Susanne Beyers is waarlikwaar ’n ikoon

Susanne Beyers is ‘n ware Afrikaanse ikoon. (Foto: Liza van Deventer)

Deur Seugnet van Zyl

Waarlikwaar

Dit is nie net die naam van die aktrise Susanne Beyers se huis in die Kaap nie, maar hierdie “outydse mooi word” som dié ikoniese aktrise ook op.

“ʽWaarlikwaarʼ is vir my so ʼn outydse mooi word. Dit sê meer as wat dit sê. Dit sê baie dinge. Dit is so half vir my ’n stempel op wie en wat ek is. Hier is ek ook nou en ek is myself,” vertel Susanne vanuit haar huis in Kaapstad via Zoom.

Sy het dié huis, wat sy laat bou het soos sy dit wou hê, “Waarlikwaar” gedoop, vertel sy. Dit is na die huis waar sy in Robertson grootgeword het vernoem. As verdere ode aan dié woord en haar grootword- en nuwe huis, staan “Waarlikwaar” in ysterletters op ’n muur in haar leefvertrek. Sy deel die huis met haar twee honde, Teddie en Poppie.

Susanne, wat baie mense vandag steeds onthou vir haar rol in 1989 in die TV-reeks Arende, het onlangs aan ’n kortfilm, Korrelkop, vir kykNET begin skiet, waarin sy saam met Pierre van Pletzen en Deon Lotz speel. Dit sal later vanjaar verskyn.

“Dit is ’n lekker ligte storie van ’n ou korrelkop, en ek speel ook ’n rol in sy lewe. Daar is ’n opvolg ook, met die naam Hardegat.”

Retief Scholtz, bekroonde dramaturg, het beide kortfilms geskryf asook ’n ander verhoogstuk, Dobbel, wat Susanne baie na aan die hart lê.

“Ek het verlede jaar in ’n baie mooi toneelstuk, Die Sonkamer, gespeel. Toe kom daar nog ’n lekker kans, naamlik Dobbel, waarvoor Retief Scholtz die teks geskryf het.”

Susanne (66) speel die hoofrol van ’n vrou wat aan Alzheimer se siekte ly en Ilse Roos, Cintaine Schutte en Carla Smith vertolk haar jonger self.

“Dit is ’n fantastiese stuk, want dit gaan op ’n manier oor die vier fases van vrouwees – jonk en verlief met sterre in die oë, die tweede fase vol ambisie en werk, die derde fase waar jy begin empatie hê met ander mense om jou en begin verstaan die lewe gaan oor meer as net jouself en die vierde fase waar dit afdraand gaan. Jy weet, waar jy baie dikwels alleen opeindig en die mense om jou begin verdwyn of doodgaan.”

“Watter fase vertolk jy?” vra ek haar uit.

“Ek is in die laaste fase!” lag sy.

“Dis ’n pragtige toneelstuk. Ek leef basies in my herinneringe. Ek is in gesprek met myself in my herinneringe. Hulle (Ilse, Cintaine en Carla) speel die jonger weergawes van my. Ek is alleen, maar hulle kom besoek my in my herinneringe. Dis só ʼn aangrypende stuk en Retief Scholtz ken vroue so goed. Hy het dit só mooi geskryf. Ek was baie opgewonde om dit te doen. En nou wag ek.”

Dobbel sou in Desember verlede jaar by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees debuteer, maar weens al die kunstefeeste wat hoofsaaklik weens Covid afgestel is, wag dié viertal steeds vir ’n speelvak om hierdie produksie te kan opvoer.

“Ek het nog nie Covid gehad nie. Dankie tog. Ek het al albei inspuitings gekry.”

Sy het onlangs weer opnames vir Vers en Klank en Kortom gemaak wat binnekort Dinsdagaande op RSG uitgesaai sal word waar sy ’n deurlopende rol speel – “van die matriarg natuurlik!” – in die Turkse oorklankingsreeks, Die Put, wat binnekort op die kassie sal wees.

(Foto: Liza van Deventer)

Susanne het op 11 Augustus weer voltyds aan die Universiteit van Stellenbosch begin klasgee.

“Persoonlik het ek regtig nie die afgelope jaar ’n slegte tyd gehad nie. Ek was vir twee maande met vakansie (weens Maties wat ingevolge die derde vlaag van Covid en die wintervakansie gesluit was). Ek het hierdie wintervakansie gebruik om die dinge te doen wat ʼn mens doen as jy nie werk nie. Ek het baie met my kleinkinders gespeel. Ons, ek en my vriend en ek en my kinders, het ʼn bietjie weggegaan ook. Verder het ek gelees en gestap, elke aand vuurgemaak en dit eintlik baie geniet.”

