense soontoe lok.”

Dié energie het De Beer bygebly, en sy droom om ’n soortgelyke ruimte te skep het deur die jare lewensgroot geword.

Wanneer hy sy droom met mense gedeel het om hul insae te kry, het hulle keer op keer die idee afgekeur en gesê dat dit nooit sal werk nie. “Dit is ʼn bietjie ver van die norm af – wat is dit nou, ’n kroeg, kuierplek of ’n restaurant?”

Dit het De Beer egter nie ontmoedig om aan sy eie droom, buite die norm, te bly bou, breek en vorm nie.

Oor die kostelike boelterriër na wie sy rits über-suksesvolle Hennie’s-restaurante vernoem is, gesels hy graag.

Rikus de Beer saam met een van sy geliefde boelterriërs. (Foto: Radio Raps/Facebook)

“Ou Hennie is ’n liefding. Hy is vol liefde en pret en ’n absolute nar!”

Die vriendelike atmosfeer wat hy in elke Hennie’s-restaurant skep is vir De Beer die perfekte eweknie van sy liefdevolle hond se persoonlikheid.

Portrette van De Beer se boelterriërs, Hennie, Frik en Inge, hang ook in elke Hennie’s-restaurant in Suid-Afrika.

“Die boelterriër is lief vir sy baas, die Bokke, braaivleis en bier,” staan daar trots op Hennie’s se webwerf geskryf.

Die restaurantgroep is reeds in 2018 gestig en het sedertdien van krag tot krag gegaan, met tien restaurante wat oor Suid-Afrika heen heerlik saam blaf. De Beer het aan Maroela Media vertel dat daar reeds planne is vir die opening van ʼn verdere vyf Hennie’s-restaurante.

Meer as net toeval

Hoewel hy die sukses van die franchise toegeskryf aan fyn beplanning en deeglike navorsing, het De Beer nie verwag dat dit so vinnig sou sneeubal nie.

“Ek het geweet wie my mark is en waarvan hulle hou, maar ek het nie gedink dat dit so vinnig só groot sou word nie.”

Restaurante moes noodgedwonge met geslote deure deur die Covid-19-pandemie struikel, iets wat De Beer as net so tragies as die pandemie self ag.

Hy het ook besef dat die pandemie tot verandering in verbruikerspatrone gelei het.

“As iemand nou iets wil eet, dan gaan hy vir gemak en gerieflikheid. Hy bestel sommer op ’n kosafleweringapp. Wanneer hy gaan, gaan hy vir ’n ervaring buite die gewone, en ek dink dat dit ons gehelp het.”

De Beer verkoop ontvlugting

Of hy nou op die verhoog besig is om ’n gehoor te laat skaterlag, op die skerm is met een of ander skelmstreekvideo of agter die skerms van ʼn restaurantgroep woeker, weet De Beer een ding: hy verkoop ontvlugting.

“Dit is wat my werk is, ek het ’n passie daarvoor om mense te help om af te skakel. Ons leef in moeilike tye, mense wil soms net ontsnap. As iemand vir ’n halfuur kan afskakel en herlaai, sal hulle die geleentheid aangryp.”

(Foto: Radio Raps/Facebook)

Hoewel De Beer werksaam in die vermaakbedryf is, beskou hy homself nie as ’n kunstenaar nie.

“Ek vermaak mense. Ek dink baie kunstenaars gebruik dikwels die kunstenaaretiket om standpunte in te neem. Dis nie ek nie. Ek wil jou vir ’n ruk laat vergeet van iets en laat ontspan. As ek dit gedoen het, is ek gelukkig.”

Hy besef dat die ruimte waarheen mense kan ontvlug, hetsy deur vermaak of ’n heerlike bord kos, noodsaaklik is om die spanning waaronder soveel mense verkeer ʼn bietjie eenkant toe te skuif.

De Beer het egter nooit verwag sy loopbaan sou hom ʼn bekende gesig maak nie.

Hy beskryf sy pad in die vermaakbedryf as iets wat hom nederig gehou het en vir hom is sy geliefde karakter, Jonathan, een waarmee hy bloot pret gehad het.

“Mense stop my sommer in die straat en dis asof hulle my al jare ken, en dis waaroor dit vir my gaan.”

Goue draad van Afrikaans

“Ons is mense wat altyd probeer help, warm mense, mense wat seker die beste sin vir humor het en die mooiste stories kan vertel.”

Hy vertel dat die sterk Afrikanergees in sy vertonings mense in Suid-Afrika wat nie eens Afrikaans grootgeword het nie lok.

De Beer erken ook maklik dat sy grootwordjare nie gevul was met die normale rolprente soos Rambo nie, maar met Afrikaanse programme soos Spies en Plessis.

“Baie mense probeer wegskram daarvan. Ons is geneig om te dink dat jou taal of herkoms Engels moet wees, en dit hoef nie so te wees nie. Afrikaans maak die groter prentjie net soveel groter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.