Skink ʼn glasie saam met Die Heuwels

Borrels

(Foto: Verskaf)

Die bekende Afrikaanse musiekgroep Die Heuwels Fantasties se naam pryk nou nie net op CD’s nie, maar ook op die etiket van ʼn baie spesiale Kersseisoen-vonkelwyn.

Dié vonkelwyn, genaamd Borrels vir Kersfees, sal eersdaags op die winkelrakke beskikbaar wees. Borrels vir Kersfees is in samewerking met Van Loveren gebottel en is eksklusief beskikbaar gestel tydens die Afrikaans is Groot-konserte. Dit het konsertgangers gaande gehad.

Hoewel nie een van die manne in dié groep kan wyn maak nie, lê hul geskiedenis in die Boland-wynroete en hou hulle van hoe die Chardonnay Pinot Noir-vonkelwyn proe.

“Ons aanvanklike idee was om die musiek te gebruik om eendag ʼn wynplaas of ateljee te besit,” skerts Pierre Greeff, hoofsanger van dié gewilde groep. “Nie een van ons weet enigiets van wyn-maak af nie, maar gelukkig en met die hulp van Van Loveren is ons nou een stappie nader aan ons onrealistiese droom!” lag Greeff.

heuwels

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Verskaf)

Hy meen die ryp, vrugtige neus en sappige droë afwerking sorg daarvoor dat Borrels vir Kersfees se Chardonnay Pinot Noir die ideale vonkelwyn vir enige geleentheid is.

“Almal kort ietsie vir die gekerfde senuwees rondom die feesgety,” sê Hunter Kennedy, kitaarspeler en sanger vir die groep. “Borrels vir Kersfees is vir samesyn en geluk en help miskien om so bietjie te vergeet en te vergewe ook.”

Die Heuwels Fantasties was te sien in die uitverkoopte Afrikaans is Groot-vertonings by die Sun Arena, Times Square, by Menlyn Maine.

Hulle album OKAY! is in Mei vanjaar uitgereik en is beskikbaar op iTunes in uitgesoekte winkels landswyd.

Kyk hier na die video vir “Laaste rondtes”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.