Rian oor die dinge wat hy nié moes sê nie

Rian van Heerden (Foto: Facebook)

As ʼn jong omroeper sou hy waarskynlik uit sy pad gegaan het om omstrede dinge kwyt te raak, maar vandag is dié meer yl gesaaide, omstrede uitlatings eerder ʼn eerlike opinie as ʼn behoefte om omstrede te wees, vertel die radio-omroeper en televisiepersoonlikheid Rian van Heerden.

Nietemin kry aanhangers nou die geleentheid om 16 van dié mees omstrede uitlatings – dinge wat hy volgens ander liefs nié moes sê nie – weer te besoek in sy boek wat pas uitgereik is, 16 dinge wat ek nié moes sê nie.

Ja, daar was kere wat hy in die spervuur was ná ʼn uitlating op die televisie of radio, sê hy – maar steeds beskou hy homself nie werklik as omstrede nie.

“Ek sal toegee: Daar was ʼn tyd in die begin van my loopbaan wat ʼn mens uit jou pad gegaan het om omstrede te wees,” sê hy. “Dit was ʼn thing gewees. As ʼn jong omroeper wou jy gehoor word. Daar was tye wat ek doelbewus omstrede was. Maar later het dit gebeur, en dit het amper gevoel soos been there, got the T-shirt. In my mees onlangse lewe het dit begin gaan oor eerlikheid en om ʼn opinie oor iets te hê. Ek sien myself nie nou as omstrede nie.”

16 dinge wat ek nié moes sê nie bespreek presies wat die titel sê: Dit bestaan uit 16 hoofstukke wat die mees onvergeetlike dinge bespreek wat hy nié moes sê nie. Daar is ook twee hoofstukke waar hy intiem praat oor sy persoonlike lewe, soos onder meer sy eerste liefdesverhouding en die aanvaarding van sy seksualiteit.

Dié hoofstukke bevat grepies uit sy lewe wat nog nooit voorheen in die media bekend was nie, sê hy. “Ek bied ʼn ander blik op my as die radio- of televisiepersoonlikheid wat mense leer ken het. Ek het besluit as ek eerlik wil wees, met ek dit 100% doen en nie halfhartig nie. Ek het nog nooit dié goed wat in die boek is in enige onderhoud bespreek nie. Daar is dele van die legkaart wat in mekaar pas en mense ken nie altyd die volle storie nie. Die hoofstukke bied ander skakerings en fasette van die geheelbeeld van my lewe. Hulle sal heel moontlik iets sien of leer oor my waarvan hulle nié geweet het nie,” sê hy.

Van Heerden wil nie veel verklap oor die hoofstukke in die boek nie. Een van die mees omstrede hoofstukke is waarskynlik dié een van ʼn bakleiery in Nelspruit waarby hy betrokke was – maar lesers sal dié boek in eie hande moet neem om agter die kap van die byl te kom.

16 dinge wat ek nié moes sê nie (Foto: Facebook)

Daar was ook ʼn uitlating op JacarandaFM waarby hy ʼn skool betrek het nadat hy op ʼn luisteraar gereageer het en toe beboet is, asook dinge wat hy op TuksFM kwytgeraak het.

“Een van die ander dinge wat bespreek word, is toe ek uit die kas geklim het en op die voorblad van Rapport beland het – soms word die dinge in ʼn snaakse trant bespreek, maar ander kere is dit ʼn rou en eerlike vertelling van hoe iets my beïnvloed het.”

Daar is nie ʼn spesifieke rede agter 16 dinge nie, sê hy. “Dit was eers 11, toe word dit 13 en nou is dit 16. Dit is maar net hoe dit aan mekaar gesit is. Die dinge het alles betrekking tot my loopbaan en is gesê van my tyd by TuksFM tot en met my eerste televisiedae en deesdae op JacarandaFM,” sê hy.

Van Heerden meen dit was tyd dat dié boek gestalte kry. “Aanvanklik het ek gedink daar is nie genoeg inhoud nie of dat ek nie genoeg sal hê om te skryf nie. Maar daar was genoeg – meer as genoeg. Die boek het homself sommer so van die begin af geskryf en nou is die stories daar buite; eerlik en sonder terughou.”

Van Heerden is weeksdae tussen 16:00 en 19:00 te hoor op Scenic Drive with Rian. Maroela Media plaas binnekort uittreksels uit 16 dinge wat ek nié moes sê nie met vergunning van NB Uitgewers.

Koop dié boek op Graffiti. Vir meer inligting besoek Rian se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Skerp Spioen ·

Ek kan aan BAIE meer as 16 redes dink hoekom niemand hierdie boek behoort te koop nie.

Robert ·

Net as hy sy moet oopmaak moet hy dit maar weer toemaak want hy sal iets sê wat hy nie moes gesê het nie. Dis heeltyd ‘n aandag soekery.

Vergeet ·

Julle dalk vergeet hoe hy Christinne en Afrikaners verkleineer het?

Gerd Lourens ·

Ek verstaan nie hoekom daar alewig oor die ou geskryf word nie???

Valerie ·

Ek weet ook nie; hy is nie omstrede nie. Is minder as middelmatig . . . aandagsoeker? Jip. ‘n Boek (woorde) oor goed wat hy nie moes kwytgeraak het nie. Wta noem ‘n mens dit? Aandag soekery? Jip.

Reinhardt ·

Sjoe, daar’s darm baie haat in hierdie kommentare. Wat van koop die boek, lees dit, indien jy nie saamstem nie is dit jou volle reg. Te min mense is bereid om te luister na ander en herhaal slegs hul eie retoriek. Hoe op aarde gaan ons vorentoe beweeg sonder dialoog? Kom nou man, word groot.

ek sê maar ·

Hy is eerlik en reguit en dis sy saak as hy ‘n opinie oor iets het. Elkeen is daarop geregtig en as jy nie daarvan hou, het hy dalk ‘n waarheidjie raakgekrap? Mense kon ook soms dinge wat hy sê geheel en al uit verband ruk. Weereens – dis sy opinie en jy mag van hom verskil, dis jou reg. Ek is seker hy kritiseer nie elke persoon wat net van hom verskil OM van hom te verskil nie so laat dit maar daar. Julle hoef regtig nie die boek te koop of na hom te luister nie. Ek gaan beslis!

Suurpruime ·

Rian jy is Brilliant! Ignoreer maar gerus die kommentaar van die verbitterde suurpruime.

Verbitterde ·

Die verbitterde suurpruime was toe reg, hulle het ons liberales laaaaank terug al gewaarsku teen die gemors wat toe gekom het en nog gaan kom. Oja maar eks mos ryk en liberaal, ek klim maar net in n vliegtuig en emmigreer na n ander (wit) land.

Michelle ·

Ek love Rian en sy sê goed! dit beteken ook nie dat ek saam met alles stem nie. Keep on keeping on Rian, kan nie wag om jou boek te lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.