Sangeres vertel hoe sy ma van kaper red

Nadine. (Foto: www.nadine.net)

Nadine. (Foto: www.nadine.net)

Nádine, sangeres en aanbieder van die SABC 2-musiekprogram Musiek Roulette, het Donderdag flink gereageer toe ʼn kapingsdrama voor haar in Malibongwe‑rylaan in Johannesburg afgespeel het.

Die sangeres het Maandagoggend op Jacaranda FM aan Martin Bester tydens sy ontbytprogram vertel hoe sy haar ma van ʼn vermeende kaper gered het toe sy met haar eie motor agter in haar ma se motor vasgejaag het om die kaper te verjaag.

“Dit was helder oordag, omstreeks 18:00. Ek was net klaar met opnames vir Musiek Roulette en was op pad huis toe. Ek het enkele oomblikke voor dit vir my ma spasie gemaak om voor my in te ry en ons het by die verkeerslig stilgehou. Dit was die tweede laaste verkeerslig voordat ek op die N1 sou klim,” het Nádine vertel.

Sy was besig om op haar selfoon se skerm te kyk toe sy gesien het hoe twee mans haar ma se motor nader. “Die volgende oomblik was hy met sy elmboë en kop binne-in haar motor en ek het geweet hulle is besig om haar te beroof. Ek het uit volle bors geskree: ‘Kom weg van my ma af!’”

Die sangeres vertel daar was baie beweging in haar ma se motor. “Hy het ʼn vuurwapen uitgepluk en dit op haar gerig. Ek het besef ek skree en gil en druk my toeter, maar dat niemand my gaan help nie. Sodra jy besef jy is op jou eie, dan moet jy iets doen.”

Nádine het instinktief met haar motor van agter af in haar ma se motor vasgejaag. “Twee maande gelede het hulle my op Simon Vermooten‑weg probeer kaap. Ek onthou die ouens het aan my kar se deure gepluk en ek het gesukkel om in eerste rat in te kom van skok. Gelukkig het ek ʼn paar weke gelede ʼn motor met ʼn outomatiese ratkas gekry. Ek het my voet neergesit en van agter af in my ma se kar vasgejaag.”

Sy vertel die impak was só groot dat haar ma se selfoon by die motor uitgevlieg en onder die motor te lande gekom het. “Ek kon sien hoe my ma se nek van die impak terugruk. Ek het so geskree, maar die kaper was kalm. Hy het toe op my afgekom en my begin dreig om my vensters oop te maak. Ek het besef hy gaan my vensters uitslaan en het toe my kar weer in trurat gesit en agteruit beweeg.”

Teen daardie tyd het die mense in die motors om hulle agtergekom daar is fout. “Die kapers wou nie die aandag op hulle hê nie en het spore gemaak, moontlik na ʼn wegkommotor of na hulle volgende slagoffer toe.”

Nádine is vol lof vir die polisiebeamptes wat Malibongwe‑rylaan patrolleer in ongemerkte motors. “Hulle het Malibongwe op en af patrolleer om seker te maak die ouens is nie elders besig om ʼn kaping uit te voer nie,” het sy gesê.

“Ek dink dit is dalk trauma, maar ek voel skuldig oor wat ek aan my ma en haar kar moes doen. Ek is wel dankbaar dat dit gehelp het om die ouens van ons af weg te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

VanAfrika ·

Moenie bekommer oor die kar, Nadine, dis aardste dinge. Jy het jou ma se lewe gered met jou vinnige optrede en jou brawade. Die kar kan reg gemaak word en die bedrag is nie jou ma se lewe werd nie. Wees dankbaar jy was daar en jou ma was nie alleen nie.

EP ·

Vele kapings vind plaas op Malibongwe “hotspot “. Mense moet maar bedag wees. Well done Nadine.

Milwa ·

Wat jy beskryf het is juis hoekom ek ook deesdae ‘n outomaties bestuur, sit voet neer en jy ry onder hulle uit! Goed gedink, die skade kan weer herstel word

ChristaT ·

Waar ek bly is dit helder oordag. Net omdat jy op ‘n plek bly wat donker soos ‘n grot is beteken nie orals is dit dieselfde ne. Og sommige mense.

Jdy ·

Uit die hele stuk met die deel waar niemand ernstig seer gekry het nie, en al wat jy raak sien is “18:00 is nou nie helder oor dag nie” jis sterkte ???

Se maar net ·

Ek weet nie waar jy bly nie, maar by ons is dit 18:00 nog helder daglig… definitief nie donker nie….

VanAfrikaans ·

Ook nie die middel van die dag nie. So as jy iemand groet 18:00 se jy goeie middag? of praat jy van 6uur in die middag? nah.

Penelope ·

Nadine ek is bly julle is veilig na die voorval! As jy nie daar was nie dan het dinge dalk anders uitgedraai.

Bella ·

Dit is presies wat jy moet doen. My oorlede man het vir my gesê kom weg op watter manier ookal. Mooi gedaan Nadine?????????

GM ·

Ai jinne, jul stry nou oor die konsep van ‘helder oordag’, maar die persoon wat dit opgebring het is reg. Dit is dan alreeds ‘vroegaand’ al is dit nog nie donker nie. Of sê jul dit is Winter as dit die dag koud is, al val dit in die Somer-gedeelte van die jaar?
Mense wil nie gekorrigeer word oor feite nie, ook nie oor spelling en taalgebruik nie – in ‘n mate kan ek dit verstaan, want almal is nie ewe goed daarmee nie, maar hoe gaan ons jeug met mekaar kommunikeer as hul oor ‘n paar jaar nie eers die verskil ken tussen veras en verras (ens.) nie? Spell check en grammar check help net tot op ‘n punt.

K ·

Tyd en maande is helemal verskillend van mekaar. Jy sê tog nie Goeie Winter nie, jy sê goeie more in die oggend, of soos die lot dink kan ek seker 14:00 sê goeie more.

Sarie ·

As die “tyd” mense dit nog nie opgemerk het nie – die son sak later in die somer selfs soms 7 uur – so dit was dag gewees. Nadine – ek is bly jy en jou ma is veilig. Jy is ‘n wonderlike mens en het perfek gereageer. Ek sou dieselfde gedoen het. Dalk nog meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.