Rubriek: Tyd vir prins Harry om slagofferhoofstuk finaal af te sluit

Prins Harry se boek, “Spare”. (Foto: Hans Lucas / AFP)

Na ʼn nege ure lange Spotify-podsendingreeks, ʼn ses-episode lange Netflix-dokumentêr én ʼn ietwat uitputtende boek, duik dieselfde vrae op wanneer ek aan prins Harry en Meghan Markle se verskeie winsgewende media-ooreenkomste van die afgelope jaar dink.

Wat bly dan nou ná al hierdie onthullings vir hulle oor? Wat het hulle nog om vir ons te bied en beteken?

Dié paartjie word deesdae geken aan (en klaarblyklik befonds deur) hulle “openhartige vertellings” van die vyandigheid en boeliegedrag waaraan hulle blootgestel is gedurende hul tyd as ʼn werkende koninklike egpaar.

Prins Harry het onlangs ‘n eksklusiewe onderhoud met Anderson Cooper toegestaan. (Foto: Skermgreep/YouTube)

Ja, die eerste paar episodes van hulle Netflix-dokumentêr, eenvoudig getiteld Harry & Meghan, het miljoene kykers geboei en beslis meer begrip gegee vir hul besluit om as werkende koninklikes terug te tree.

“My werk is om my gesin veilig te hou. Die aard van die posisie en titel waarmee ek egter gebore is … en die vlak van haat wat die afgelope drie jaar aangeblaas word, veral teen my vrou en my seun, is ek oor die algemeen bekommerd vir die veiligheid van my gesin,” het die prins in die dokumentêre reeks se eerste lusmaker gesê.

Natuurlik maak dit sin en behoort hulle die kans gegun te word om hul kant van die saak te stel, om die belaglike beriggewing én invloed van Britse-poniepers uit te wys.

Tog, is dit nie dalk maar waar hulle liefs hierdie hoofstuk van hulle verhaal moes afgesluit het nie?

Spare deurspek met slagoffermentaliteit

As ʼn selferkende koninklike fanatikus sal ek jok as ek sê dat ek nie al dié inhoud wat die Sussex-egpaar die afgelope paar maande opgedis het, met graagte verslind het nie.

Veral na sy opspraakwekkende memoir, Spare, begin selfs mense soos ek egter ʼn versadigingspunt bereik.

“Dink jy hy praat die waarheid?” vra almal wat nie kans sien om self deur die prins se langverwagte boek te delf nie.

Volgens prins Harry besef die publiek nie wat alles agter geslote deure plaasvind nie. (Foto: Skermgreep/YouTube)

Daar word mos gesê ‘n storie het gewoonlik drie kante: my kant, joune en die waarheid. Hierdie boek is beslis sý waarheid en weergawe van sy byna 40 jaar as ʼn Britse-koninklike, maar omdat dit deurspek is met ʼn byna onsmaaklike slagoffermentaliteit word dit met tye moeilik om met hom te simpatiseer. Of, is dit net ek wat nie tyd het vir mense wat hulle neus voor Netflix-kameras optrek oor die grootte van hulle voormalige koninklike kothuis nie?

Spare is moontlik die eerlikste blik agter Buckingham-paleismure sedert prinses Diana se bekende BBC-onderhoud met Martin Bashir in 1995, maar ongelukkig gaan dit ook nes sy ma se onderhoud enige moontlikhede van ʼn koninklike versoening dalk finaal verpletter.

Alles, van gedetailleerde beskrywings van sy slaapkamers in die verskillende paleise waarin hy grootgeword het (syne was altyd kleiner of minder luuks as William sʼn), hoe hy sy maagdelikheid verloor het (wou ons regtig dit geweet het?), Kate se beweerde vyandigheid teenoor Meghan (blykbaar verpes jy iemand as jy nie vir hulle van jou lipsalf leen nie) en selfs hoe koninklikes se finansies en salarisse werk (hier sien ek net rooi) word in Spare se 416 bladsye deur spookskrywer JR Moringer vasgevang.

