SA musieklegende ondergaan noodoperasie

Clive Bruce (Foto: Facevook)

Die Suid-Afrikaanse countrylegende, Clive Bruce (72), ook bekend as die “Midnight Cowboy”, moes Sondagoggend ʼn noodoperasie ondergaan nadat daar ʼn aneurisme in sy maag was.

Bruce se bestuurder, Mara van den Bergh, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

Volgens Van den Bergh was sy nog Saterdag saam met Bruce, Lance James en ander kunstenaars by die Omaramba-vakansieoord in Buffelspoort vir ʼn musiekoptrede.

“Hy het gekla van maagpyn en dat sy maag geswel was. Maar ons het nie gedink dit was só ernstig nie. Hy het nog steeds die drie uur lange vertoning klaargemaak, hy was op sy stukke,” vertel sy.

Maar toe kry Bruce Sondag om 03:00 die aneurisme in sy maag. Sy vrou het hom onmiddellik na die hospitaal gehaas, wat Van den Bergh meen moontlik sy lewe gered het.

Clive Bruce (Foto: Facevook)

“Die dokters het gesê as sy vrou nie so vinnig gereageer het nie, sou sy hom dalk verloor het,” sê sy.

Bruce het Sondagoggend om 10:00 die noodoperasie ondergaan.

Van den Bergh sê die operasie was ʼn sukses, maar hy is nou in die waakeenheid en besoekers word nie by hom toegelaat nie. “Hy is rustig en onder verdowing. Dit gaan maar so goed soos wat dit kan ná so ʼn groot operasie,” sê sy.

Van den Bergh sê sy familie is rustig en hanteer dit sover goed. Bruce se vriende en familie is almal baie bly dat hy betyds by die hospitaal uitgekom het. “Hy is so ʼn wonderlike sanger, mense moet asseblief vir hom bid,” vra sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.