Spek(skiet)-en-eiers saam met Bennie Fourie

bennie fourie

Bennie Fourie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Bennie Fourie is die soort ou wat jy kan huis toe neem om jou ma te ontmoet. Benewens sy sjarmante glimlag en skerp sin vir humor is hy ook ʼn presteerder en ʼn raakvatter.

Op laer- en hoërskool het hy as hoofseun uitgeblink, hy was lid van die junior stadsraad én die junior burgemeester van Pretoria. Hy het grade in regte en onderwys verwerf aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus en was ook primarius van sy koshuis.

“Ek het universiteit toe gegaan met die gedagte om BCom Regte te studeer, om finansieel stabiel te wees en om eendag my gesin te ondersteun.”

Die ink het egter uit sy skrywerspen begin vloei toe hy in ʼn klein koshuis op die Puk beland. “Koshuise op die Puk is alles. As jy in ʼn klein koshuis is wat nie goed doen nie, dan wil geen van die dameskoshuise saam met jou koshuis sleep om saam aktiwiteite te doen nie.”

Hy het daar begin skryf aan die eerstejaarskonsert “want niemand anders wou dit doen nie”. “Ek het besef as ons die koshuis kultureel kan lig, dan kan ons beter vaar op kampus.”

Hy vertel hy het nie op skool drama gedoen nie en het nie eers geweet dat daar ʼn Tienertoneelgeselskap in die land is voordat hy met sy studies op die Puk begin het nie. “Ons skool het nie ʼn dramaklas gehad nie so ons moes dit as ʼn buitemuurse aktiwiteit doen. Ek was nie lus vir daai vreemde goed wat ʼn mens moet doen soos om Nataniël se gedigte oor ʼn vet vrou in die bad op te sê of so iets nie. Ek het dit probeer en teen die vyfde oefening het ek vir my ma gesê ek wil nie meer nie,” lag hy.

Hy kruis sy bene as hy nadink oor sy kinderlewe. “Ek het regtig nie geweet wie ek is op skool nie. Ek het altyd my broer se prestasies nagejaag, jy weet, hy is hoofseun so ek moet ook hoofseun wees. Toe ek junior burgemeester word, het ek begin wonder wat is hierdie ding wat ek jaag, want dit is glad nie vir my lekker nie,” sê hy en begin lag.

Op die Puk het sy liefde vir toneelspel en komedie gegroei toe hy en sy vriend Bordeaux Potgieter uiteindelik oudisies aflê vir Lagnes, ʼn improvisasie- en komediegroep op die kampus. “Ek het Lagnes eenkeer gesien op ʼn leiersimposium en dit was vir my verskriklik snaaks. Ek het net gevoel ek wil dit probeer. Van daar af het ons baie improvisasie gedoen en ek het begin wonder of ek dit vir ʼn lewe kan doen.”

Steeds het hy sy graad in regte voltooi. “Ek is nie ʼn akademikus wat nog altyd 100% kry vir alles nie, maar ek hou daarvan om iets klaar te maak as ek dit begin. ʼn Bietjie perfeksionisties wat dit betref. Ek sukkel daarmee om net een ding op ʼn slag te doen. Ek voel ek gaan een ding net so lank en stadig doen soos wat ek tien goed gelyk sal doen.”

Hy gesels openlik oor sy vrees vir agterraak. “Dit is simpel om die vrees te hê, want as iets uit vrees uit kom dan kyk jy na ander mense en jy doen nie wat jy wil doen nie. Ek het vir baie lank goed gedoen wat ek nie wou doen nie.”

Hy het besluit om vir ʼn jaar te gaan werk as kelner by River Café en hy glo dit is waar hy homself ontdek het. “Daar was nie ʼn leiersposisie waaraan ek kon vashou nie. Ek was my hele lewe besig met ander mense se goed, so toe kon ek vir die eerste keer fokus op wat ek regtig wil hê.”