Harry het ‘n byna obsessiewe haat vir die Britse-pers. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

Ook Harry se byna obsessiewe haat vir die media en veral die Britse pers is ʼn onderliggende tema. Hulle het immers volgens hom ʼn direkte rol gespeel in sy ouers se egskeiding, sy vrou se miskraam en sy ma se dood.

ʼn Kopkrap-oomblik kom egter later in die boek waar hy skryf dat die publiek se positiewe houding teenoor Meghan tydens openbare verskynings hom “tot die besef laat kom het dat die Britse pers nie realiteit is nie”.

Hoekom dan so baie mag vir iets of iemand gee, as dit nie die realiteit is nie?

Myns insiens is dit die tipe erkenning wat hom en sy vrou se hele multimiljoen-dollar-meestersverhaal net daar in skerwe laat spat. Daarom is dié erkenning ook nie iets wat hy in aanloop tot die boek se bekendstelling op enige televisie-onderhoude herhaal het nie.

Iets wat hy ook nooit in die boek, op televisie of in sy Netflix-dokkie doen nie, is om homself en sy eie reaksies onder die soeklig te plaas.

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Sondebok na sondebok word gelys: sy onderwysers, sy pa, sy broer, ʼn vriend, die media en ʼn eksmeisie, as die rede vir sy optredes; ʼn teken dat sy soeke na sy eie identiteit binne én buite die koninklike familie dalk nog nie gebeur het nie.

My simpatie teenoor sy herhaalde selfbejammering oor sy titel as die sogenaamde “spaarwiel” het ook nie lank gehou nie.

In die boek beskryf hy homself as die skaduwee, die ondersteuning, die Plan B. “Ek is in die wêreld gebring ingeval iets met Willy gebeur, om ‘n afleiding te wees, of om, indien nodig, ‘n spaarorgaan aan hom te voorsien.”

Dis altyd makliker om iemand anders vir jou probleme te blameer, iets wat die prins en sy spookskrywer dikwels in sy boek met woorde soos “verlate” en “vergete” probeer doen. Ek stel voor hy gaan klop by ʼn diereskuiling of kinderhuis aan voordat hy homself met hierdie belaaide byvoeglike naamwoorde vereenselwig.

Tog kon dié spaarwiel by een van die wêreld se topskole sy opvoeding kry, sy koninklike-projekte kies asof hy van ʼn wegneemrestaurant se spyskaart af lees, en miljoene ponde van sy ma erf om ʼn herehuis in Kalifornië te koop.

Harry glo dís wat Diana sou doen

Prinses Diana, of “Mommy” soos hy na haar in die boek verwys, is alomteenwoordig. So ook die leemte wat haar dood in hom gelaat het.

Prinse Harry en William tydens hul ma, prinses Diana, se begrafnis in 1997. (Foto: Joel Saget/AFP)

Meer as een keer word sy grappies, dade of stellings in die boek beskryf as iets waaroor sy ma sou lag of iets was sy sou goedkeur. In die Netflix-dokumentêr verklap hy selfs dat Diana kort voor haar dood ook graag in Kalifornië wou gaan woon.

Dit blyk dat Meghan ook tot ʼn mate daardie rol in sy lewe oorgeneem het. Nes Diana, is sy vrou van amper vyf jaar foutloos in sy oë. Jaloesie en rassisme blyk ook volgens hom die enigste twee verduidelikings te wees vir negatiewe kommentaar of optrede teenoor haar.

In sy boek beskryf hy ook meer as een keer die effek wat sy op sy pa gehad het.

“Meg het soveel in hom ontlok, eienskappe wat ek selde gesien het. In haar teenwoordigheid het Pa seunsagtig geword. So baie mense het haar sleg behandel, dit het my hart warm gemaak om te sien hoe my pa haar behandel, soos die prinses wat sy op die punt was (of dalk gebore was) om te word.”

