Talle bekendes vanjaar verloof, getroud

Kupido het nie vanjaar op sy louere gerus nie en talle Suid-Afrikaanse bekendes het vanjaar die jawoord gegee en voor die kansel gestaan.

Verlowings

Die liefdesvlamme brand hoog in die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou se kraal. Die gewilde paartjie Willem Pool en Sanel Prinsloo, deelnemers aan die 12de seisoen van die reeks, het in Julie vanjaar verloof geraak op Willem se rooibosteeplaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap.

Kort daarna het Marciel Hopkins (26), aanbieder van die nuwe seisoen wat in Januarie op die kassie begin te sien is, aan Handré Lourens verloof geraak by die Twelve Apostles Hotel buite Kampsbaai in die Kaapse Skiereiland.

Handré (30) is ’n finansiële bestuurder van Kaapstad. Die paartjie is reeds vyf jaar lank in ʼn verhouding.

Intussen het Ilne Prinsloo, wat bekendheid verwerf het toe sy boer Graham Lombard van Cradock se hart gewen het, verloof geraak aan Wianco Blom. Ilne en Wianco is die afgelope paar maande ʼn paartjie.

Prinses Diana se broerskind Amelia Spencer (28) het in Julie vanjaar verloof geraak aan haar jare lange kêrel, Greg Mallett (30).

Mallett het op Instagram bevestig dat hy die jawoord gevra het by die Clouds-wynlandgoed buite Stellenbosch, met foto’s van hom en Spencer met ʼn ring aan haar vinger.

Volgens Tatler het Spencer en Mallett mekaar ontmoet toe hulle saam aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, nadat Spencer in Kaapstad grootgeword het.

Die gewilde Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore het vroeg in Desember vanjaar verloof geraak aan die beroepsmusikant Barthlo Visagie. Barthlo het die groot vraag gevra tydens Demi Lee se 31ste verjaardagviering in Melkbosstrand.

“Jy het my hele hart oorwin, met jou gawe natuur, jou sagte menswees en jou oorvloed van liefde vir my. Ek is onbeskryflik lief vir jou, my engel,” het Demi Lee ná hulle verlowing op Facebook geskryf.

Troues

Demi-Leigh en Tim Tebow as man en vrou. (Foto: Hanri Human/Instagram)

Die voormalige Suid-Afrikaanse Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters en die Amerikaanse bofbalspeler Tim Tebow is in Januarie getroud.

Dié nuus is deur die Amerikaanse vermaaktydskrif People bevestig. Foto’s van die nuwe egpaar is ook op Instagram gedeel. Volgens People het die paartjie op La Paris-landgoed in Franschhoek voor 260 gaste getrou.

Die Fynskrif-aktrise en “17 Shots”-sangeres Christia Visser sou in April vanjaar reeds voor die kansel staan, maar weens die Covid-19-pandemie het sy en Thomas Webb eers in Oktober trou aan mekaar beloof.

Haar liedjie “Kaal voor jou” het sy geskryf om op die paadjie na die kansel af te stap. Hierdie lied gaan daaroor om emosioneel kaal te wees, eerder as op fisieke wyse.

Katinka Oosthuizen, bekende sosialemediafoendi en aanbieder van die musiekprogram Klink soos naweek op VIA, en Braam Weyers is in Julie in Wildernis naby George in die Wes-Kaap getroud.

Oosthuizen en Weyers het die troue aanlyn vir kaartjiehouers beskikbaar gestel. Sowat 220 kaartjiehouers, sowel as uitgesoekte gaste wat die troue gratis bygewoon het, het regstreeks ingeskakel om deel van die egpaar se groot dag te wees.

Sy het ʼn klassieke, spierwit Anri Ham-skepping vir haar groot dag gekies. ʼn Handjievol gaste, wat die egpaar se ouers, haar twee broers en sy twee susters sowel as sy neef ingesluit het, was die enigste gaste wat die troue naby die Kaart van Afrika-uitkykpunt in Wildernis bygewoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.