Rolene Strauss: ‘Dís wat my selfvertroue gesteel het’

Rolene Strauss (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dit was ʼn somersdag in 2007 in Parys. Sy was 15 jaar oud en in Frankryk vir modelwerk toe ʼn ouerige vrou haar heupe se mates moes neem. “95 cm,” het sy gesê. “Ons sal dit moet afkry tot ten minste 90 cm, jong dame!”

“Op daardie oomblik het ek verander. Van daardie dag af het dit gevoel asof ek altyd gemeet word, elke liewe dag. En ek het dit toegelaat, dís wat my selfvertroue gesteel het,” vertel Rolene Strauss, ʼn voormalige Mej. Wêreld.

Sy het by haar boekbekendstelling met Maroela Media gepraat oor haar worsteling met selfvertroue en hoe sy uiteindelik haar ware identiteit gevind het.

Strauss, wat in 2014 met die Mej. Suid-Afrika- én Mej. Wêreld-kroon weggestap het, het Dinsdag haar eerste boek, Vanuit die hart, in Muldersdrif in Gauteng bekendgestel. Dié boek dien as ʼn dagstukboek vir 356 dae wat fokus op onderwerpe soos selfvertroue, mislukkings, uitdagings, sukses, vriendskap, sosiale media en finansies.

Sy vertel dat sy haarself van ʼn jong ouderdom af konstant met ander mense vergelyk het.

Strauss sê mense dink dikwels sy kan nie sukkel met haar liggaamsbeeld en selfvertroue nie, omdat mense reeds dink sy is mooi, slim en maer. Maar dit is nie waaroor dit gaan nie, sê sy.

“Dit is ʼn emosionele stryd hier binne-in jou, en ek dink meeste vroue ervaar dit. Ons voel nie altyd goed genoeg nie, maak nie saak hoe ons lyk nie. Ek het besef dit is belangrik vir mense om te weet dat hoewel al hierdie wonderlike goed al met my gebeur het, ek steeds daarmee sukkel. Dit gaan eintlik glad nie oor enigiets anders as jou binneste nie.”

Sy vertel dat sy gedink het sy sal meer selfvertroue kry as sy Mej. Suid-Afrika word, maar toe dié droom vir haar in Maart 2014 waar word, het die teenoorgestelde gebeur.

Rolene saam met haar man, D’Niel en hul seuntjie ((Foto: Instagram via @rolenestrauss)

“Ek het gevoel asof daardie maatband stywer en stywer om my getrek word. En toe ek Mej. Wêreld word, was dit net erger.”

“Ek het duisende oë op my gevoel wat kyk wat ek doen, wat ek sê, hoe ek dit sê, wat ek aantrek en wat ek eet. Die maatband het net stywer en stywer getrek en toe ek ʼn vrou en ʼn ma word, het dit my uiteindelik begin versmoor.”

Strauss het probeer om die perfekte ma vir haar seuntjie te wees, die perfekte vrou vir haar man, die perfekte finalejaar mediese student.

“Ek het konstant kortgekom. Ek het elke dag met ʼn skuldgevoel geloop dat ek nie genoeg tyd saam met my seuntjie en saam met my familie deurbring of aan my studies gee nie. Ek het toe besef daar moet iets meer wees aan die lewe as om konstant perfek te probeer wees.”

Rolene is tans net meer as 20 weke swanger met haar tweede kind (Foto: Instagram via @rolenestrauss)

Strauss het toe haar ware self probeer vind en dít het sy in God gevind. Sy het besef dat as sý so voel, baie ander vroue ook met dieselfde goed sukkel. Daarom wou sy ʼn boek skryf wat vroue daarmee kan help.

Strauss, wat tans 20 weke swanger is, het gesê dié boek is iets wat sy hoop om eendag vir haar dogter te kan gee, sodat sy nie met dieselfde probleme sukkel nie.

Hoewel Strauss nog nie weet of haar tweede kind ʼn dogtertjie of ʼn seuntjie gaan wees nie, sê sy hulle hoop vir ʼn dogtertjie. Sy vertel ook dat haar seuntjie baie opgewonde is oor die nuweling wat op pad is.

“Die boek voel eintlik ook vandag vir my soos ʼn baba wat ek nou net in die lewe gebring het. Dit is onwerklik en ek is baie trots. Nou moet hy die wêreld ingaan en hopelik maak hy ʼn verskil.”

Strauss bieg dat dit steeds partykeer vir haar moeilik is om al die balle in die lug te hou, maar dat sy geleer het om rustiger te lewe, meer tyd vir familie te maak en om te fokus op dié goed wat werklik belangrik is. Sy is ook besig om tans haar meestersgraad in filosofie en bestuursafrigting aan die Universiteit Stellenbosch te voltooi.

