Renoster na sanggroep vernoem

Renoster

KLein DZLtjie. Foto: Verskaf

Die sanggroep, DZL, het die afgelope naweek ʼn baba ryker geword en dis nie sommer enige baba nie; dis ʼn klein renostertjie. DZL, wat uit die sangers Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie bestaan, is ambassadeurs vir die Limpopo Rhino Security Group (LRSG) wat hulle daarop toespits om renosters in die provinsie te beskerm.

“Die LRS-groep het gevra of ons sal omgee as hulle die volgende renosterkalf na ons vernoem en natuurlik het ons dadelik ingestem. Dis nou nie elke dag dat mens met ʼn renoster as naamgenoot kan spog nie,” vertel Andries Hendrik.

DZLtjie, soos hy nou bekend staan, is Saterdagoggend gebore en glad nie skaam om sy gesig vir die kamera te wys nie.

Die sanggroep het onlangs kragte saamgespan met plaaslike en internasionale rolspelers om die LRS-groep by te staan om die stroop van renosters te keer. Tot op hede is sowat R9-miljoen se tegnologie vir die projek bewillig, onder leiding van Cambium Networks, wat die groep in staat stel om hul eiendom te beveilig teen renosterstropers. ʼn Tjek sal hierdie komende naweek aan LRSG oorhandig word tydens ʼn galageleentheid in Polokwane.

LRSG is in November 2014 gestig nadat ʼn renoster van een van die lede gestroop is. LRSG bestaan uit ʼn hele paar plase in Limpopo wat nagenoeg 100 000 hektaar beslaan. Privaatrenostereienaars in Suid-Afrika besit nagenoeg ʼn kwart van die wêreld se renosterbevolking (5000). Die LRSG-groep besit sowat 6% van hierdie renosters.

“Al doen die regering regtig baie om renosterstropery te voorkom, is die fokus hoofsaaklik op die nasionale parke. Privaatrenostereienaars moet self sien kom klaar om hul renosters te beveilig. Die meeste van hulle bestee sowat R100 000 per maand om hul eiendom te beveilig. Dit is een van die redes waarom ons by die projek berokke geraak het; om die kollig op die werk van privaatrenostereienaars te vestig en hulle in hul stryd by te staan,” sê Wiaan.

LRSG het, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, K9-Eenhede en regsverteenwoordigers van die regering, daadwerklike pogings aangewend om renosterstropery in Limpopo te verminder. Na aanleiding van hul pogings het hulle daarin geslaag om stropery in die gebied met nagenoeg 30% te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.