So vier bekendes Paasfees

Argieffoto (Foto: cgrape, Pixabay)

Deur Annelien van Basten

Dit is weer daardie tyd van die jaar. Die winkels is vol sjokoladehasies, die skole is gesluit en almal sien uit na ’n lekker langnaweek en ’n welverdiende blaaskans na die eerste kwartaal van die jaar se gewoel.

Maar natuurlik is al hierdie kommersiële pret nie eintlik waaroor dié Christelike feestyd regtig gaan nie. Dit is ook die tyd waarin ons in dankbaarheid kan reflekteer op God se liefde vir ons en die groot Offer wat hy gestuur het om vir ons die ewige lewe te verseker.

Net soos met die Kerstyd is Paasfees ook ’n geleentheid vir geliefdes en vriende om saam te kuier. Party ry met Jan Tuisbly se karretjie, terwyl ander die langpad aandurf na een of ander pragtige bestemming… maar dit is nogal deel van ons kultuur om sekere tradisies saam te neem, waar ons onsself ookal in hierdie tyd mag bevind.

Ons het by ’n paar bekendes gaan uitvind watter tradisies onwrikbaar deel is van hulle Paastyd en hoe hulle hierdie feestelike geleentheid spandeer.

Glanspaar, John (Mnr. Suid-Afrika 2014) en Chantelle Owens (Mev. Planeet 2016), het ’n groot hart vir kinders en liefdadigheid. Vir hulle beteken die Paastyd om kwaliteittyd saam met mekaar en sy dogtertjie, Blake, te spandeer. “Omdat vandag se lewe so ’n gejaag is, maak ons ’n punt daarvan om in hierdie tyd iets as ’n gesin saam te doen waarvoor ons nie gewoonlik tyd kry nie, soos om bordspeletjies te speel ensovoorts. Hierdie jaar het ons besluit om Blake se kamer te verf en weet sommer dat dit baie pret gaan wees,” vertel Chantelle. “Ons het nie regtig grootgeword met baie Paastradisies nie, behalwe om kerk toe te gaan en lekker kos te eet. Daarom maak ons ’n punt daarvan om dit vir Blake lekker te maak deur paaseiers weg te steek, maar dis vir ons ook belangrik om haar te leer waaroor Paasfees regtig gaan soos ons ook geleer is deur ons ouers.”

Hulle Paasboodskap vir lesers: “Ons vier Paasfees elke jaar en dit kom om ons te herinner watse liefde ons Perfekte God vir ons as sondaars het. Jesus Christus het vir ons aan die kruis gesterf en opgestaan uit die dood om vir ons nuwe hoop in die wêreld te bring. Soos julle hierdie wonderlike langnaweek geniet, onthou dat Jesus Sy lewe vir ons gegee het vrywilliglik en onvoorwaardelik, en so moet ons hierdie selfde liefde gee aan familie, vriende en die mense om ons. Geseënde Paasfees.”

Die paartjie, wat in 2016 trou aan mekaar beloof het, het ’n pragtige troue gehad. Beleef hulle spesiale oomblikke hier!

Die talentvolle sangeres, Lizandra Winter, het in ’n huis met baie Paastradisies grootgeword. “As klein dogtertjie het my pa vir ons die storie vertel van hoe die Israeliete ’n lam moes slag en die bloed aan die deurkosyne moes smeer sodat die engel van die dood hulle kinders sou spaar. Dit was altyd vir my afgryslik om te dink dat die Egiptenare se kinders moes sterf. Tot vandag is die idee vir my vreeslik hartseer. My pa het dan die storie van Jesus wat as die vlekkelose lam en offer gekom het vir ons, sodat ons nooit weer bloedoffers hoef te maak nie. Dan het ons ongesuurde brood, bitter kruie en lam geeët en druiwesap gedrink, saam gebid en om die tafel gedeel wat in ons harte was vir mekaar,” deel sy. “Na nagmaal het ons altyd ’n groot haassjokolade gedeel. Ons het die sjokolade om die tafel gestuur en elkeen kon ’n deel van die haas afbreek. My pa het hierdie ook as simbool gebruik van Jesus wat vir ons gebreek was en dat ons in Hom mag deel hê. Ons sal dit hierdie jaar vir die eerste keer kan deel met my dogtertjie, maar my seuntjie is nog ’n bietjie klein en sal waarskynlik die hele haas in sy mond druk.” Volgens Lizandra is Afrikaanswees sinoniem met tradisies en sêgoed wat gesinne spesiaal laat voel. Hulle het byvoorbeeld hulle eie gesinsvakansiedag een keer per jaar!