“Maar ek het besef daar is sekere balle wat ek maar ʼn bietjie kan laat val, want ek kan dit maar later weer optel as ek tyd het. Maar die glasballe, wat ek nie kan laat val nie, soos my familie, is belangrik. Ek probeer om net op een ding op ʼn slag te fokus en nie om te probeer om alles op dieselfde tyd te doen, soos wat ons baie keer dink ons moet nie.”

Rolene Strauss (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Strauss sê selfvertroue is nie iets wat oornag beter word nie, maar dat ʼn mens steeds elke dag daaraan moet werk. Sy sê sy het op die oggend van hierdie onderhoud weer opgestaan met die gevoel dat sy nie mooi is nie, maar dat sy geleer het om dit te hanteer. Oor die algemeen is sy meer selfversekerd as voorheen, sê sy.

Die inhoud van Vanuit die hart kom grotendeels uit ʼn dagboek wat sy gehou het terwyl sy Mej. Wêreld was. Daarin het sy geskryf hoe sy voel, oor haar uitdagings, plekke wat sy besoek het en raad wat sy van haar mentors ontvang het.

“Ek hoop dat mense deur hierdie boek hul ware identiteit leer ken en dat hulle besef dat hulle goed genoeg is net soos hulle is. Ek hoop ook mense leer nie net deur wat ek geskryf het nie, maar ook deur hul eie refleksies. Want daar is geen beter mens om jou oor jou eie lewe te leer as jyself nie.”

Strauss sê sy gaan self ook van die begin van 2020 deur die boek begin werk; sy en haar ma wil dit graag saam doen.

“As ek een mens in die proses kan help om te besef dat hulle genoeg is nes hulle is, dan het ek bereik wat ek wou,’ sê sy.

Vanuit die hart is in Afrikaans en Engels (Reflections from the Heart) in CUM Books, ander toonaangewende boekwinkels of aanlyn beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Berdéhan Brand ·

Veels geluk aan ñ dame wat sonder selfvertroue die Mej Wêreld – titel ingepalm het met ñ gebrek aan selfvertroue. Dit wil gedoen wees.
Geluk met die publikasie ook. Word bekend, kry ñ skaduskrywer (of redigeerder) en bemark jou issue (veral die selfaktualiseringsding) uit ñ filantropiese verwysing en jy en jou uitgewer lag al die pad bank toe.
*Kyk vorentoe en vergeet die 5 cm. Dit regverdig nie hang ups nie.

AmY ·

Jy is steeds die mooiste vrou vir my. En ek is ‘jaloers’ op jou selfvertrou. Baie geluk met jou boek, en met die tweede kleinding wat oppad is.
Hou altyd vas aan jou geloof.

Klopjag ·

Meestersgraad in filosofie. Genugtig… besige vrou. Goed vir haar dat sy groei as persoon – ek hoop die filosofie help.

My mening ·

Sy is net so min sonder selfvertroue as wat die maan van kaas gemaak is. Sy is n geharde sakevrou wat alles baie berekend beplan en haarself uitstekend bemark. Sy vertel gedurig hoe sy en haar man hul lewe haarfyn beplan. Alles wat hulle doen, van kinders kry tot besighede begin, word haarfyn beplan en met berekende presiese uitgevoer.

JouMening ·

Jy klink erg jaloers. As iemand wat self met modelle en aktrises te doen gehad het, kan ek jou verseker dat selfvertroue eintlik minder is as wat jy besef in daai bedrywe. Hulle voorkoms word gedurig onder die vergrootglas geplaas en die indien die kleinste dingetjie uit plek is word sit erg gekritiseer.

Nimle ·

Dit wat Rolene ervaar is presies wat enige sportsman ervaar voor ‘n kampioenskap, enige musiekkant beleef tydens ‘n Unisaeksamen, enige danser voel voor ‘n kunswedstryd, die lys is lank.
Dit is die stem in jou, sodat jy moet harder werk vir iets, dryfkrag. Ons almal ervaar kritici daagliks.

“Geen selfvertroue” is wanneer jy voorberei/werk vir iets is maar jy daag nie op nie,’ ‘n “no show”. Want jy is bang en het ‘n vrees om dit uit te voer.

Ek het gelukkig/ongelukkig ervaring in altwee.

Die min selfvertroue moet net nie ‘n ‘arme-ek-sindroom’ verander nie….

