Só bring bekendes Kersfees deur

Lizz Meiring (Foto: Verskaf)

Die bekendes woeker behoorlik gedurende die jaar om by elke vertoning of opname uit te kom waar hulle moet wees. Maar tydens die Desember-vakansie, en veral oor Kersfees, skakel almal ʼn bietjie af. Maroela Media het by dié bekendes gaan aanklop om te hoor hoe hulle Kersfees deurbring.

Lizz Meiring: “Ek gaan vir Kersfees by my huis in Johannesburg wees. Ek wil vir eenkeer in my lewe net lekker ontspan. Ek sal seker ʼn draai by pelle ook gaan maak, en ek het klomp tekste om te skryf, so ek sal seker óf werk óf ontspan.”

Snotkop: “Ek is gelukkig vir twee dae oor Kersfees by my mense tussen toerdatums deur. Ek is Kersfees in die Kaap by my strandhuis saam met my ma Esther en broer Sharl en ’n paar vriende.”

Ghapi: “Ek en my vrou, Ingrid, gaan in Pretoria saam met my skoonouers kuier vir Kersfees. Ons gaan lekker braai, nonsens praat en die dag geniet.

Leandie du Randt Bosch: “Ek, Bouwer, my broer en sy vrou en hul kinders gaan die vakansie bietjie Kaapstad toe. Ons gaan klomp plekke in die Wes-Kaap besoek. Dit is die eerste Desember in drie jaar waar ek en my man nie op die strand pamflette hoef uit te deel vir mense om ons fliek te gaan kyk nie. Ek dink ons en die publiek is dankbaar daarvoor. Ons gaan net ʼn bietjie kan rus.”

Cintaine-Schutte

Cintaine Schutte

Craig du Toit Nel: “Kersfees is vir my ʼn tyd om af te sluit en van alles te vergeet behalwe van die mense wat deur die jaar saam met jou elke dag jou paadjie hand aan hand gestap het. Ons sorg dat ons tuis is om Kersdag saam ons twee kinders en my gesin te kuier.”

Cintaine Schutte: “Ek gaan saam met my hele gesin en hul geliefdes in die Drakensberge wees. Ek sien vreeslik daarna uit want dis die eerste keer in ’n lang ruk wat ons almal weer saam Kersfees hou! Ek het ook vir myself ’n Kersgeskenk gekoop: ’n lugballonrit; net ek alleen. Ek kan nie wag om die hele Drakensberge van daar bo af te sien nie!”

Sorina die Flooze: “Kersfees gaan vir ons oor familietyd. Elke jaar roteer ons tussen my en my man se familie om by ons hartsmense te wees. Vanjaar is ons saam met mý ouers. Ons gaan ’n rustige somers Kersfees hier by ons huis in Irene deurbring na ons die oggend kerk toe is om eer te bring aan die Koning met sy verjaarsdag.”

Beer Adriaanse: “Ek is vanjaar saam met my ma se kant van die familie in Yzerfontein. Daar gaan ʼn miljoen kinders wees, en ten minste twee boerekosvariasies per kop. Ek eet merendeels nie vleis nie sodat ek oor Kersfees al die beestong in die wêreld kan eet.”

Hykie Berg (Foto: Hykie Berg, Facebook)

Hykie Berg: “Ek en ʼn vriendin gaan Oukersdag by haar ouers wees. Maar Kersfees is ek by my eie ma. Daarna gaan ek bietjie in Vleesbaai vakansie hou.”

Altus Theart: “Ons gaan ʼn bietjie Paarl toe. My broer‑hulle het pas teruggetrek van Windhoek af, so die hele familie gaan daar wees, en dit gebeur min dat ons almal so saam is. Ek sien baie uit daarna.”

Jack Parow: “Ek gaan saam met my familie na ʼn klein kusdorpie toe. Ons gaan daar vakansie hou. Ek is eintlik op toer, so ek het eers vakansie van Januarie af; ek het nog nege shows vir die jaar. So ek klap maar nog aan. Ons doen net ʼn lekker groot Kersfees‑middagete en is maar net saam rustig.”

De Klerk Oelofse: “Ek bring jaarliks Kersfees saam met my gesin deur in Boesmansriviermond in die Oos-Kaap. Ons hou gewoonlik net lekker rustig Kersfees; net die kinders kry eintlik geskenke verder eet ons lekker en kuier saam.”

de-klerk-oelofseRoeline Daneel: “Ek en my man, Werner, gaan vanjaar vir die eerste keer gasheer speel op Oukersaand. Sy ouers en my ma gaan by ons kom eet en kuier in ons woonstel in Oranjezicht, Kaapstad. Vanjaar is ook die eerste jaar wat ons ons eie (klein) Kersboom het, so ons voel behoorlik soos grootmense! Ons gaan heerlik kosmaak en beslis baie vonkelwyn drink. Kersdag gaan ons by my pa kuier voor ons die pad vat na Sandbaai vir ’n bietjie see en son.”

Sean van Noordwyk: “Vanjaar gaan my eerste Kersfees wees waar ek nie saam met my familie gaan wees nie. Ek gaan bietjie in Ballito wees saam met vriende. Ek wil net meer spontaan wees en elke dag vat soos wat dit kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.