Schwarzenegger oor SA, fiksheid en geheim tot sukses

Arnold Schwarzenegger en sy seun Joseph (Foto: Instagram)

Arnold Schwarzenegger het in ʼn vraag-en-antwoord-sessie op Jacaranda FM vertel oor sy verhouding met Suid-Afrika, sy soettand en of hy ooit vir Amerikaanse president sal staan.

Die 71-jarige liggaamsbouer, akteur en voormalige politikus was onlangs in Suid-Afrika vir sy sportgeleentheid, die Arnold Classics Africa, wat van 17 tot 19 Mei in Johannesburg aangebied is.

Die Arnold Classics is ’n jaarlikse multisport-gebeurtenis ter viering van die verskeidenheid van sportsoorte. Meer as 47 verskillende sportsoorte is ten toon gestel, onder meer akrobatiese gimnastiek, boogskiet, pluimbal, vlugbal en stoei.

Schwarzenegger was in die nuus nadat op video vasgevang is hoe ʼn man hom by dié geleentheid hard in die rug skop.

Voor dié insident het Schwarzenegger-aanhangers egter ʼn gulde geleentheid gehad om in ʼn vraag-en-antwoord-sessie op Jacaranda FM alles te vra wat hulle nog altyd van hom wou geweet het:

Hoe het jou rolmodel, Reg Park, jou ʼn aanhanger van Suid-Afrika gemaak?

“Ek kom al hierheen vandat ek 19 jaar oud is. Reg Park [ook ʼn liggaamsbouer en akteur wat in 2007 oorlede is], is my rolmodel en het sy familie hier grootgemaak. Hy het alles gehad wat ek graag wou hê: sy liggaamsbou-loopbaan, sy rolprentloopbaan, sy besigheidsloopbaan én ʼn wonderlike familie. Ek wou by hom leer hoe om dit te doen. Ek het Suid-Afrika sien verander van apartheid tot hoe dit nou is.”

Hoekom is jy passievol oor die Arnold Classics?

“Ek was nog altyd passievol oor die bemarking van gesondheid en fiksheid. Ek voel dat wanneer jy ʼn bekende is, jy jou invloed vir ʼn goeie doel moet gebruik. Ek wil vir almal die reg gee om fiks en gesond te wees en om die geleentheid te kry om aan sport deel te neem. Ons het al baie met gestremdes ook gewerk.

“Ons wil almal insluit eerder as om vir kinders te sê hulle is byvoorbeeld te jonk om in die gimnasium te oefen omdat jou versekeringspolis dit nie toelaat nie. Ek dink enigeen moet die geleentheid kry om te oefen en om op dieselfde manier hanteer te word.”

Arnold Schwarzenegger en sy seun Patrick (Foto: Instagarm)

Hoe inspireer jy mense om jou?

“Mense koop in op my manier van dink. Hulle weet ek is ʼn doener en nie ʼn prater nie. Ek haat dit om tyd te mors deur te veel oor goed te praat, ek dóén dit eerder. En dit is dieselfde in die bemarking van fiksheid of die bemarking van ʼn skoon omgewing. Baie politici praat baie, maar daar is niks aksie nie. Ek probeer altyd druk om te sê: ‘Kom ons doen dit’.”

Wat is jou geheim tot sukses?

“Wanneer mens groot doelstellings stel, gaan mense jou altyd mal noem. Toe ek ʼn liggaamsbouer wou wees, het hulle gesê ek kan nie want ek kom van Oostenryk en dáár is mense geken vir sokker en ski, nie vir liggaamsbou nie. Toe ek ’n bekende akteur in ʼn fliek wou wees, het hulle gesê ek sal dit nie maak nie, want dis te moeilik om my naam uit te spreek, my aksent is te sterk en my liggaam is te groot. Toe ek vir goewerneur wou staan, het hulle weer gesê ek is mal.

“Ek sê net altyd mens moet honger bly vir sukses. Dit is beter om kanse te vat. En as jy dit nie maak nie, dan staan jy maar net op en jy stof jouself af. Ek vind groot vreugde in kanse vat.”

Het jy dae wat jy net eet wat jy wil?

“Ja. Ons het op pad Suid-Afrika toe in Londen vasgesit. Aanvanklik was ons jammer dat ons vlug vertraag is, maar toe ons na die nagereg kyk by die plek waar ons gewag het, het ons weer bly geraak. Want toe beteken dit net ons het vier ekstra ure om nagereg te eet, en ek het dit met ʼn groot glimlag op my gesig gedoen.”

Sal jy ooit vir president staan?

In die VSA word ek nie toegelaat [om dit te doen] nie. Om vir president te staan moet jy in Amerika of op Amerikaanse grond gebore wees. Ek het selfs probeer uitvind of my ma nie dalk ʼn verhouding met een of ander soldaat gehad het nie, maar dit het ook nie gewerk nie!

“Maar die realiteit is dat jy baie goeie verandering kan maak buite die presidensie, jy hoef nie president te wees om ’n verskil te maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kerrie Vlamskiet Briekstreep ·

.
.
Hoop hy voel beter na daai flying kick in die rug wat hy hier op Suid-Afrikaanse grond gekry het…dit was n rug-breker….so uit die bloute uit..kon “spinal” gewees het…en body-guard staan en slaap lekker….
.
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.