SA komediant maak naam in buiteland

Schalk-Bezuidenhout

Schalk Bezuidenhout (Foto: Verskaf)

Die komediant Schalk Bezuidenhout is ʼn bekende gesig op die Suid-Afrikaanse kassie, maar dié krulkop-akteur is besig om ook in die buiteland vinnig opslae te maak.

Bezuidenhout, bekend vir sy rol in die kykNET-komediereeks Hotel en as aanbieder van die VIA-program Die Kliek, het aan Maroela Media vertel hy het onlangs aan die Montreux-komediefees in Switserland deelgeneem.

Dit is hier waar ʼn internasionale talentsoeker hom raakgesien het en hy is nou amptelik deel van die Mick Perrin Worldwide-agentskap, wat komediante wêreldwyd verteenwoordig en bemark. Dié agentskap het groot name op sy boeke soos Trevor Noah, Simon Amstell, Ross Noble en Eddie Izzard.

“Montreux is ʼn stad in Switserland en die eerste amptelike taal wat daar gepraat word is Frans,” het Bezuidenhout vertel. “Die laaste drie jaar het hulle as deel van die fees ʼn Engelse gala-aand gehad, waar ek toe opgetree het.”

“Die gala-geleentheid groei verskriklik,” het Bezuidenhout gesê. “Daar was vanjaar omtrent dubbeld soveel mense as wat daar verlede jaar was. Die afgelope drie jaar tree daar ook ʼn komediant van Suid-Afrika af op, en dié jaar was dit my beurt.”

Die talentsoeker wat hom raakgesien het, het na afloop van die vertoning in Switserland per e-pos met hom kommunikeer. “Ek dink wat die deurslag gegee het, is die feit dat sy my in lewende lywe sien optree het. Agente wil altyd weet hoe jy op die verhoog is en of jou materiaal vars is,” het Bezuidenhout gesê.

Bezuidenhout wil volgende jaar baie meer oorsee optree, maar is tot Julie in Suid-Afrika besig met vertonings. “Ons begin ook in April werk aan ʼn lekker nuwe reeks vir kykNET. In die tweede helfte van die jaar wil ek saam met die Mick Perrin-span werk en alle tipe lande probeer besoek.

“Ek glo nie dit is onmoontlik om sukses te behaal op ʼn internasionale vlak nie, maar met die hulp van ʼn agentskap soos Mick Perrin kan ek dit baie vinniger regkry as in my persoonlike hoedanigheid,” het hy gesê.

“Dit is lekker om deel te wees van ʼn span wat jou in daardie opsig kan ondersteun, want mense het dadelik meer vertroue in jou as komediant as hulle weet jy word deur ʼn sekere agentskap verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.