Prinses Diana saam met prins Harry (Foto: Twitter)

Dan maak sy bakleierige aanslag dalk meer sin?

Dalk glo hy hy baklei nie net teen die pers, die publiek, die koninklikes of vir sy vrou en gesin nie. Dalk baklei die klein rooikop seuntjie wat steeds in hom leef vir en namens sy oorlede ma.

“Ek’s tot hierdie punt gedryf,” verdedig hy in die boek, want sy familie het volgens hom lank genoeg verhoed dat hy sy sê werklik mag sê.

Volgens prins Harry is daar juis ʼn paar geraamtes in die kas gelos, in ʼn poging om eendag vrede tussen hom en sy familie te verseker.

Wat lê nou voor?

Al het die stof rondom sy onthullings nog lank nie gaan lê nie, lyk dit asof die res van die Windsors nie afwyk van wyle koningin Elizabeth II se goue reël van “don’t complain, don’t explain” nie.

Of Harry en Meghan Meimaand in die Westminster-abdy te sien sal wees tydens koning Charles III se kroningseremonie, weet ons nog nie. Die egpaar fokus klaarblyklik nou op die werk van hul stigting, Archewell.

“Daar is baie wat tussen nou en dan kan gebeur, maar die deur is altyd oop. Op dié tydstip is die bal is in hul hande,” het hy in sy Netflix-dokkie oor die verhouding tussen hom en die Britse koninklikes gesê.

Die vraag is seker nou hoe lank ons gaan moet wag voordat ons eendag Meghan se memoires langs haar man sʼn op die winkelrakke kan sien?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

annie ·

Archewell… Die seuntjie se naam? Net hy? Wat van die dogtertjie? Sien? Sodra daar meer as een kind in ‘n gesin is, is daar tweespalt. Jaloesie tree in wanneer ouers nie versigtig is nie of wanneer daar soos in die geval van koninklikes ‘n troonopvolger volgens seker reëlsmaat aangewys word. Harry en Megan se jaloesie vorm die omslag van Spare. Megan is die ware outeur.

Harley Davidson ·

Regte drama queen die man en sy vrou nou beswadder hulle almal in die koninkryk maar maak eintlik net gekke van hulself.

PersHeks ·

Ek is juis besig om die boek te lees (het hom verniet gekry want ek sal beslis nie dit koop nie). So van kla het ek lanklaas gehoor! Net soos die skrywer hier bo genoem het, is daar regtig ‘n paar goedjies wat baie persoonlik is en niks met die wereld te doen het nie. Tussen al die tequila drink saam sy “mates”, boom rook en die aardbol deurkruis (van die noordpool tot die suidpool), het die arme prins darem ‘n baie swaar lewe!!!

George ·

Ja want rykdom is mos alles. Selfs die rykstes van die ryk kan n moeilike lewe he, al glo jy dat geld die oplossing is.

Elize ·

Siestog hierdie seuntjie kry nie sy sin nie nou word almal blameer. Plaas dat hy sommer uit die land verban word

kragaap ·

Hy moet eerder jammer wees oor hoe hy sy “lineage” opgemors het…….

Mariana ·

Nee kyk genoeg van hom en sy vrou se gekerm. Hulle geniet die aandag darem net te veel. Die koningshuis val ook uitmekaar. Elke dag nuwe stories en skandes. Tyd van konings en prinse is verby. Hulle lewe ook net die staatskoffers leeg en doen ook niks om dit te verdien nie. Maar aan die anderkant kry hulle elkeen wat hulle verdien. Harry se toutjies word deur vroulief getrek, William doen wat sy pa gedoen het, minnares is daar. Klink maar soos Engeland se geskiedenis in koningshuis deur die eeue. Seker vermaak vir baie, vir ander is dit nie so lekker nie. Wonder wat Diana se reaksie op als sou wees as sy haar seuns vandag moes sien en hoor. Weliswaar niks om op trots te wees nie.

George ·

Sjoe, maar julle is darm maar n klomp suurknollw op die blad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.