Sangeres bak kolwyntjies vir kankerlyers

Chané Valentine het beloof om 100 kolwyntjies te bak vir Mandela-dag. Foto: Perfect Capture Photography

Die bekende sangeres Chané Valentine het onderneem om 100 kolwyntjies te bak om haar deel vir Mandela-dag te doen.

Valentine gaan die kolwyntjie-projek aanpak saam met die Cupcakes of Hope-inisiatief, wat geld insamel om kinders wat kanker het by te staan.

“Ek is al sedert 2013 betrokke by dié projek en ek probeer soveel as moontlik doen. Enigiemand kan kolwyntjies bak en dit dan skenk aan Cupcakes for Hope. Hulle verkoop dit dan en die geld gaan aan die kinders met kanker,” het sy gesê.

Valentine sê sy het besluit om by hierdie inisiatief betrokke te raak omdat die kwessie iets is waaroor sy passievol is.

“Kinders en diere lê my baie na aan die hart. Kinders en diere kan nie vir hulself sorg of vir hulself dink soos ʼn volwassene nie; hulle is afhanklik van ons. So ons moet seker maak ons sien om na hulle. Ek probeer altyd help waar ek kan en ek dink dit is belangrik om jou deel te doen,” het sy gesê.

Valentine het gesê dat sy saam met dié inisiatief al voorheen ʼn Wêreldrekord losgeslaan het.

“Ons het in 2017 ’n Guinness-wêreldrekord opgestel vir die hoogste toring van kolwyntjies.” Dié toring was ʼn reuse 10,77 m hoog en het bestaan uit 6 370 kolwyntjies.

Vir meer inligting oor dié inisiatief besoek Cupcakes for Hope se webtuiste of Facebook-blad.

Chané Valentine is op 20 Oktober te sien by die Jonk in Afrikaans-konsert, saam met Franja du Plessis, Elvis se Seun, Irene-Louise van Wyk en nog baie ander. Vir meer inligting oor dié konsert klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.