Simoné, Andries Pretorius deel groot nuus

Simoné Pretorius en haar man, Andries, het Maandag die goeie nuus van haar swangerskap gedeel. (Foto: Reece van der Merwe/Dis Reece)

Die aktrise Simoné Pretorius en haar man, Andries, het pas aangekondig dat sy swanger is met hulle eersteling.

Pretorius het dié nuus Maandag op sosiale media gedeel met ʼn reeks foto’s van haar en Andries wat spog met sonarfoto’s van hulle pienkvoet.

Sy het ook ʼn grappige video op Instagram gedeel waarin Andries te sien is waar hy ʼn speelpakkie vashou en sonarfoto’s teen die yskas geplak is.

“Woorde is nie genoeg om ons euforie te beskryf nie. Dit is die grootste droom wat vir ons bewaarheid is,” het Pretorius by die foto’s geskryf.

“Elke beweging wat ek maak, word gemaak met ʼn akute bewustheid van jou teenwoordigheid. Elke kykie na jou gesig bring my op my knieë. Die lewe begin in die baarmoeder en God is gewer van lewe. Ons is oorweldig deur die perfeksie van Sy tydsberekening en hoe onverdiend ons is van hierdie genade.”

Sy het bygevoeg dat dit ʼn moeilike geheim was om te hou. Die baba sal in Mei volgende jaar sy of haar opwagting maak. Die geslag van die baba is nog nie bekend gemaak nie.

Pretorius het bekendheid verwerf met haar rol as Nadia in die SABC 2-sepie 7de Laan en was te sien as die huwelik-sku Irma Humpel in die lokettrefferrolprent Vir die voëls. Sy het ook weeksaande op die kassie gekuier as suster René Spies in die kykNET-sepie Binnelanders.

Sy en Andries, ʼn eiendomsontwikkelaar en sakeman, is in Februarie verlede jaar by die Lunikhy-wildsplaas buite Bela-Bela getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.