Staal Burger en Gerrie Nel nou saam die nuwe Afrikaanse superhelde

Staal Burger met Gerrie Nel

Die Staal Burger-span deel ‘n lawwe oomblik saam met Advokaat Gerrie Nel tydens ‘n opname van dié nuwe radiodramareeks. Van links na regs agter is Andreas Jordaan, Advokaat Gerrie Nel, Anton Dekker, André du Toit en Martin Jansen. Voor van links na regs is Roelf van Jaarsveld, Karin Retief, André Retief en Daniélle Retief. Lochner de Kock en André Stolz is afwesig. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

Jy onthou waarskynlik die legendariese karakter Staal Burger, wat in die 60’s Afrikaanse radioluisteraars vasgenael voor die draadloos gehou het. Dié karakter is terug in ʼn splinternuwe radiovervolgverhaal wat op 33 gemeenskapsradiostasies landswyd uitgesaai gaan word.

Maar daar is ʼn lekker nuwe verrassing in dié nuwe reeks wat in samewerking met Maroela Media vervaardig word: Advokaat Gerrie Nel is die nuwe Afrikaanse superheld wat sy aan sy met Staal Burger teen misdaad en korrupsie veg. Nel speel homself in dié reeks.

Die oorspronklike radiovervolgverhaal, uit wyle radio-omroeper en skrywer Fanus Rautenbach se pen, het destyds met sy eie Afrikaanse James Bond, die super geheime agent Staal en sy handlangers Willem en Dada, die verbeelding van derduisende luisteraars landwyd aangegryp.

Staal Burger het van 1961 tot 1969 gespeel,” vertel akteur André Retief. Sy pa, die veteraan akteur en vervaardiger Daan Retief, was bekend as die oorspronklike stem van dié legendariese karakter. André vertolk nou die rol van Staal in die herleefde radioproduksie en is ook medeskrywer. Die oorspronklike reeks is uitgesaai op Radio Suid-Afrika, en word tans heruitgesaai deur RSG. Die nuwe reeks sal egter op gemeenskapsradiostasies te hore wees (sien die lys hier onder om te sien watter stasie in jou omgewing dit uitsaai).

“Ek was met die uitsending van die oorspronklike reeks nog ʼn kind,” vertel André, en die nostalgie blink in sy oë. “Ek sal nooit vergeet hoe ons eenkeer as gesin met vakansie gegaan het en in Upington by die vulstasie gestop het nie. Toe my pa die motorvenster afdraai en vra vir brandstof, het die joggie dadelik uitgeroep: ‘Dis Staal Burger! Dis Staal Burger!’ Die hele vulstasie was in rep en roer,” lag André, “en dit alles nét oor sy stem.”

Om die produksie te kon laat herleef was beide teer én ongelooflik, sê hy. “Dit voel soos ʼn kringloop wat voltooi. Ons laat herleef nie net die karakter Staal Burger nie, maar op ʼn persoonlike vlak voel dit ook asof ek my pa laat herleef. Ek glo ʼn mens moet vat wat gewerk het in die verlede en daarop bou. Staal Burger was só gewild.”

André lag wanneer hy oor die karakter Staal gesels. “Vir die nuwe luisteraars wat nie weet wie hy is nie, kan ek eerlik sê ek weet nie hoekom hy so gewild is nie. Hy is baie lief vir homself, die meisies is mal oor hom, alhoewel hy nie getrou is aan enige van hulle nie, en hy sláán mense verskriklik,” vertel André.

Staal Burger opname

Anton Dekker, Andreas Jordaan en Martin Jansen in die ateljee. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

“Ons het nie aan die suksesresep gepeuter nie,” sê hy baie beslis. “Daar is ʼn paar verskille tussen die nuwe episodes en die oues, net om dit ʼn bietjie te moderniseer. Ek dink die belangrikste nuwe toevoeging, is die karakter Advokaat Gerrie Nel, vertolk deur homself. Hy en Staal span kragte saam om die booswigte te beveg,” vertel André opgewonde.

“Ons het ʼn toetsepisode geskryf met die doel om te vry na AfriForum as borg,” vertel André geesdriftig. “Ons het gesit en spot oor hoe lekker dit nie sou wees om vir Gerrie deel te hê van die rolverdeling nie. Ons skryf toe die episode só, met Gerrie as ʼn karakter en daar is ʼn koor wat hom elke slag aankondig en dit is ʼn totale opstuur, maar toe ons die opname moes instuur, het ons moed ons begewe en ons hou toe net by die doodgewone Staal-resep.

“ʼn Paar dae later het ons met Maroela Media vergader om te gesels oor die moontlikheid dat hulle as middelman tussen ons en die radiostasies aan boord kom,” vertel hy. “Maroela stel toe voor dat hulle AfriForum nader as borg, en dat ons vir Gerrie ʼn karakter in die verhaal maak.” sê André.

Die plan was aanvanklik om ʼn akteur te gebruik om die rol van advokaat Gerrie Nel te vertolk, maar toe Gerrie van dié planne hoor, het hy baie beslis aangekondig dat hy homself in die reeks wil speel.

Advokaat Gerrie Nel Staal Burger opname

Advokaat Gerrie Nel in die ateljee agter die mikrofoon. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

Dit was ʼn reuse uitdaging om die regsbank tydelik vir die mikrofoon in die ateljee te verruil, sê Gerrie. “Dit is die verste wat ek nog ooit uit my gemaksone was, en dit is om iemand anders se woorde op te voer terwyl ek omring is deur uitsonderlike stemkunstenaars. Dit is vir my baie lekker, maar dis baie werk, want ek berei voor!”

