Só spandeer bekendes Kersfees

Argieffoto

Van ʼn tradisionele Kersvakansie by die see rondom ʼn groot tafel tot Kersfees op die pad besig met ʼn bemarkingstoer – Maroela Media het by sommige van jou gunstelingbekendes ingeloer om te hoor hoe hulle dié Kersfees deurbring.

Nataniël

Ons is almal in die Kaap, maar almal het ander planne, kinders en alles anders wat nodig is om stres te veroorsaak. Daar is geen familie-ete nie; elkeen doen wat hom pas en dan is daar Kersnamiddag ’n groot byeenkoms met koek en sjampanje. Ek sien baie uit en vermoed dit gaan ’n perfekte oplossing wees totdat al die kleinkinders en peetkinders eendag groot is.

Steve Hofmeyr

Hierdie jaar is dit net my gesinnetjie van drie. Ons sal moontlik nog reis op Kersdag, maar Kersaand in stilte vier.

Chris Chameleon

Kersfees is helaas nou reeds drie dekades lank ʼn gebeurtenis wat presies saamval met ʼn druk toerskedule. Ek spandeer gewoonlik die dag as ʼn afdag op ʼn plek êrens tussen die vorige optrede en die volgende. Vanjaar doen ek darem die moeite om na my strandpondokkie in die Oos-Kaap te ry en wie weet, dalk selfs ʼn boud in die oond te gooi terwyl ek in my beminde se oë kyk met Boney M se krismisplaat in die agtergrond.

Leandie du Randt

Ek spandeer Kersfees saam met my man [Bouwer Bosch] en ons vriend, Bennie Fourie, en die toerspan van die fliek Vuil Wasgoed. Ons sal op die pad wees besig met Vuil Wasgoed en Thys en Trix se bemarkingstoere, so ons almal gaan mekaar laat special voel.

Joshua na die Reën

Ons kuier saam by die see. Ons het nie noodwendig Kerstradisies nie, ek dink ek raak hierdie tyd van die jaar net bewus van dit wat ek het en dit vul my gemoed met vrede.

Je-Ani Swiegelaar

Ek’s hierdie jaar tydens Kersfees nie by al die familie nie. Ek gaan bietjie oorsee en sal by my tannie in Dubai wees, lekker eet en rustig wees.

Schalk Bezuidenhout

Ek spandeer Kersfees vir die eerste keer ooit nie saam met my familie nie. ʼn Vriend van my het onlangs geskei en baie spontaan Swede toe getrek, so ek het besluit in plaas daarvan dat hy alleen in die koue sit, gaan ek vir hom kuier. So ek is in sneeuwit Stockholm. As ek sê sneeuwit, praat ek nie van die mense nie, ek praat van die weer.

Hykie Berg

Ek en Melissa gaan Kersfees alleen spandeer in die berge anderkant Dullstroom.

Altus Theart

Dis hierdie jaar weer skoonma, Elzet Maarschalk, se beurt om Kersfees-gasvrou vir die familie te speel. Ons gaan die dag by hulle spandeer en lekker groot eet! Alexander het verlede jaar vir sy eerste Kersfees saam met ons by my ma-hulle gekuier.

Francois van Coke

Ons het twee gróót Kerspartytjies. Ons spandeer Oukersaand saam met my familie en Kersdag saam met my vrou se familie. Kersfees is vir my net ʼn tyd van liefde en samesyn en om die familie te sien.

Bouwer Bosch

Hierdie jaar is bietjie van ʼn werkende vakansie waar ons die flieks Vuil Wasgoed en Thys en Trix al langs die kus gaan bemark. Hierdie jaar is dit net ek en my vrou en ons ongelooflike span van studente wat ons help die vakansie.

Marion Holm

Ek en Marietjie sal by Christene, my middelste sus, en Pieter, haar man, en hulle uitgebreide familie spandeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Ek weet mens spandeer geld, maar hoe spandeer mens Kersfees?

Veritas ·

Is daar regtig mense wat omgee om te weet hoedat bekendes hulle Kersdae spandeer?

Valerie ·

Wil ook weet, en ek wil ook weet wie/wat kwalifiseer as “bekende.” Het nog nooit van meer as die helfte “bekendes” gehoor nie? Het hulle kook “shows” op TV?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.