Só verander Demi-Leigh se lewe as Mej. Heelal

Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Facebook via Miss Universe)

Demi-Leigh Nel-Peters is pas as Mej. Heelal aangewys en die pryspakket wat saam met dié gesogte titel kom, is iets besonders.

Die kroon wat Nel-Peters ontvang het tydens die Mej. Heelal-glansgeleentheid in The Axis-teater in Las Vegas in die VSA, is nie dieselfde as die kroon wat verlede jaar gebruik is nie. Vanjaar se kroon is ontwerp deur Mikimoto en gemaak in Japan. Dié kroon was in 2007 laas deur ʼn Mej. Heelal gebruik.

Volgens die nuuswebwerf Rappler bestaan die kroon uit 500 diamante van byna 30 karaat en 120 pêrels in verskillende groottes. Die kroon is gewaardeer vir sowat R3,5 miljoen. Elite Daily berig die wenner van Mej. Heelal ontvang ʼn “jaar se salaris vir die uitvoering van die take wat saam met die Mej. Heelal-titel kom”.

Mej. Heelal ontvang ʼn luukse woonstel in New York en haar lewenskoste word ook gedek.

Behalwe vir die groot hoeveelheid blootstelling wat die wenner as Mej. Heelal kry, kry sy ook verteenwoordiging van WME IMG, ʼn wêreldwye modelagentskap.

Tydens haar termyn as Mej. Heelal sal Nel-Peters die geleentheid kry om talle fliekpremières, modevertonings en sportgeleenthede by te woon. Om by hierdie geleenthede die koppe te laat draai kry sy hulp met haar voorkoms wat insluit klere asook stilering van die Mej. Heelal-organisasie se eie modestileerders.

Omdat Nel-Peters nou haar Mej. Heelal-verantwoordelikhede moet aanpak, sal Adé van Heerden by haar as Mej. Suid-Afrika oorneem en al die take uitvoer soos enige ander Mej. Suid-Afrika sou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.