‘Salarisongelykheid’ het Hollywood aan die gons

Michelle Williams arriveer by vanjaar se Golden Globe-toekennings. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Dit het aan die lig gekom dat die aktrise Michelle Williams minder as 1% van haar mede-ster Mark Wahlberg se salaris verdien het om tonele oor te skiet vir die rolprent All the Money in the World.

Volgens CNN het USA Today Dinsdag berig Walhberg het $1,5 miljoen (sowat R18 miljoen) verdien om sy tonele oor te skiet terwyl Williams slegs $80 (ongeveer R995) per dag, wat ʼn totaal van minder as $1 000 (sowat R13 000) beloop, verdien het.

Dit is nie duidelik of Williams bewus is daarvan dat haar mede-akteur meer as sy betaal is vir die herskiet van die tonele nie. Sy het egter in Desember aan USA Today gesê sy is “bereid om te doen wat nodig is om die tonele oor te skiet”.

“Ek het gesê ek sal wees waar ook al hulle my nodig het, wanneer hulle my nodig het,” het Williams gesê. “En dat hulle my salaris of my vakansie kan kry, wat ook al hulle wou hê, want ek waardeer dit soveel dat hulle sulke groot moeite [met die fliek] doen.”

Die aktrise Jessica Chastain het ter ondersteuning van Williams getwiet en vir aanhangers gevra om na Williams se spel in All the Money in the World te gaan kyk.

“Sy is ʼn briljante aktrise wat vir ʼn Oscar benoem is en het ʼn Golden Globe gewen,” het Chastain Dinsdag op Twitter gesê. “Sy is al 20 jaar deel van die bedryf. Sy verdien dit om meer as net 1% van haar manlike mede-ster se salaris te verdien.”

Ander aktrises insluitende Mia Farrow, Amber Tamblyn en Sophia Bush het ook hul misnoeë op sosiale media uitgespreek oor die beweerde salarisongelykheid.

Williams en Wahlberg word deur dieselfde talentagentskap, William Morris Endeavor,  (WME) verteenwoordig, ʼn detail wat Bush in haar skrywe op Twitter uitgewys het.

“Om die ongelykheid in salarisse en harde bewyse van die geslagsgaping bloot te stel – nogal deur dieselfde agente – is nie ʼn heksejag nie,” het Bush gesê. “Dit is ʼn eis vir billike praktyke.”

Mark Wahlberg. (Foto: Rob Grabowski/Invision/AP)

All the Money in the World is vervaardig deur Imperative Entertainment en word versprei deur Sony se TriStar Pictures. ʼn Bron na aan die produksiehuis sê Sony is nie betrokke by salarisonderhandelinge nie.

Wahlberg word in Hollywood as ʼn uitgeslape onderhandelaar geken.

The Washington Post het al in November berig oor die salarisongelykheid vir die herskiet van die tonele. “Wahlberg, saam met sy bestuurder Stephen Levinson en die agentskap WME, het ʼn reputasie in Hollywood dat hulle ’n taai onderhandelaar is.”

Die Post, wat verwys het na bronne na aan die onderhandelings, het berig dat Wahlberg ten minste $2 miljoen betaal is vir ongeveer 10 dae se werk.

Walhberg is verlede jaar deur Forbes as Hollywood se hoogs betaalde akteur aangewys. Hy het na raming $68 miljoen (ongeveer R850 miljoen) huis toe gevat.

In Desember het All the Money in the World se Oscar-bekroonde regisseur, Ridley Scott, aan USA Today gesê “almal het dit vir niks gedoen”. Hy het besluit om tonele met Kevin Spacey, wat van seksuele wangedrag aangekla word, oor te skiet. Spacey is deur Christopher Plummer vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Ek was onder die indruk Hollywood en Kalifornië is die bakermat van liberalisme.
Stille waters, diepe grond, onder, dans die duiwel rond!

Kasparrie ·

Niemand gaan kyk die fliek oor die Williams vrou nie…Wahlberg trek die mense na die fliek toe…

Valerie ·

Goeie genade. Dis die einde van die wêreld soos alles kamtig gons. Niks gons nie. Pro-pa-gan-da…dis wat gons.

Heloise steyn ·

Mark is as die hoogs oorbetaalde (overpaid) en nie hoogs betaalde. Dit word bepaal deur die hoeveelheid geld wat hulle hom betaal en hoeveel geld hulle by die flieks maak

Karen Loots ·

Wonderlik dat die Lig begin skyn in die donker wêreld van ongelykheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.