Rolene vang graad

Rolene Strauss by haar gradeplegtigheid. Foto: Juan Pinnick Photography

Rolene Strauss, 2014 se Mej. Wêreld, het Donderdag haar MBChB-graad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf.

Die 25-jarige skoonheid, wat haar mediese studie vir twee jaar moes onderbreek om op haar verantwoordelikhede as Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld te fokus, het onlangs saam met haar gesin na Kaapstad verhuis.

Strauss, wat oorspronklik van Volksrust in Mpumalanga afkomstig is, het in Maart 2014 met die Mej. SA-kroon weggestap en in Desember 2014 die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie in Londen, Engeland, gewen.

Sy het in Julie 2014, kort ná haar kroning as Mej. SA, verloof geraak aan die sakeman D’Niel Strauss. Die paartjie het in Februarie 2015, nadat sy haar verantwoordelikhede as Mej. Wêreld voltooi het, afgehaak by die skilderagtige Laurent-trouvenue op die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes.

Sy het haar studie in 2016 hervat en dieselfde jaar in Augustus aangekondig dat sy swanger is met haar en D’Niel se eersteling. Hul seuntjie is in Januarie vanjaar gebore.

“My liefde vir gesondheid en medisyne is wat my oortuig het om terug te keer na my studie toe. Daar was soveel geleenthede wat ek kon ondersoek ná my jaar as Mej. Wêreld, maar ek sou nie ‘Rolene’ gewees het as ek nie my mediese studie voltooi het nie. Ek is geensins spyt nie,” het sy gesê.

Strauss het vroeër vanjaar op ʼn vraag van ʼn aanhanger op sosiale media gebieg dat dit soms moeilik is om met alles by te hou. “Om eerlik te wees, ek sukkel soms om alles te hanteer,” het sy reageer op ʼn vraag hoe sy haar studie hanteer terwyl sy getroud en ʼn ma is.

“Daar is dae wanneer ek voel dat alles te veel raak, maar dan fokus ek daarop om in die oomblik te lewe. Om die klein goedjies te waardeer soos my seuntjie se lag of ʼn pasiënt wat gesond word. Dit is baie belangrik om te weet waar jy wil wees in die lewe, maar om dit ook een stap op ʼn slag te vat. Alles wat jy nodig het om grootheid te bereik, is reeds binne jou.”

Strauss sal nie onmiddellik met haar mediese internskap begin nie, maar sê sy is baie opgewonde vir wat in 2018 voorlê. “Ek sien uit om meer geleenthede as motiveringspreker aan te pak en ek wil my boek klaarmaak wat ek tans skryf.”

Sy sal ook deel wees van ʼn holistiese vrouegesondheidspraktyk in die Paarl saam met haar skoonsuster, dr. Ledivia Strauss.

“Ek sien uit na ʼn wonderlike jaar en na die toekoms met my man en my babaseuntjie uiteindelik onder een dak. Ek wil almal bedank wat my ondersteun het gedurende die moeilike maar vrugbare paar jaar as Mej. SA, Mej. Wêreld, mediese student, vrou, moeder en nou mediese dokter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

apie ·

Pragtige mens, baie voorspoed en seeninge vir haar en haar gesin. Arbeid adel!

Von ·

Wow ek haal my hoed af vir Rolene mooi voorbeeld vir ons jeug leer by haar. SA is trots op jou

Soltykat ·

Baie geluk Rolene. Dit wil gedoen word. Ek is ook besig met my studies met twee woelwaters. Is rerig nie aldag maklik nie maar met hulp van Bo kom ons daardeur.

Trots ·

Rolene jy is pragtig, en nederig! ‘n Toonbeeld van ons Skepper. Ons is trots op jou.

Andre Traut ·

Uhm, sy en duisende ander wat net so hard moes werk baie van hulle sonder haar ondersteuningsnetwerk. Sit hulle fotos en stories ook op asseblief

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.