Sanger gaan weer pa word: ‘Jy kan die geluk vir niemand beskryf’

Vaughan en Nerine (Foto: Instagram)

Vaughan en Nerine (Foto: Instagram)

Die sanger en liedjieskrywer, Vaughan Gardiner, sê hy ervaar ʼn onbeskryflike geluk en opgewondenheid oor die koms van hom en sy vrou, Nerine, se tweede dogtertjie.

Die sanger vertel Saterdag in ʼn telefoniese onderhoud hy en Nerine het in Februarie vasgestel dat hulle einde vanjaar ʼn tweede dogtertjie in hul huis gaan verwelkom.

Die egpaar het besluit om dié goeie nuus die eerste paar maande vir eers stil te hou. “Ons wou maar net seker maak dit gaan goed met die swangerskap voordat ons dit met aanhangers deel,” vertel hy. “Maar ons kon onsself onlangs nie meer keer nie; dis lekker om dié goeie nuus met almal te deel.”

Nerine is nou sowat vier maande swanger, vertel Vaughan. “Die dokters sê hulle is so 95% seker dis ʼn dogtertjie. Ek dink ons kan hulle maar vertrou; 95% is nogal ʼn heel hoë persentasie,” terg hy.

Vaughan saam met Ameline (Foto: Instagram)

Klein Ameline, ʼn verbinding van ʼn familienaam, is glo baie opgewonde oor die koms van haar babasussie. “Ek en Nerine is albei ook ongelooflik opgewonde,” sê hy. “Ons voel dié keer meer voorbereid; ons het darem mos nou al twee jaar ʼn paadjie met klein Ameline gestap. En dis tog anders: ek is meer opgewonde as bang vir die onsekerheid hierdie keer. Ons weet nou wat voorlê. Of altans, ons weet wat om vir die eerste twee jaar van die nuweling se lewe te verwag. Ons is darem voorbereid; ons het nog altyd vir mekaar gesê dit sou wonderlik wees as ons kinders so twee jaar uiteen kon wees.”

Nerine het in 2014 op agt weke swangerskap ʼn miskraam gehad. Die sanger sê hulle het destyds gehoor Nerine het ʼn tekort aan ʼn sogenaamde proteïen-s waarvoor sy nou, soos ook tydens haar swangerskap met Ameline, behandeling moet ontvang.

“In dié stadium gaan alles werklik baie goed. Ameline is vroeggebore, maar ons glo Nerine gaan ʼn gesonde swangerskap hê. Ons is baie opgewonde oor die einde van die jaar – veral omdat ons weet watter geluk so ʼn klein mensie in jou lewe bring. Jy kan dit vir niemand beskryf totdat hulle dit self ervaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.