Sterbelaaide radiovervolgverhaal binnekort te hoor

familie

Foto: Maroela Media

Die plase in Seweweekspoort is afgeleë, groot en onherbergsaam, maar as jy mooi kyk vind jy die stukkies Eden. Hier woon die Woltemade-familie op die plaas Arendsvlei en dis wanneer hierdie familie en die mense van die omgewing bymekaarkom dat die vonke behoorlik spat.

Van Maandag 7 Maart kan luisteraars van gemeenskapsradiostasies landwyd hul ore spits vir ʼn nuwe radiovervolgverhaal, Seweweekspoort, wat in opdrag van Maroela Media deur Bettie Kemp vervaardig en deur Anton Treurnich geskryf is.

Luister wat sê Bettie Kemp oor dié radiovervolgverhaal.

Seweweekspoort en sy mense se stories gaan luisteraars vir 13 weke in 65 episodes voor die radio vasgenael hou. Dit is die sewende radiovervolgverhaal wat gratis deur Maroela Media aan radiostasies verskaf word, danksy ʼn borgskap wat die koste dek.

“Met ons jongste radiovervolgverhaal, Seweweekspoort, het ons gesorg dat elke Maroela-leser en radioluisteraar hom of haar kan vereenselwig met die karakters – elkeen van hulle klink en lyk soos een van jou familielede,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Vir Maroela Media is dit belangrik dat ons lesers en luisteraars moet voel hulle hóórt by ons.

“ʼn Maroela-leser is, net soos die luisteraars van gemeenskapsradiostasies, deel van ʼn gemeenskap waar mense vir mekaar omgee en hul lief en leed met mekaar deel. Elke gemeenskap en elke familie het lede wat klink en lyk soos die karakters in Seweweekspoort: die matriarge (wat ook kan koeksisters bak); die kanniedood-oupa wat al jare lank boer; die stralerjakker-niggie wat in haar hart maar ʼn plaasnooi bly; die raakvatter-ouboet wat Oupa se regterhand is. En, natuurlik, die moeilikheidmakers … Ons is opgewonde oor Seweweekspoort se storielyn omdat ons glo ons het die karakter van wie en wat Maroela Media en sy lesers is daarin vasgevang.”

Hoor wat sê Bettie Kemp van die karakters in Seweweekspoort.

Bettie meen hierdie vervolgverhaal is propvol drama en luisteraars mag nie een enkele episode misloop nie. Gemeenskapsradiostasies wat nog nie met Maroela Media ʼn ooreenkoms gesluit het vir die uitsending van Seweweekspoort nie, kan met ons in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.