“Ek het grootgeword met radiostories en Staal Burger, maar ek self het nog nooit ʼn dramaklas in my lewe gehad nie. So om op my rype ouderdom hiermee gekonfronteer te word, is regtig opwindend,” skerts hy.

“As jy ʼn vergelyk moet trek tussen Staal Burger se karakters en James Bond se karakters, speel ek die rol van M. Ek is in beheer van al die katoeters en ek deel hulle uit,” sê Gerrie.

André se medeskrywer, Martin Jansen, wat ook radio-omroeper by Pretoria FM is, vertel die idee om weer nuwe asem in Staal Burger as radiodrama te blaas, het aanvanklik tussen hom en André ontstaan toe hulle bymekaar uitgekom het deur gemeenskaplike vriend en klankvervaardiger, Roelf van Jaarsveld.

“Ons het net nie geweet hoe ons dit gaan doen nie, want ʼn mens het geld nodig, en ons het die idee toe opsy geplaas en nie veel verder daaroor gedink nie,” vertel Martin vurig. “Ons het ʼn toets-episode geskryf en toe ons weer kyk, sit ons in Maroela Media se kantoor en is hulle toe kinderlik opgewonde oor die toetsopname. Hulle het onderneem om met AfriForum te onderhandel om as borg van die reeks op te tree, met die aanbod dat Gerrie Nel ʼn karakter en AfriForum ʼn subtiele rolspeler in die reeks is. En hier sit ons vandag!”

Roelf was die klankingenieur vir die oorspronklike reeks, en is vandag weer betrokke by die nuwe episodes. “Dit voel absoluut onwerklik om na 57 jaar weer deel te wees van iets wat ek nooit gedink het weer sal gebeur nie. Dit voel asof ek teruggegaan het in tyd.”

“Ek het self grootgeword met ʼn heruitsending van Staal Burger in die 80’s,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Toe Martin vir my die toetsepisode aanstuur en ek begin luister, het ek daardie krieweling in my maag gekry wat sê: ‘Hier het ons iets beet.’ Ons kon nie anders as om betrokke te raak nie. Produksies soos hierdie val reg in ons kraal, omdat ons passievol is daaroor om goeie gehalte Afrikaanse inhoud vir Afrikaanse gemeenskapsradiostasies te skep. Ons is opgewonde om te hoor wat luisteraars van gemeenskapsradiostasies landswyd hiervan dink!”

Roelf van Jaarsveld

Roelf van Jaarsveld. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

Ander bekende stemme soos Lochner de Kock, Anton Dekker en Andreas Jordaan vorm deel van die rolverdeling. André se vrou, die aktrise Karin Retief, en sy dogter, Daniélle Retief, vertolk die rolle van Doedie en Dada.

Daniélle, wat bekendheid verwerf het as aktrise vir haar rolle in die kykNET dramareeks Song vir Katryn en die SABC3-reeks High Rollers, sê dit is vir haar ʼn ongelooflike eer om deel te wees van die nuwe produksie waarin haar oupa Daan destyds die hoofrol vertolk het.

“Ek het nooit my oupa geken nie. Hy is oorlede sewe maande voor my geboorte en ek is ook na hom vernoem,” vertel sy. “Ek dink ek en hy sou baie goed oor die weg gekom het as ek kom geken het. Ek is bly my oupa het so ʼn mal sin vir humor gehad, want ek kan identifiseer daarmee,” lag sy. “Staal Burger is groot pret!”

Daniélle verduidelik dat haar karakter, Doedie, ʼn karakter is wat deurlopend verander. “Staal speel te lekker met die meisies, so in elke episode is daar ʼn ander Doedie. Sy is eers ʼn onderwyseres, dan ʼn sekretaresse en dan ʼn lugwaardin en so aan. Sy is partykeer die skurk ook, en dis ook lekker om te speel,” sê sy. “Ek kan 26 verskillende karakters speel net vir een reeks. Dis elke aktrise se droom.”

Staal Burger is nou maar die storie van hierdie vreeslike geheime agent wat dinge doen om die land te herstel op ʼn baie snaakse manier, maar jy kan dit benader soos jy wil,” sê André nadenkend. “Jy kan dit ook beskou as die tragiese verhaal van twee boewe wat net nie die mas kan opkom nie,” lag hy.

Die rolverdeling

  • Verteller: Martin Jansen
  • Staal: André Retief
  • Koos: Lochner De Kock
  • Dada: Karin Retief
  • Willem: André Stolz
  • Doedie: Daniélle Retief
  • Vis: Anton Dekker
  • Vlees: Andreas Jordaan
  • Advokaat Gerrie Nel: Advokaat Gerrie Nel
  • Regisseur: Roelf van Jaarsveld
  • Skrywers: Roelf van Jaarsveld, Martin Jansen, André Retief
  • Klankversorging: André du Toit Vervaardiger: André Retief vir Maroela Media

Luister só

Koop dit in Maroela Media se aanlyn winkel, die Koöperasie:

Staal Burger word weekliks uitgesaai op verskeie gemeenskapsradiostasies.  Gaan kyk gerus na die lys stasies en tye wat die drama gaan uitsaai.  Staal Burger sal ook op Maroela Media geluister kan word vanaf Maandag, 4 September 2018.

Die radiodrama word moontlik gemaak deur AfriForum.

Die joernaalprogram Kwêla het ʼn opname van Staal Burger bygewoon en dié insetsel word Sondag, 27 Augustus 2018 om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hilda Fouche ·

Wat n verrassing was dit om vandag episode 1 te kon luister Defnitief n Staal Burger met n twist. Ek en Hannes het dit baie geniet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.