Só sê bekendes oor vrouwees

Augustus is die maand waarin die vroue in Suid-Afrika geëer word. Die ma’s, die beroepsvroue, die vegters, vertroosters, woordkunstenaars en sportsterre. Elke vrou wat op ʼn unieke wyse so baie vir die wêreld en die mense om haar beteken.

Nasionale Vrouedag word in Suid-Afrika op 9 Augustus gevier, maar die hele maand word gebruik ter viering van vroue se krag en dapperheid, en die onmisbare rol wat hulle in die samelewing speel.

Maroela Media het by ’n paar vroue in die kunstebedryf gaan aanklop om bietjie meer oor húl sienings van die skoner geslag uit te vind.

Charlize Berg. (Foto: Facebook)

Charlize Berg

Dink jy dit is belangrik om Vrouemaand te vier en hoekom?

Ek sal Vrouemaand altyd met trots vier. Ek glo dat vroue dit sáám moet vier. Om vrou te wees, is om baie sterk te wees. Ek is ook ’n mamma, en ek het ongelooflike respek vir ander vroue wat hierdie dubbele rol moet speel . Ja, dit is ’n maand vir sterk vroue – mag ons een wees, mag ons ons dogters ken en met respek grootmaak.

Wat is jou definisie van vrouwees?

Ek herhaal: om vrou te wees, is om sterk te wees, maak nie saak wát die lewe na jou kant toe gooi nie. Ek glo ’n sterk vrou het ander lief, ’n sterk vrou vergewe, ’n sterk vrou bly nie tob oor dinge nie, ’n sterk vrou probeer weer en weer. Dít is vrouwees.

Wat dink jy is die grootste uitdaging wat vroue in Suid-Afrika moet hanteer?

Ek dink in vandag se samelewing – en nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd – sit vroue baie druk op hulself om altyd perfek te lyk en perfek te wees in alles wat hulle doen. Maar dit is so onnodig uitdagend en met tye so onrealisties. Ek wil ander vroue motiveer en sê: Glo net in jouself en wees lief vir jouself net soos jy is. As ons almal onsself lief het, is dit die sterkste wat ons kan wees.

Erica Wessels. (Foto: Eric Uys)

Erica Wessels

Wat is vir jou die lekkerste ding van vrouwees?

Daar is baie vorme van vrouwees op die spektrum. Ek is die vroulike, kleurvolle, emosionele en kreatiewe een. Konneksie en egtheid is vir my belangrik en lekker. Ek hou van die feit dat ons baie dinge gelyktyding kan doen sonder dat ons perspektief verloor. Dat ons eerlik kan kyk en sien en komplekse dinge aanpak, wat miskien moeiliker en minder natuurlik voorkom vir die meeste van die manlike geslag.

Wat dink jy is die grootste uitdaging wat vroue in Suid-Afrika moet hanteer?

Ek dink nie Suid-Afrikaanse vroue se uitdagings is noodwendig anders as ander vroue in die wêreld nie, afhangende natuurlik van die konteks waarin hulle hulself as individu bevind. Party vroue in Suid-Afrika moet sterk staan as ma’s en huweliksmaats te midde van enorme finansiële druk en armoede; party moet sterk staan in hul identiteit as enkellopende vrou of ʼn vrou wat kies om nie kinders te kry of wat nie kan nie, óf wat besluit sy wil bloot ’n alternatiewe pad volg. Ek dink dis ʼn menslike stryd en nie noodwendig uniek aan ons geslag nie.

Leandie du Randt. (Foto: Mandy Stander Photography)

Leandie du Randt

Dink jy dit is belangrik om Vrouemaand te vier en hoekom?

Ek dink dis belangrik as mens kyk na hoekom Vrouemaand gevier word… met die optog na die Uniegebou in verset teen die paswette destyds, was dit vroue wat alleen opgestaan het vir vroueregte. Dit is belangrik om dit te onthou, want uit die geskiedenis besef mens dat vroue die wêreld kan verander as hulle saamstaan.

Veral in vandag se tyd met die #MeToo-beweging, en kompetisie en geniepsigheid en katterigheid wat onder vroue kan gebeur… as vroue saamstaan en mekaar ondersteun en aanmoedig, eerder as wat hulle teen mekaar kompeteer, is hulle net soveel meer powerful. Dis belangrik dat vroue erkenning kry vir hoe sterk hulle regtig is.

