“Wat gisteraand gebeur het, was nie ʼn optrede nie – dit was ʼn geestelike ervaring en ontmoeting met die Heilige Gees.”
Só sê Bennie Robinson, die organiseerder van ʼn konsert wat die voormalige Romanz-lede Dinsdagaand ten bate van Adam Barnard gehou het. Juanita du Plessis en Willie Joubert, wat albei voorheen duette saam met dié groep gesing het, was ook daar.
Barnard is ʼn geruime tyd gelede gediagnoseer met neuropatie-sindroom, wat gekenmerk word deur die verlies van gevoel in ledemate soos die hande. Die sanger se niere werk nie behoorlik nie en daarom kry hy hemodialise-behandelings in die hoop dat sy gesondheid sal verbeter. Barnard is tans besig met die rehabilitasieproses om hom voor te berei vir die oorplanting nadat twee skenkers positief getoets is.
Dié konsert is spesifiek gehou om geld vir Barnard in te samel en ook om bewusmaking oor dié siektetoestand teweeg te bring.
“Dit was ʼn ongelooflike ervaring. Daar was net meer as 4 500 mense. Adam was maar net ʼn week gelede te siek om die optrede by te woon. Om die waarheid te sê, hy moes heeltyd lê, want hy was te swak. Oor die naweek het hy egter begin gesonder word, en Dinsdagaand kon hy saam met 4 500 mense vir twee en ʼn halfuur op die verhoog in sy rolstoel sing – dís waarom dit ʼn geestelike ervaring was. Die mense kon nie ophou klap toe hy op die verhoog kom nie,” sê Robinson.
Hy sê aanhangers het dit veral geniet om die groep weer saam op die verhoog te sien nadat hulle in 2014 ontbind het sodat die sangers op hul onderskeie sololoopbane kon fokus.
“Die groep het verskeie kere ʼn staande applous gekry – hulle het dit geniet om weer saam te sing met die liedjies waarvoor hulle liefgeraak het. Juanita en Willie het die optrede ook uit die goedgunstigheid van hulle hart gedoen, dit was voorwaar ʼn geseënde aand.”
Volgens Robinson gaan dit goed met Barnard se gesondheid. Hy ondergaan steeds rehabilitasie om hom voor te berei vir die oorplanting. Dit is onseker of ʼn datum al vasgestel is, maar die sanger is in dié stadium nog nie sterk genoeg om die oorplanting te ondergaan nie.
Lees alle vorige berigte oor Adam Barnard op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
alle sterkte en beterskap vir jou en jou familie
Seën en sterkte !
Ons was daar! Dit was asemrowend! Adam, God is groot. Vasbyt!
Wonderlik wonderlik – ons dien ‘n groot God, Hy is getrou en was teenwoordig. Mag die Here die oud-lede van Romanz, Juanita en Willie, ook elkeen agter die skerms ryklik seën. Adam – God is in beheer. Sterkte!!
Ai, ek is sooo dankbaar teenoor die Here! Liefde van die Parys inwoners.