
Theuns Jordaan se pa, Willie Jordaan, en die sangeres Juanita du Plessis, ondersteun mekaar voordat die kis in die kerk ingedra is. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)
Deur Dirk Hermann
Regop staan oom Willie daar. Hy kyk ons almal reg in die oë. Die orkes speel terwyl die sangers die kis indra. Die draers se gesigte is stroef.
Die emosie oorval vir Ricus Nel, opregte huil van ’n vriend. Steve Hofmeyr fluister vir my: “Dis rof.” Bobby moet aflees, want hy is te hartseer om te praat. Toe sing Dozi, so eg as kan kom en deur die trane. Sy kollegas was lief vir hom.
Ds. Pieter lees uit Jesaja. Hy het Theuns se Bybel. Jesaja was onderstreep en dit is hoekom hy dit lees. Uit Theuns se Bybel lees ds. Pieter nog teksverse, sommige dubbel onderstreep. Theuns se laaste Woord na sy dood.
Ons sing “Genade onbeskryflik groot”.
Oom Willie praat weer. Hy wil soveel as moontlik van sy seun sê. Die trane is in oom Willie se oë, maar hy bly regop. Hy huil, maar hy’s trots op sy seun. “Theuns was soms Willie en Willie soms Theuns,” sê die gebroke oom.
’n Stuk van oom Willie self is dood. Oom Willie sê hy en Theuns was soldate. Hulle was albei introverte, maar moes soms leef soos ekstroverte. Hy praat ook soos ’n militaris, presies en afgemete. Die mense is stil. Hulle luister na oom Willie. Lag selfs vir sy humor.
Hy sê hy en Theuns is plaasmense, lief vir die grond. Albei is uit dieselfde grond.
Tannie Maryna kan nie daar wees nie. Sy is te siek, maar oom Willie praat met haar deur die kamera. Die liefde vir sy blondekop is voelbaar.
Oom Willie praat nog. “Ek wil nie ophou praat nie. As ek ophou gaan julle hom kom vat. Dozi jy’s ʼn groot man, jy moet hulle keer. Julle gaan hom vat en op Bloutrein sit, hemel toe.”
Toe wys oom Willie hulle kan hom maar kom vat. Hy moet hemel toe.
Buite wag die militêre veterane. ʼn Doedelsak speel en daar is ʼn laaste eerbetoon. Oom Willie lig sy hand en salueer. ʼn Saluut vir sy seun se lewe.
Ek lig my hand en salueer ʼn pa wat so lief is vir sy seun. Saluut oom Willie!
Lees oor Theun Jordaan se gedenkdiens hier.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Saluut….. Kaptein. Theuns Jordaan. Rus In Vrede.
When a child loses his parents, they are called an orphan. When a spouse loses his or her partner, they are called widow or widower. When parents lose their child, there isn’t a word to describe them. RIV Theuns Jordaan✝️ Sterkte aan familie mag God jle vertroos en versterk in die tyd van rou
Saluut Oom Willie & Theuns Jordaan! Julle is die Sout van die Aarde! Daar’s ‘n baie Spesiale Plekkie vir julle in die Hemel! Sewekeer Saluut!
Die liefde wat oom Willie uitgestraal het, was sprekend van ‘n pa, wat nie net sy seun lief gehad het nie, maar hom ten volle gerespekteer het. Dit was opvallend dat oom Willie, al Theuns se vriende geken het – sommer so by die naam – net ‘n bewys dat Theuns die vrymoedigheid gehad het, om sy ouers nooit uit sy lewe te sluit nie. Oom Willie, ons salueer nie net vandag vir Theuns nie, maar ook vir Oom, wat vir ons gewys het, hoe ‘n seun in sy pa se voetspore kan volg. Rus sag, Theuns. Jy verdien jou… Lees meer »
Saluut! N baie groot boom het geval, maar die Hemel is n siel ryker.