Sy geniet die klasgee baie, waar sy toneelspel vir tweedejaarstudente en radio vir die derdejaars gee.

Buiten vir die verskeie radiodramas en televisiereekse waarin Susanne al gespeel het, was sy boonop in die middel tagtigs tot aan die einde van 1994 ’n platejoggie, bekend as Suzy B, op Radio Algoa in Port Elizabeth.

“Ek het baie onderhoude gevoer in daai tyd. Ek het amper ’n tipe tydskrifprogram gehad. Ek het eintlik al alles gedoen; ’n regte jack of all trades. Ek was al ’n televisie-aanbieder ook, en vir twee verkiesings ná 1994 was ek die ankerpersoon.”

Sy brei dan oor die tipe rolle uit wat sy al oor meer as 30 jaar gespeel het. Dit sluit rolle op TV, verhoog en radio in.

“Ek het al ’n kwaai vrou gespeel. Ek het al moordenaresse gespeel. Ek het al vroue gespeel wat deur hul mans verneuk word. Ek het al die een gespeel wat die verneukwerk dóén. Ek het al iemand gespeel wat aan pille en drank verslaaf is. Ek het al ’n vrou gespeel met vyf kinders en ook ’n vrou wat nie kinders kan hê nie. Ek het al ’n Vigs-dokter gespeel, ’n forensiese patoloog…” Die lysie hou aan.

Haar heel eerste TV-rol was in die reeks Dennekruin 12 waarin sy en Joanie Combrink susters was. At Botha was haar beminde, Paul Eilers haar pa en Marie du Toit haar ma. Toe volg Arende 1, Arende 2, Onder draai die duiwel rond, Hart van staal, Soutmansland en vele meer.

Susanne sê Arende het haar “op die map geplaas”.

“Mense onthou my nou nog vir Arende, maar het baie goed tussenin ook gedoen. Nie alles was noodwendig so goed nie, maar ek moet sê René in Fynskrif was vir my ’n hoogtepunt, omdat dit so mooi geskryf is. Ek kon my vereenselwig met die storie, want ek is nou ’n ma en ’n ouma. Jy kry rolle wat ooreenkomstig is met waar jy tans in jou lewe is.”

Susanne was onlangs ook in die tv-reeks “Fynskrif” te sien. (Foto: Liza van Deventer)

Haar rol in Fynskrif, ’n televisiedrama wat rondom die regsfirma Van Wyk & Vennote gesentreer is, beskryf sy as “fantasties”.

“Dit was ’n classy reeks om aan deel te neem met so ’n toegewyde en professionele span. Dit was regtig vir my ’n groot voorreg – elke akteur se droom.”

In die afgelope en laaste seisoen van Fynskrif wat vroeër vanjaar uitgesaai is, het kykers gesien hoe Susanne in die rol van René haar stryd teen breinkanker verloor.

“Ek lag nou al, want ek was al soveel keer dood die laaste tyd. Ek gaan gereeld dood deesdae. Ek is ook al aan alles dood. Ek het ál die maniere van sterf uitgevind. Ek gee nie om nie, solank ek net kan leef om hierdie goed te speel.”

In 2019, twee dae nadat haar laaste tonele vir Fynskrif verfilm is, het sy ’n dubbele heupvervanging ondergaan en agt weke na dié operasie was sy weer op die verhoog.

“Dit was die beste ding waaroor ek nog ooit in my lewe ’n besluit gemaak het,” gesels sy oor haar operasie.

Sy sê die geweldige pyn wat sy voor die operasie moes verduur het haar gehelp om die rol van René te vertolk. Nou is daar ná die operasie geen pyn meer nie.

Voor ons groet, voeg sy by dat sy glad nie sal omgee om haar “tande weer in ’n lekker rol in te slaan nie”.

“’n Karakter met ontwikkeling.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Flink geplaas. Flink is die FAK se maandelikse aanlyn tydskrif. Dit spog deesdae nie net met nuus van dié kultuurorganisasie nie, maar ook van die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting. Dis nou buiten al die ander lekkerleesstories, boekresensies, resepte en CD-resensie. Klik hier om die Augustus-uitgawe van Flink te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Beslis saam met Anna-Mart van der Merwe my twee gunsteling plaaslike aktrises

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.