Die Afrikaanse akteur en komediant Rikus de Beer, beter bekend as Jonathan van Radio Raps, is uit die hospitaal ontslaan.
Dit kom nadat De Beer ses weke lank in ʼn Pretoriase hospitaal deurgebring het waar hy in en uit die waakeenheid was. Maroela Media het vroeër berig De Beer is op 27 Mei in die hospitaal opgeneem ná afloop van sy optrede by Silverstar Casino naby Krugersdorp. Hy het teen daardie tyd reeds behandeling ontvang vir komplikasies aan sy buik, maar wou nie die optrede in Krugersdorp op sulke kort kennisgewing kanselleer nie.
Op 29 Mei het hy ʼn operasie ondergaan en ʼn tweede operasie is vir die volgende dag geskeduleer, maar dié operasie is uitgestel nadat sy toestand verswak het. Hy is kort daarna na die hoësorgeenheid oorgeplaas weens ʼn hoë infeksietelling en hartversaking.
Op 8 Junie het De Beer ʼn operasie ondergaan om galstene en sy galblaas te verwyder. Hoewel die operasie suksesvol was en sonder komplikasies verloop het, is hy later weer na die waakeenheid oorgeplaas weens ʼn hoë infeksietelling.
De Beer het Donderdagaand ʼn foto op sy amptelike Facebook-blad gedeel van hom by die huis met ‘n hond in sy arms. Hy het geskryf hy sal Vrydag ʼn video deel waarin hy vertel wat hy die afgelope paar weke deur is. “Dit was tough! Nog ʼn paar weke in die bed, maar ek hang maar uit saam met die nuwe bul by die huis. Ontmoet vir Baber, die nuwe kind in die huis. Vat dit kalm boys! Hoop dit gaan goed met die hele span! Daar vat hy!,” het hy geskryf.
Wonderlike nuus dat hy ontslaan is!
Welkom terug chom!
Daar vat hy! Sterkte pella!
Lekka man lekka