Shudufhadzo Mudisa wil met haar stil manier ʼn impak op Suid-Afrika maak en ʼn refleksie wees van meisies wat nie voorheen gedink het hulle kan die Mej. Suid-Afrika-kroon dra nie.
Shudufhadzo Abigail Musida (23) is in Oktober vanjaar as Mej. Suid-Afrika gekroon. Sedertdien het sy deurgeloop onder kritiek op sosiale media, veral omdat mense haar met Zozibini Tunzi, ʼn voormalige Mej. Heelal vergelyk. Vir Shudufhadzo, of Shudu soos haar vriende haar noem, is daar egter belangriker sake om aan aandag te gee as aanlyn kritiek.
Shudufhadzo het grootgeword in ʼn klein nedersetting in Ha-Masia in Limpopo. Sy vertel aan Maroela Media dat sy as kind baie meer uitspattig was as wat sy nou is.
“Ek was ʼn baie energieke kind, ek was lief vir vertonings hou en om te dans en sing rondom die nedersetting. Ek het baie vriende oral gehad en ek was ʼn regte rabbedoe. Dit was hoe ek as ʼn kind was, maar soos ek ouer geword het, het ek meer skaam en stil geword,” sê sy.
Deesdae straal Shudufhadzo wysheid, krag en skoonheid uit, maar sy sê dit is nie aldag wat sy alles so mooi bymekaar hou nie. Juis daarom het sy vir ʼn lang tyd gedink sy sal nie geskik wees vir die rol van Mej. Suid-Afrika nie.
“Daar is dae wat ek netjies, gegrimeer en goed versorg is, maar dan is daar ook dae wat ek net in my sweetpak wil rondloop, op my eie ʼn boek wil lees of musiek wil luister. Ek is beslis ʼn introvert,” sê sy.
Shudufhadzo het eers besef sy kan albei dié meisies wees en stééds op die Mej. Suid-Afrika-verhoog stap toe sy Zozibini Tunzi op die verhoog gesien het.
Zozibini is in 2019 aangewys as Mej. Suid-Afrika en het kort daarna ook die wêreld se harte gesteel toe sy as Mej. Heelal 2019 aangewys is.
“Vir jare het ek nie gedink ek kan vir Mej. SA inskryf nie, want ek is nie altyd die mees put-together mens nie. Ek het gedink ek moet ʼn girly-girl word om vir so iets in te skryf, en ek was nog altyd meer van ʼn rabbedoe.
“Maar toe ek Zozi sien het ek besef dit ís moontlik vir my om in te skryf met my kort hare en dit ís moontlik vir my om op so tipe verhoog te staan en steeds ʼn rabbedoe te wees.”
Shudufhadzo sê Zozibini was vir haar ʼn verteenwoordiging van haarself en dat Zozibini se kort, natuurlike hare, veral ʼn impak op haar gelaat het.
“Ek het gesien jy hoef nie die lang hare te hê nie – as jy wil kan jy – maar jy hoef nie. En daardie opsie, om nie lang hare hóéf te hê het nie, was baie belangrik vir my want dit het my laat besluit om op daardie verhoog te gaan.”
Op haar eie manier wil Shudufhadzo nou mense se harte aanraak soos die vroue waarna sy self opkyk: haar ma, haar ouma, Michelle Obama en Phumzile Mlambo-Ngcuka. Dít is die soort vroue waarmee sy haar kan vereenselwig.
“Ek kyk op na hierdie tipe mense omdat hulle ʼn sagte krag het. Hulle kan aandag behou en ʼn platform versterk sonder om harder te moet praat. Ek dink daar is baie krag in hierdie soort sagtheid, en dat die wêreld luister as hulle op hul eie manier praat.”
Een van Shudufhadzo se grootste bronne van aktivisme, en iets waaroor sy reeds by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gepraat het, is die belang van geestesgesondheid en toegang tot geestesgesondheidhulp.
“Een uit elke drie mense sal in hul leeftyd met geestesgesondheid sukkel, maar slegs een uit elke tien van daardie mense sal toegang tot gepaste gesondheidsdienste kry. Selfmoord is die grootste rede vir sterftes onder mense tussen die ouderdomme van 15 tot 29, en dit is baie hartseer,” sê sy.
Sy sê dit is vir haar belangrik om die stigma van geestesgesondheid af te breek, omdat sy so baie mense gesien het wat daarmee sukkel waar sy grootgeword het.
“Ek het grootgeword in ʼn nedersetting waar mense wat sukkel met geestesgesondheid gebrandmerk word, hulle word deur die samelewing verwerp en selfs vasgeboei.
“So vir my is dit belangrik om die manier waarop ons as ʼn samelewing oor geestesgesondheid dink te verander. Om ʼn gesprek daaroor te begin, wat nie ʼn taboe gesprek is nie, maar eerder ʼn gesprek wat kan begin om ons samelewing te rehabiliteer sonder om iemand te verneder.”
Shudufhadzo sê sy sien uit na haar jaar as Mej. Suid-Afrika omdat sy so baie mense kan ontmoet en dat ander mense ʼn impak op haar lewe kan hê.
“Tydens my tuiskoms in Ha-Masia verlede week kon ek soveel glimlagte sien en mense se pragtige gesigte, maar dit was amper asof my gesig ʼn spieël van hulle gesigte was – die refleksie van die meisie van die nedersetting. Dit is vir my ʼn groot verantwoordelikheid, maar ook ʼn voorreg.”
Sy is pragtig, nie n sak bene nie