Sportman se tweede dogtertjie op Lentedag gebore

JP, Sue, Isabella en Alexa-Rose Duminy (Foto: Instagram)

Die bekende Proteas-krieketspeler, JP Duminy, en sy vrou, Sue, het op lentedag hul tweede dogtertjie in die wêreld verwelkom.

Die egpaar, wat in 2011 getroud is, het ʼn paar weke gelede hul oudste dogter, Isabella, se derde verjaardag gevier.

Sue en JP het albei plasings op Instagram gemaak om hul vreugde oor hul nuweling te deel.

“Dit was vir seker ʼn naweek om te onthou. Ons het Lente met ʼn knal binnegestap. 01/09/2018. Dankie, Here, vir dié ongelooflike seën van ʼn familie. Welkom in die wêreld, Alexa-Rose Duminy,” het JP geskryf onder ʼn foto van die nuwe gesin van vier.

“En toe was daar vier!” het Sue geskryf. “Welkom in die wêreld, my pragtige Alexa-Rose Duminy. Ma se hart het so pas verdubbel in grootte met al hierdie nuwe liefde, en Pa se bors het twee keer sy grootte geswel van al die trots en Isabella het al reeds ʼn stywe greep om jou hand, so jy het ʼn nuwe beste vriendin vir altyd.”

Duminy het ook verklap dat sy 26 uur lank in kraam was nadat sy Alexa-Rose die volle termyn gedra het.

“Dankie, JP, dat jy my bygestaan het deur die 26 uur van kraam. Ek hoop jy kan nog steeds ʼn bal vang nadat ek jou hand so styf gedruk het tydens die krampe,” het sy geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.