Romanz kry staande applous tydens konsert vir Adam

Die voormalige Romanz-lede saam met Juanita du Plessis (Foto: Instagram)

“Wat gisteraand gebeur het, was nie ʼn optrede nie – dit was ʼn geestelike ervaring en ontmoeting met die Heilige Gees.”

Só sê Bennie Robinson, die organiseerder van ʼn konsert wat die voormalige Romanz-lede Dinsdagaand ten bate van Adam Barnard gehou het. Juanita du Plessis en Willie Joubert, wat albei voorheen duette saam met dié groep gesing het, was ook daar.

Barnard is ʼn geruime tyd gelede gediagnoseer met neuropatie-sindroom, wat gekenmerk word deur die verlies van gevoel in ledemate soos die hande. Die sanger se niere werk nie behoorlik nie en daarom kry hy hemodialise-behandelings in die hoop dat sy gesondheid sal verbeter. Barnard is tans besig met die rehabilitasieproses om hom voor te berei vir die oorplanting nadat twee skenkers positief getoets is.

Dié konsert is spesifiek gehou om geld vir Barnard in te samel en ook om bewusmaking oor dié siektetoestand teweeg te bring.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring. Daar was net meer as 4 500 mense. Adam was maar net ʼn week gelede te siek om die optrede by te woon. Om die waarheid te sê, hy moes heeltyd lê, want hy was te swak. Oor die naweek het hy egter begin gesonder word, en Dinsdagaand kon hy saam met 4 500 mense vir twee en ʼn halfuur op die verhoog in sy rolstoel sing – dís waarom dit ʼn geestelike ervaring was. Die mense kon nie ophou klap toe hy op die verhoog kom nie,” sê Robinson.

Die voormalige Romanz-lede (Foto: Instagram)

Hy sê aanhangers het dit veral geniet om die groep weer saam op die verhoog te sien nadat hulle in 2014 ontbind het sodat die sangers op hul onderskeie sololoopbane kon fokus.

“Die groep het verskeie kere ʼn staande applous gekry – hulle het dit geniet om weer saam te sing met die liedjies waarvoor hulle liefgeraak het. Juanita en Willie het die optrede ook uit die goedgunstigheid van hulle hart gedoen, dit was voorwaar ʼn geseënde aand.”

Volgens Robinson gaan dit goed met Barnard se gesondheid. Hy ondergaan steeds rehabilitasie om hom voor te berei vir die oorplanting. Dit is onseker of ʼn datum al vasgestel is, maar die sanger is in dié stadium nog nie sterk genoeg om die oorplanting te ondergaan nie.

Lees alle vorige berigte oor Adam Barnard op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

sybil ·

Ons was daar! Dit was asemrowend! Adam, God is groot. Vasbyt!

René Erwee ·

Wonderlik wonderlik – ons dien ‘n groot God, Hy is getrou en was teenwoordig. Mag die Here die oud-lede van Romanz, Juanita en Willie, ook elkeen agter die skerms ryklik seën. Adam – God is in beheer. Sterkte!!

lAnsie Geldenhuys ·

Ai, ek is sooo dankbaar teenoor die Here! Liefde van die Parys inwoners.

Dirkie ·

Dit was voorwaar ‘n geestelike ervaring. Baie dankie. Adam jou geloof sal jou dra al die pad.

Carin ·

Ons was daar, dit was amaising, ek het heeltyd hoendervleis gehad. En hy het vir 2.5 ure uitgehou dis net krag van bo. Ons weet die Here is goed en glo Hy gaan wonders laat gebeur. Sterkte Adam en familie

Dawie Pretorius ·

Ons was ook daar en wat ‘n belewenis. Ek ondersteun Bennie se stelling. Met so ‘n sterk boodskap en response sal dit fantasties wees as Romanz dalk een of twee keer ‘n jaar bymekaar kom met so ‘n aanbieding en boodskap. Dit maar net ‘n gedagte. Sterkte Adam en lede van Romanz.

Ouma ·

Sterkte met die oorplanting Adam. Ons bid dat dit ‘n groot sukses sal wees, en dat jou gesondheid radikaal sal verander.

Tina Fitzgerald ·

Twee jaar terug het Adam Barnard n konsert aangebied ten bate van leerders met spesiale onderwys behoeftes. Vandag is hy in nood. Oorweeg dit asseblief om hom finansieel te ondersteun.

Karen ·

Dit was ‘n onvergeetlime ervaring om deel te kon wees van ‘n konsert wat in aanbidding uitdraai. Willie Joubert wat Adam in gebed voor dieTroon plaas en ek voel my eie klein probleempie word opgelos en . my eie klein vragie word in Liefde beantwoord en ek glo menige teenwoordige het ook soortgelyke seë ontvang. Romanz- julle is wêreldklas: Genade Onbeskryflik Groot deur julle 4 mans ver oortref iL Divo se Amazing Grace. elkeen van julle het ‘n mooi stem, maar saam is julle ‘n onvergeetlime ervaring in ewigheid al bestaan Romanz nie meer nie

Coleen de Villiers ·

Ons was daar gewees en dit was ‘n geseënde aand. Sterkte Adam, ons weet jy gaan gesond word.

Susan Humpel ·

Al kon ons dit nie meemaak nie, was ons in die gees teenwoordig. Baie dankbaar vir hierdie fantastiese geleentheid. God is altyd in beheer.

Sandra van Vuuren van Mareetsane NW ·

Alle lof aan ons Hemelse Vader!Ons was daar!Ons eerste konsert van hul wat ons kon bywoon en wat n wow ervaring! Dankie Romanz vir die wonderlike ervaring wat jul ons gebied het!Baie sterkte aan Adam mag God jou seen met gesondheid.Ook aan jul ander 3manne baie sterkte met jul loopbane.God Bless.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.