Sangeres se pienk bondeltjie gebore

warren linden

Warren Linden met Aleiah Rose in sy arms. (Foto: Instagram/Charlize Berg)

Die Afrikaanse popsangeres Charlize Berg en haar man, Warren Linden, se babadogtertjie is Dinsdag gebore.

Die dogtertjie heet Aleiah Rose en is volgens Ilse van der Berg, Charlize se ma en bestuurder, by ʼn hospitaal in Centurion met ʼn keisersnit in die wêreld gebring. “Charlize is in die wolke, ons almal is!” het sy aan Maroela Media gesê.

“Ons was die hele dag daar en alles het baie goed verloop. Mamma en baba is albei baie gesond en sterk. Ons is almal regtig verskriklik bly.” Aleiah Rose is 49 cm lank en weeg 2,94 kg.

Die sangeres het in November verlede jaar op sosiale media aangekondig dat sy swanger is. “Ons is so opgewonde om hierdie wonderlike nuus met almal te deel! Ek en Warren verwag ons eerste wonderwerkie. Verby opgewonde en onbeskryflik dankbaar. Alle eer aan God! Jakobus 1:17: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo,” het sy op haar Instagram-profiel gesê.

Charlize Berg. (Foto: RDK Photography/Instagram/Charlize Berg)

Berg neem ʼn kort hiatus om na die nuwe lyfie in die huis om te sien, maar aanhangers sal haar teen Julie weer op verhoë landwyd kan sien.

Berg en Linden is in April verlede jaar getroud.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.