Donnalee Roberts gaan later vanjaar saam met haar hele gesin deelneem aan die Spar Virtual Challenge om liefde en sonskyn te versprei en geweld teenoor vroue in Suid-Afrika te beveg.
Donnalee vertel dat sy en haar man, Ivan Botha, al jare lank deel is van die Spar Women’s Challenge-familie, maar dat vanjaar vir haar besonder spesiaal is omdat die tema haar so na aan die hart lê.
“Dit is die hart agter die resies waarop ek elke jaar verlief raak. Vanjaar se tema is Be Sunshine, en ek is absoluut versot daarop. Ek dink dit is my gunstelingtema nóg,” sê sy.
Afgesien van die feit dat Donnalee se gunstelingkleur geel is, voel sy ook ons is in ʼn tyd waar mense positiwiteit en deernis na mekaar moet uitstraal.
“Dit is ʼn donker tyd in die wêreld op die oomblik en jy voel dalk of die hele jaar gekanselleer is as gevolg van alles wat al gebeur het. Maar Spar se virtuele wedloop wil kom sê vriendelikheid, deernis, sonskyn, geluk, samesyn, om daar vir mekaar te wees, en liefde is beslis nié gekanselleer nie.”
Donnalee sê dit vir haar ʼn mooi aanslag omdat sy werklik in haar hart glo dat hoewel mense nie altyd hul omstandighede kan kies nie, kan ʼn mens wel kies om positief te wees en om te groei uit die ervaring.
Vanjaar vind Spar se vrouewedloop virtueel plaas en mense word aangemoedig om in hul eie buurte saam te stap, draf, huppel of dans. Die wedloop skep ook bewusmaking en neem standpunt in teen geslagsgebaseerde geweld deur kospakke aan slagoffers te skenk.
“Daar is geen verskoning in die wêreld om op enige vlak enige vorm van geweld teen enige vrou of kind uit te voer nie. Dit breek my hart. Dit is vir my die grootste pandemie in die stadium in ons land.”
Donnalee vertel dat sy en haar kroos, Ivan, Amélie en Cameron, almal gaan deelneem in hul gemeenskap om hierdie inisiatief te ondersteun.
“Selfs Cameron kry ʼn amptelike mini-T-hemp en resiesnommer om te dra wanneer ons stap. Ons gaan lekker in ons gemeenskap stap op die dag en ons wil dit regtig prettig maak. Dit moet ʼn viering wees, ons wil sonskyn uitstraal,” sê sy.
Donnalee sê sy wil graag mense persoonlik nooi om te kom deelneem aan die resies vir ʼn goeie doel.
“Kom ons kies om die sonskyn te wees in die donker tye. Dit is wonderlike om te weet dat sowat 30 000 mense, meestal vroue, dwarsoor Suid-Afrika op dieselfde dag vir dieselfde doel stap. Ek wil hê mense moet by hul vensters uitkyk en oral mense met geel hemde aan sien loop en die hart agter die projek kan sien,” sê sy.
Spar se virtuele wedloop vind op Saterdag 26 September plaas. Deelnemers kan self besluit hoe ver en hoe laat hulle wil draf, stap, huppel of dans.
Spar beoog ook om ʼn wêreldrekord te probeer breek vir die meeste inskrywings vir so ʼn virtuele vroue-uitdaging.
Inskrywings kos R50, wat ʼn T-hemp, ʼn buff en ʼn tydskrif insluit. Vir elke inskrywing skenk Spar ʼn kospak aan oorwinnaars van geslagsgebaseerde geweld. Besoek hul webtuiste hier om in te skryf.
Ek sou deelgeneem het soos altyd, maar nou sien ek as jy in ‘n kus area bly, soos ek in Port Elizabeth, moet jy die kourier opsie kies wat ‘n R100 is. So, as Spar nie die moeite wil doen om vir almal wat in my area bly ‘n opsie te gee om die pakket te gaan optel by een van ons Spars nie, dan los ek dit eerder. In die tyd waar party mense hulle werk verloor het, moet hulle meer tegemoetkomend wees. Daar is baie vroue wat nie die R100 kan bybring nie.