Tim Theron, wat sy eie produksiemaatskappy het en wat as akteur in Klein Karoo en Vuil wasgoed te sien is, was saam met Fourie deel van die Lagnes-geselskap en hy het saam met hom agter die skerms op rolprent- en televisiestelle begin werk.

“Dit was die skryf van die kortprent Vuil wasgoed wat die deurslag gegee het vir die lewe wat ek nou lei,” sê Bennie.

Afgesien van al die goed wat hy gedoen het, het hy ʼn ongelooflike kinderlewe gehad. “My pa is ʼn dominee, maar hy is glad nie ʼn stywe mens nie. Hy is verskriklik snaaks en hy kan twaalf instrumente bespeel en mense onthaal. My ma klink of sy my altyd gedruk het, maar sy wou net hê ons moet ontdek wat ons wil doen.”

Bennie Fourie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Fourie is die meesterbrein agter die gewilde kykNET-reeks Hotel en vertel dat kykNET hom na afloop van die Silwerskermfees genader het om ʼn reeks van Vuil wasgoed te maak. “Ek het daaroor gaan nadink en ek het toe vir hulle gesê ek voel Vuil wasgoed is ʼn een-konsep-storie en dat ek dit eerder sien as ʼn vollengte fliek. Ek vra toe of ek hulle kan nader met ʼn ander konsep. Hulle het my ʼn week gegee waarin ek toe met die idee van ʼn mokumentêre reeks vorendag gekom het. Toe kykNET die groenlig gee, het ek vir Stiaan Smith ingetrek om te help met die skryfwerk en van daar af het dit weer ʼn nuwe lewe van sy eie gekry.”

Hoewel toneelspel en improvisasie sy kos is, sê hy dat regie ook net vir hom reg voel. “Dit is so lekker om spankaptein te wees van die span van Hotel en dit is interessant hoe my lewe tot op hierdie punt geloop het. Leierskapposisies wat niks met kreatiwiteit te doen gehad het nie, het my die vaardighede gegee om ʼn span te kan lei wanneer jy regie doen.”

Is hy ʼn komediant? “Ek wil graag wees,” sê hy prontuit. “Ek het onlangs vir Schalk Bezuidenhout oopgemaak. Dit is iets wat ek graag wil doen, maar ek probeer nog my voete vind met die soort komedie wat ek doen en waaroor ek grappe maak. Ek hou van skoon komedie en grappe oor die alledaagse. Dit kan ook donker grappe wees, maar skoon. Ek voel asof ek kroek as ek vloek en ek hou nie daarvan nie,” verduidelik hy.

“Ek is mal daaroor om mense te laat lag. Ek weet nie of dit een of ander onsekerheid in my lewe voer, soos dat ek graag wil hê mense moet van my hou nie, maar dit is vir my lekker. Ek hou daarvan om ʼn observasie op sy kop te draai. Ons sien goed op ʼn sekere manier en om dit te flip is vir my snaaks.”

Uiteindelik sal dit vir hom lekker wees om gereken te word as een van die beste komedieskrywers van Suid-Afrika. Hy vertrek in April op ʼn kursus van twee maande na Chicago in die VSA waar hy spesifiek gaan leer oor sketskomedie.

“Ek het ʼn groot droom om sketskomedie in Suid-Afrika te vestig. Ek dink nie Suid-Afrikaners is reg vir daarvoor nie, want ek dink nie hulle verstaan dit nie, maar ʼn mens kan ook nie vashaak by die tannies wat dit nie verstaan nie. Die ouer mense het ook oor Hotel gewonder en vir kykNET gevra wat is hierdie strooi. kykNET het gelukkig by ons gestaan, omdat ons ʼn ongelooflike aanhangersbasis van jongmense het. Ons speel en skryf vir hulle. Dit is die mense wat saam met ons gaan oud word, dus voel ek dit is goed om nou al in dié soort komedie te belê.”

Fourie sê alhoewel dit Smith is wat dit uitgedink het, leef hy die volgende motto: “As die lewe vir jou suurlemoene gee, sê nee dankie, ek wag vir my mango’s.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.