VanAfrika ·

Ek het n model kursus gedoen, daar was n meisie in die klas wat eerste aandag en voorrang gekry het omdat sy mos nou n “natuurlike model” is. Mooi geloop, mooi gebou, selfvertroue en ek het nie n kans gestaan teen haar nie. Maar raai wat, die dag met eksamen toe ons loop, loop ek weg met n A+ silwerster sertifikaat en ek loop die meisie ver vooruit. Ek word toe gekies om voor die internationale board (daardie jare) te gaan loop en ek word gekies om internationaal model werk te gaan doen, en wat doen ek toe, kies my verloofde bo die model werk. Vandag is ek van hom geskei en twee mooi seuns later. Dink net as ek hom nie gekies het nie, het ek die catwalks gedoen saam met Naomi Campbell en Cindy Crawford.☺☺☺☺☺☺

Sam ·

Wonderlike mens die. Haar pa, Dr Strauss was ons huis dokter in Volksrust vir jare en so het ons saam groot geword met die Strauss kinders. Klein dorp, maar besonderse mense wat nie dink hul is beter as ander nie. Jy is amazing Rolene.

Vannessa ·

Herhinder baie aan die sproke van Die prinses op die ertjie

Von ·

In vandag se lewe is dit n rare kombinasie…skoonheid buite en binne….bid jou seen toe op jou lewens reis met ons Here Jesus

Jerry ·

Baie mooi en baie geluk met wat jy wel bereik het Rolene. n Vrou wat haarself goedversorg voel goed oor haarself en mense kan dit aanvoel. Mense is geneig om diegene wie goedversorg is en goedvoel uitstraal, te komplimenteer, of jy nou heupe het of nie. Gemeet teenoor die baie komplimente wat n goedversorgde vrou ontvang teenoor een ontaktvolle opmerking oor haar heupe, behoort n vrou se selfvertroue darem nie so maklik te ontspoor nie, behalwe natuurlik as jy nog jonk, fyngevoelig en onseker is soos wat Rolene op daardie stadium was. Mense wat n diens aan ander mense lewer, veral aan jongmense behoort tog te weet dat hulle hulself moet weerhou van ontaktvolle aanmerkings, want as dit die geval is, dan is dit waar die probleem eintlik le en aangespreek behoort te word sodat ander jongmense se selfvertroue nie ook geknak word nie!

willemien ·

dis nogal snaaks dat Rolene nooit enigiets gese het oor die selfvertroue problem nie…hoekom nie? want Rolene was altyd maer. Nou het Rolene ‘n kind en die 2e een is oppad en nou is dit nie maklik om meer so brandmaer te wees nie. Daai einste brandmaer het ander meisies en veral vroue met kinders se selfvertroue geknou. So, Liewe Rolene, nou sien jy dis nie so maklik nie ne. dis nie vir jou meer ‘n glasbal nie, maar dit was altyd. nou het jou prioriteite verander.

Talita ·

Ek sit altyd en wonder…. vir wie wil ‘n vrou nou eintlik mooi en maer wees? Vir haar man? Want na ‘n jaar se getroude lewe sien die meeste van hulle dit nie eers meer raak nie. Vir jou kinders? Hulle gee regtig nie om hoe mamma lyk nie. Vir ander mans? Hoekom? Jy’s dan getroud. Vir wanneer jy in die inkopiesentrums loop of by ‘n geleentheid opdaag? Wil jy hê die mans moet jou begeer en vrouens moet jou beny? En op die strand wil jy mos ”bikini-gereed” wees want jy glo mos die 500 mense wat daar met hul gesinne is gaan van hul eie pret vergeet en jóú aanstaar in bewondering? Slaap ‘n mens beter as jy mooi is? Het jy meer geld, sukses, geluk en vreugde as jy mooi en maer is? Maak dit jou ‘n beter vrou, ‘n vrouliker vrou, ‘n liefdevoller ma, ‘n beter vriendin, ‘n beter bakster, tikster, onderwyser, bestuurder, kerkganger? Die absolute beheptheid met die uiterlike ”is what makes this world go round”. Ek self is nie ‘n grot-otter nie, maar my uiterlike voorkoms oorheers nie my denke nie, daar is soveel meer wat regtig saakmaak. Ek wens só al die ”look at me, look at me’s” in die wêreld wil dit besef.

Luister ·

Veels geluk Rolene, jy kan trots wees op jouself!
Lyk my dat die meeste kommentators hier erg jaloers is. Rolene sê dan duidelik dit gaan oor wat in jou binneste aangaan.
Mens wil goed LYK, en VOEL oor jouself. Nie noodwendig vir ander mense nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.