Haar Paasboodskap vir lesers: “My hoop is dat ons sal gestroop raak van ons wêreldsgoed, al is dit net tydelik, sodat ons mekaar waarlik kan sien en sal vergeet van tyd, sodat ons in die oomblik kan leef. Mag ons onthou wat ’n wonderlike geskenk aan ons gegee is, om waarlik vry te mag wees deur Hom.” 

Lizandra en Joshua na die Reën het onlangs ’n pragtige duet, Ek wil vir Jou, saam uitgereik, kyk dit hier!

Meerkat Maantuig-ster, Anchen du Plessis, meen dat geloof, kultuur en samesyn die hoofbestanddele is van hulle Paastyd saam. “Ons vier dit gewoonlik saam met familie en eet hopeloos te veel. My ma steek paaseiers weg en dan moet ons dit gaan soek. Ek en my boetie is die jongste in die familie en my niggies is albei op universiteit, so ons is gewoonlik die enigste twee,” sê sy. “Ek dink dit is baie belangrik om jou lewe in jou Moedertaal uit te leef, want deur dit te doen versterk jy ’n nasie en tradisie! Ek het grootgeword met Afrikaans as huistaal en ek sal graag eendag my kinders in Afrikaans wil grootmaak. Afrikaans is ’n baie groot en belangrike deel van my lewe!”

As julle, as gesin, iets soek om hierdie Paasnaweek te doen, maak gerus ’n draai by die bioskoop om die inspirerende verhaal, Meerkat Maantuig, te kyk waarin Anchen die hoofrol speel.

Musiekgroep, 2ndLife, wat bestaan uit voorsanger en musikant Gerrit “Boon” Boonzaaier en sy talentvolle liedjieskrywer-vrou Liezel, vertel dat hulle musikale gesin elke Paasfees die genade van die Skepper gaan vier op ’n klein versteekte plasie in Magoebaskloof. Hier word die selfone, rekenaars, televisies en radios weggepak en is dit tyd om ‘stil’ te word. “Groot tafels word gedek en daar word behoorlik feesgevier wanneer al die familielede bymekaarkom. Daar is net kinders waar jy kyk en groot krismisbeddens word gemaak, paaseiers word weggesteek en laternbekruip is ’n moet vir oud en jonk!” verduidelik Liezel.

“Die wonder van Paasfees vir ons gesin en familie lê egter grootliks daarin om in een van die mooiste plekke in Suid-Afrika bymekaar te kom en in die voorreg om vir mekaar te kan bid in ons Moedertaal. Ook om ons Vader se genade tasbaar en visueel te ervaar, en om Jesus se liefdesdaad en die Belofte van Die Heilige Gees as Trooster van ons siele te vier.”

Hulle Paasboodskap vir lesers: “Ons bid vir vrede en liefde vir elke landsburger gedurende dié onstuimige tyd. Ons bid vir ons politici om hulle harte vir ons Here Jesus te gee. God is in beheer en Hy regeer!” 

2ndLife se hoofdoel met hulle musiek is om hoop te bring. Gaan luister gerus na hulle nuutste Afrikaanse enkelsnit, Reënboog, wat ’n boodskap van vrede vir ons land dra.

Mag julle almal hierdie Paasfees vrede en liefde ervaar en hierdie spesiale tyd saam met familie en vriende geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.