Wat is jou definisie van vrouwees?

Vrouwees is om vreesloos en unapologetically jouself te wees. Die meerderheid van vroue kry dit reg om werklik hulself te wees en skroom nie om dit te wys nie. As hulle in ʼn vertrek instap, is hulle wie hulle is. Van die mooiste eienskappe van vroue, is om haar emosies te wys en uit te reik na ander, maar terselfdertyd sterk te kan wees en spreekwoordelike houe te vat as dit nodig is.

As jy saam met vier vroue – uit die hede of verlede – kan gaan koffiedrink, wie sal dit wees?

My ma – ek sou mal daaroor wees om nou saam met my ma te kon koffie drink. Toe sy siek geword het, was ek 18, en nou is ek 31, so dit sou interessant wees om te sien hoe ons nou met mekaar sou kommunikeer. Sy is vyf jaar gelede oorlede. Oprah is die volgende een, ek is mal oor haar, ek het nog nooit in my lewe ʼn rolmodel gehad nie, maar sy is vir my een en ek luister graag na haar podsendings. Die aktrise Nina Dobrev en die skrywer Brené Brown. Laasgenoemde het ongelooflike konsepte wat sy in die wêreld sit.

Lizz Meiring (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Lizz Meiring

Wat is die een les wat jy vir alle mans oor vroue sal wil leer?

ʼn Baie eenvoudige gesondheidwenk: Vroue het “winkellug” nodig, soos mans berglug, seelug, gholf-lug, visvanglug nodig het. Daar is natuurlik vroue wat ook so is en dis gewoonlik nie vroue wat hoë hakke dra nie (lag). Dit is ʼn lug wat ons moet inasem net om beter te voel. Meneer, as jou vrou jou rasend maak, vat haar of stuur haar na die grootste naaste konglomerasie van winkels toe, los haar daar en sê sy moet jou bel wanneer hulle haar by die deure uitdruk. Dit gaan nie noodwendig oor koop nie, dis oor die stimulus en om daai lug in te asem.

As jy saam met vier vroue – uit die hede of verlede – kan gaan koffiedrink, wie sal dit wees?

Daar is soveel fenomenale vroue. Toe ek ʼn kind was, het ek ʼn foto gesien van die eerste moordenares in Suid-Afrika, haar naam was Maria Groesbeek, en sy het ʼn klein hoedjie met pers viooltjies op gedra. Sy lyk na ʼn baie interessante karakter, so ek sou graag saam met haar wou tee drink of koffie… of miskien iets sterker.

Issie Smuts, Jan Smuts se vrou, was ʼn fassinerende en ongelooflik intelligente vrou. Emily Hobhouse, weer ʼn onbeskryflike brawe vrou.

Koningin Elizabeth II is amper 95 en sy moet ʼn baie sterk vrou wees wat verskriklik baie vir haar nasie en die Statebond beteken. Ek glo nie daar is iemand wat so hard werk soos sy nie, en wat so gekontroleerd ten opsigte van haar eie emosies moet leef. Betreffende die kunste is daar ʼn Amerikaanse skilder met die naam Georgia O’Keefe wat my al dekades lank fassineer.

Hierdie is almal baie uiteenlopende mense, maar die goue draad is dat nie een van hulle vir ʼn sekonde in hul eie individualiteit getwyfel het nie.

Dan is ek ook mal oor Mickey en Minnie Muis, maar ek wil vir Minnie vra of sy voel sy is bietjie in Mickey se skaduwee. Sy is net vir my ongelooflik glamorous.

Wat is vir jou die lekkerste ding van vrouwees?

Om hoë hakke te kan dra, maar die interessante ding is hoë hakke is nie vir vroue uitgedink nie. Leonardo da Vinci was, volgens oorlewering, die persoon wat hoë hakke ontwikkel het vir die slagters in die Renaissance-tydperk. Hoë hakke gee my moed op ʼn dag wat ek nie moed het nie, dit laat my langer en sterker voel. Daarmee sê ek nie mans wat wil hakke dra, mag dit nie doen nie, maar dit lyk nie altyd so goed nie, maar to each his own…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.