SA Michelin-sjef skree vir die groen en goud

Jan Hendrik van der Westhuizen. Foto: Verskaf.

Soms kan jy ’n storie met net een sin opsom; in hierdie geval is dit ’n eenvoudige stelsin: Jan Hendrik van der Westhuizen is een van Suid-Afrika se beste uitvoerprodukte.

Maar jy koop mos nie ’n storieboek net om die kort beskrywing op die omslag te lees nie, of hoe? Aikôna. Jy lees daardie boek van voor tot agter en as daar ’n paar lekker hoofstukke is, lees jy dit sommer vinnig vir ’n tweede keer deur.

Suid-Afrika se bekroonde sjef – die eerste een wat ’n Michelin-ster ontvang het – se verhaal is ongetwyfeld ’n topverkoper; van Middelburg en Kaapstad in Suid-Afrika tot Apricale en Nice in Europa.

Soms is dit egter ook lekker om die storie vanuit ’n ander invalshoek te benader.

In hierdie geval met ’n bietjie meer van ’n sportaanslag. Vergeet dus maar net vir ’n paragraaf of twee van sy ongelooflike kreatiwiteit en sukses in die kombuis en leer vir Jan Hendrik as ’n entoesiastiese Suid-Afrikaanse sportondersteuner ken.

Hy kon weliswaar nie ’n rugbyfoto opspoor nie, maar het hy ’n paar oudskoolfoto’s gestuur. Foto: Verskaf.

“Ek was van kleins af met ’n fluitjie deur meneer Wilburs op die veld rondgejaag. Hy was ’n groot, rowwe man met ’n lang baard en my pa het altyd gesê dat hy ons mannetjies sal regruk,” het hy vir Maroela Media gesê.

“Eintlik was ek deksels bang vir hom gewees en dit was juis in daardie dae waar ek die bal aan die verkeerde kant van die pale gaan druk het. Ek onthou al die pa’s was bloedrooi in hul gesigte!” vertel hy laggend.

Op skool het hy haker gespeel.

“My ore was heeltyd rooi van die skrumwerk. Tot vandag het ek ’n ding oor my ore; hulle word baie gou rooi en ek het geleer om net ’n pakkie gevriesde ertjies op hulle te sit.”

“In my hoërskooldae (daar by Hoërskool Middelburg in Mpumalanga) het ek vir die H-span, of iewers daar rond gespeel, totdat ek orkesnote begin lees het. Rugby was werklikwaar nie vir my nie, maar tog dink ek dat dit vir my die nodige dissipline geleer het.”

Bekende rugbyspelers soos Juandre Kruger en Duane Vermeulen het al sy restaurant in Nice besoek. Foto: Verskaf.

Deesdae besoek talle sportsterre sy restaurant in Nice, Frankryk.

“Die Suid-Afrikaanse rugbymanne wat in Frankryk speel, besoek ons gereeld; so ook die atlete wat die Ironman doen en die fietsryers wat die Tour de France aandurf. Hulle maak gereeld dié kuipstop aan die einde van hul toer om ʼn bietjie fees te vier en ’n lekker doppie te geniet!”

Maar wat maak hy wanneer die Springbokke teen die Fransmanne op die Stade de France sou speel, of wanneer Kevin Anderson dalk vir Gael Monfils op Roland-Garros die stryd aansê?

“Ek ondersteun beslis vir Suid-Afrika! Ek is daardie mal ou in die kroeg wat kliphard skree en na wie almal kyk.”

Net soos in Suid-Afrika het die wêreldwye Covid-19-pandemie gesorg dat restaurante ook in Frankryk tydelik hul deure moes sluit.

“JAN het vroeër die week weer oopgemaak en ons gaan ons Suid-Afrikaanse klante beslis hierdie somer mis. Verlede jaar was daar aande waar daar omtrent net Suid-Afrikaners in die restaurant was.”

Hy is die enigste Suid-Afrikaanse sjef met ’n Michelin-ster. Foto: Verskaf.

Hy is bekend vir sy kreatiewe disse – hy is juis nou besig om ʼn dis met biesmelk op te tower. Maar wat sê hy vir die konserwatiewe oom wat oor die afwesigheid van rys, vleis en groete mor?

“Kom proe net een keer, dan praat ons weer!”

Sy kreatiwiteit lê dikwels in eenvoud opgesluit. Hy lag byvoorbeeld lekker as hy oor die Fransmanne se waardering vir mieliepap gesels.

“Ek het vir hulle pap en melk as voorgereg bedien met fyn stukkies biltong. Hulle het gedink dit is ’n ongelooflike konsep en ek het net in my mou gegiggel oor hoe eenvoudig dit eintlik is. Dit wys jou net: Smaak en hoe ons iets voorsit kan die wêreld se persepsie verander.”

Die besige restaurantlewe hou hom ook fiks.

“Ek het vir jare nie ’n motor in Frankryk besit nie, totdat ek onlangs vir my ’n 1962 Fiat 500 gekoop het. Alles is eintlik so naby hier en die karretjie is eintlik net nodig om na Italië of na die mark in Menton te ry.”

“My woonstel is 300 m weg van die restaurant, dus is stap deel van my daaglikse roetine. Andersins ry ek ’n bietjie fiets of swem sommer in die see. Ek moet bieg, ek is nie ’n oefen-fanatikus nie; ek is aktief op my voete besig vir so te sê die hele dag. En ek dink dit is genoeg.”

  • Wat is lekkerder as ’n vleisie op die kole terwyl daar oor sport gesels word? Jan Hendrik het ook ’n paar braaibroodjie-resepte gedeel wat Maroela Media binnekort sal publiseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Jan is nie net ‘n wereldklas sjef nie maar ‘n “wereldklas” mens ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.