Talle bekendes deel van liedjiewerkswinkel

Hunter Kennedy. (Foto: André Badenhorst)

Hunter Kennedy. (Foto: André Badenhorst)

Die ATKV het Woensdag aangekondig dat die musikant Hunter Kennedy eersdaags deel sal vorm van talle bekendes wat die Lucas Maree-liedjiewerkswinkel in Pretoria gaan aanbied.

Die liedjiewerkswinkel word in Mei vir jong aspirantliedjieskrywers in grade 11 en 12 deur die ATKV, in samewerking met die Atterbury Trust en die Afrikaanse Hoër Seunskool, aangebied.

Kennedy, wat bekend is vir die lirieke wat hy skryf vir die rockgroepe Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, is een van 11 aanbieders by vanjaar se liedjiewerkswinkel, wat opgedra word aan die ontslape liedjieskrywer en sanger Lucas Maree.

Vir Kennedy is dit moeilik om die enigmatiese Lucas in woorde op te som. “Ek hou van sy vibe,” sê Kennedy. “Hy was so ’n bietjie van ’n Zen-figuur. Volgens my is daar ’n redelike vriendelike eksistensialisme en empatie in sy liedjies wat steeds verfrissend is.”

Kennedy is ʼn selferkende aanhanger van Maree en in Fokofpolisiekar se jongste treffer, “Parkiebank Herfs 2017”, verwys Kennedy ook na een van Maree se lirieke uit die liedjie “Die weduwee se kruik”.

Kennedy skryf: “Ek lê op die gras en luister Lucas Maree/ Ek vermoed die hart werk soos die weduwee se kruik/ Haar hart is seer, want haar man is dood/ En ek kan dit op my vingers tel wat vir my belangrik is.”

Volgens Kennedy was dit nie vir hom ’n kognitiewe besluit om Maree se lirieke aan te haal nie. “Ek het wel al ’n paar keer in my lewe op die gras gelê en Lucas Maree geluister. Saam met Johannes Kerkorrel se Eet Kreef, is Lucas se Kiekies Konsert die enigste Afrikaanse albums wat ek in my adolessente vormingsjare geluister het.”

“Deur na daai liedjie en spesifiek daai versreël te verwys het ek aandag probeer trek na ’n moontlike verandering in generasies se emosionele kapasiteit weens politieke omstandighede, en wonder ek of my hart soos die weduwee se kruik sal werk as die mense wat vir my belangrik is, seergemaak word.”

Kennedy sal saam met Lize Beekman, Jannie du Toit, Anna Davel, Elvis Blue, Jaconell Mouton, Brandon October, Karin Hougaard, Nick Matzikis (The Academy of Sound Engineering), Stephen Hollis (kopiereg-regskundige van Adams & Adams), asook Coenie de Villiers die slypskool aanbied.

“My praatjie sal gaan oor die rol wat sosiale media in ’n kunstenaar se loopbaan speel,” sê hy. “Ek gaan seker Fokofpolisiekar se skarebefondsingprojek as ’n gevallestudie gebruik. Dan sal ek ons beplanning en bemarkingstrategieë bespreek. Elke deelnemer sal wegstap met die geraamte van ’n ‘cross-platform conversation’-plan wat hulle sal kan toepas op hul eie bemarkingsveldtogte.”

Die werkswinkel word van Vrydag 25 Mei tot Sondag 27 Mei by die Afrikaanse Hoër Seunskool se Musiekakademie in Pretoria aangebied.

Die koste per leerder beloop slegs R250 en verversings word ingesluit. Indien twee aande se koshuisverblyf by die kursusgeld bygereken word, gaan dit leerders net R500 uit die sak jaag. Leerders is verantwoordelik vir hul eie vervoer.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 2 Mei 2018. Daar is plek vir slegs 30 deelnemers by vanjaar se werkswinkel.

Die galageleentheid van die liedjiewerkswinkel, waar vanjaar se uitblinkers saam met Lize Beekman en Elvis Blue gaan optree, vind op 9 September in die Atterbury-teater in Pretoria plaas.

Besoek die ATKV se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.